Israel-reeks 11: Hooglied. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 5

Israel-reeks 11: Hooglied - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

kan vergemaklik.”

      “En Natani?”

      Marc se gesig het versag. “Natani het akademiese uitdagings. Hy is in ’n laerskool naby ons waar ons weet daar word goed na hom omgesien. Baie van sy skoolwerk is rondom kuns en drama gesentreer.”

      “Hy is ’n wonderlike kind, Marc. Dis of hy elke emosie van ’n ander persoon aanvoel. Hy is so tenger. Ek sou nooit dink hy is tien jaar oud nie – hy lyk meer na sewe …”

      “Ek weet. Simon, hy het al twee ernstige breinoperasies gehad en die moontlikheid van verdere kankerontwikkeling hang altyd soos ’n donker wolk oor ons.”

      “Sy artistieke vermoëns is absoluut buitengewoon.”

      “Ek weet …” het Marc weer gesê en weggekyk voor sy vriend se ondersoekende blik.

      By Simon kom hy egter nie so maklik verby nie. “En jy,” het hy volgehou, “wat van jou eie vermoëns? Steeds onder die Judaïsme begrawe?”

      “Nee,” het hy geantwoord en Simon reguit aangekyk. “Ek sal jou mettertyd laat sien.”

      Simon koop sy sigarette by die jong Jood van die winkeltjie op die plein wat hom nou al ken en die pakkie uithaal as hy Simon sien inkom.

      Toe hy oor die plein terugstap, kom hy rabbi Chaim teë. Dié is net op pad terug van die yeshiva waar hy les gee in die Ou Stad om sy vrou, wat Chaya gedurende die dag oppas, te gaan haal.

      Aangesien dit nog meer as ’n halfuur is voordat Rivkah van diens kom, nooi hy Simon vir koffie in die koffiewinkel onderkant die woonstel en oorkant Moshe Kempinski se winkel.

      Hul koffie is nog nie eens bedien nie toe Moshe hulle gewaar en aangestap kom en hom by hulle aansluit. Hulle gesels ’n ruk lank oor Simon se navorsing.

      “Ek is nou byna ’n maand hier,” sê Simon, “en ek het meer van hierdie landjie geleer as wat ek geweet het bestaan. Baie van my vrae het beantwoord geraak. Baie nie. Soos een bepaalde vraag …”

      “Wat die Palestynse vlugtelingprobleem veroorsaak het?” sê-vra Moshe voordat Simon sy sin kan klaarmaak.

      Hy kyk verbaas na Moshe. “Ja, eintlik is dit basies wat ek wou vra. Hoe het jy dit geweet?”

      Moshe lag. “Dis een van die dinge waaroor elke denkende vreemdeling ná ’n tyd wonder.”

      “Wel, ek was nou die dag in geselskap waar iemand die opmerking gemaak het dat die massiewe uittog van die Arabiere uit wat nou besette gebied is, nie as gevolg van Israel se uitdrywing was soos die PA beweer nie, maar die gevolg was van ’n strategiese besluit deur Arabiese leiers en die Arabiese leërs wat die Arabiere beveel het om pad te gee. Ek wou nie my opinie gee nie, want ek het nie ál die feite nie, maar dis mos nie waar nie?”

      Chaim en Moshe wissel ’n vinnige blik.

      “Dit is wel korrek, Shimón,” sê die rabbi versigtig, “en daar is genoeg getuienis daarvoor.”

      “Uit Israeliese bronne, neem ek aan.”

      Moshe skud sy kop. “Nee, daar is Arabiere wat jou dit ook kan vertel.”

      “Werklik?”

      “Ken. Ek kan jou hier in die Ou Stad, in die Arabiese shuks, aan ’n Arabiese vriend van my voorstel wat jou heelwat sal kan vertel.”

      “Ek sou dit graag van ’n Arabier self wou hoor. Verskoon my dat ek dit so stel, maar ek was tot nou toe net aan Israeli’s uitgelewer wat ek vind hulle eie narratief het. Verstaanbaar. Maar nie noodwendig die uiteindelike waarheid nie.”

      “Ek verstaan wat jy sê, Shimón, en ek verkwalik jou absoluut nie,” sê Moshe. “Maar wat hierdie Arabiere wat dit self nog beleef het, jou kan vertel, is vandag van kritieke belang. Miskien het jy dit nog nie te hore gekom nie, maar tienduisende Palestyne in die Gasastrook wat steeds as ‘vlugtelinge’ geklassifiseer word, is besig om hulle onder leiding van Hamas voor te berei vir gewelddadige demonstrasies genaamd The March of Return.”

      “Ek veronderstel dis gemik op die dag van die inwyding van die Amerikaanse ambassade in Jerusalem wat daardie clown van ’n Donald Trump goedgedink het om te organiseer,” sê Simon.

      Die twee Israeli’s bly ’n rukkie stil voordat Moshe keel skoonmaak en verder praat. “Hoe jy ook al oor die ambassade en Donald Trump voel, is jou saak …”

      “Maar hoe kan die stomme sot op aarde te midde van soveel ontploffings wat wag om na ’n kant toe oop te skiet, Jerusalem die hoofstad van ’n verdeelde land kom maak?”

      “Hy het dit nie die hoofstad kom maak nie, Shimón. Dit was duisende jare gelede al ons hoofstad.”

      Toe Simon rooi in die gesig sy asem vinnig intrek om die stelling aan te val, praat die rabbi rustig.

      “Maar jy wou eintlik weet van die Palestynse vlugtelingprobleem. Moshe sê hy kan jou aan ’n Arabier voorstel wat dit sal kan doen.”

      Simon laat sy asem stadig uit. “Wel, is dit moontlik, Moshe?”

      “Een oomblik,” sê Moshe. Hy trek sy selfoon uit sy hempsak en daar volg ’n kletterende gesprek in wat Simon reken Arabies moet wees, want hy kan hoor dis nie Hebreeus nie.

      “Ons tref dit gelukkig. Sy 96-jarige ma is daar by hom in die winkel en hy roep ook ’n vriend by.”

      “Ek sien. Ek neem aan hulle is almal Israeliese burgers.”

      “Jy neem reg aan. Ek sal net by Dov hoor of hy die winkel alleen kan beman. Ek het drie-uur weer ’n groep wat kom.”

      “Doen jy ook toere?” vra Simon ietwat boetvaardig oor sy effens vyandige aanslag.

      “Nee, ek doen nie toere nie. Maar ek gesels gedurig met Christen-toergroepe wat meer wil weet van hul Hebreeuse wortels. Ek kom nou.”

      “Moshe,” vertel die rabbi vir Simon terwyl hulle wag, “is eintlik ’n sielkundige, maar toe hy 20 jaar gelede uit Kanada aliya gemaak het, het hy en sy broer Shorashim, wat wortels beteken, geopen waar hy allerhande Judaica en boeke verkoop, maar hoofsaaklik ook doen wat hy nou net gesê het. Hy stuur boonop gereeld ’n nuusbrief uit oor alles wat veral in die Ou Stad aangaan. Dit gaan na honderde belangstellendes wat hom hier leer ken het. Hy is ’n goeie vriend van Marc.”

      “Aliya maak?” vra Simon.

      “Jode wat Israel toe immigreer van oor die hele wêreld. Dit beteken letterlik om ‘op te gaan’.”

      “Beseder.” Moshe is terug. “Jy gaan saam, Rabbi?”

      “Ek het ’n bietjie tyd.”

      Hulle gaan die druk, nou gangetjies van die Arabiese shuk binne en kort voor lank haal hulle Ahmed se smal, diep winkeltjie. Dit ruik voortreflik na die talle verskillende speserye en kruie wat hy verkoop.

      Moshe stel Simon aan hom voor en Ahmed is baie geïnteresseerd om te hoor hy kom uit Suid-Afrika. Op sy beurt stel hy hulle weer voor aan sy hoogs bejaarde

Скачать книгу