Mia. Mariska Robberts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Mia - Mariska Robberts страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Mia - Mariska Robberts

Скачать книгу

kamer kom met haar deurmekaar geslaapte hare nie? My liefste, liefste engeltjie. Mamma mis jou onuitspreeklik baie. Daar is dinge wat Mamma hier nog moet doen, en dis hoekom Jesus my nie saamgevat het nie. Hy het nog ’n paar draaitjies vir my in gedagte. Maar wag in ons huisie, my prinses. Mamma gaan ’n bietjie later kom.

      Vrydag 29 Maart 2013

      Op Goeie Vrydag is ons weer na die begrafnisondernemer in die Strand. Ek was baie dankbaar dat hulle bereid was om hulle kantore spesiaal vir ons oop te sluit. Dáár het ek my Mia Muis in ’n houtkissie met ’n metaalplaatjie (en ’n verkeerde sterfdatum) in my handsak gesit. Later die middag het ons dit saam met ons Bloemfontein toe geneem.

      Dit was gerusstellend om te weet sy is saam met ons op pad huis toe.

      Hoe vreemd wat skielik vir ’n mens noodsaaklik raak, het ek in een stadium gedink. ’n Kissie vol as in my handsak was vir my ’n eienaardige noodsaaklikheid.

      Grys

      _______________

      Grys is emosieloos en stomp.

      Dit heg aan niks of niemand nie.

      Grys behoort nêrens nie.

      Blomme voor die hek

      Toe ons voor ons huis in Bloemfontein stilhou, lê daar twee of drie bosse blomme voor ons hek op die gras, elk met ’n sakkie vol water daaraan vasgemaak. Dit was die eerste keer dat ek dié slim plan gesien het met blomme wat voor dooiemansdeur afgelewer moes word.

      Dooiemansdeur, dié keer letterlik.

      Ek onthou daardie eerste naweek terug by die huis as ’n tyd waarin mense gekom en gegaan het. Byna soos op ’n treinstasie.

      Ek het net op die bankie by die stasie gesit terwyl mense op en neer verby my geloop het. Party het vir ons goed gebring; ander het net stil of ongemaklik langs ons kom sit, en sommige het oor enigiets behalwe die dood gepraat.

      Voor ons deur het daar bosse en bosse blomme beland, so baie dat die bloemiste later gebel het om te sê sy gaan van die blomme terughou totdat die eerste besendings begin verlep. Mense het bakke en bakke kos afgelewer, lasagne natuurlik die groot gunsteling. Ek het traag aan die kos gehap. Dit het vir my gevoel ek wurg as ek eet.

      Ons twee worshonde, Mia se whoewhoes, wou in daardie eerste paar dae glad nie van my skoot afklim nie. As ek wel opgestaan het, was hulle altyd agter my. Lientjie en Dantjies was Mia se twee geskenke met haar tweede verjaarsdag.

      Dwalend het ek deur die eerste paar dae gekom. Op die eetkamertafel het ’n monument vir Mia begin vorm aanneem. As ek iets raakgesien het waarvan sy gehou het, het ek dit daar gaan neersit. Tussen die groeiende stapel van Mia se gunstelinggoed het ons ’n pienk kersie aangesteek. Dié kersie het dag en nag gebrand.

      Net soos ek alles van Mia eetkamertafel toe aangedra het, het die mense vir ons goed aangedra. Liewe Pauline het weer ons gesin bo haar eie gestel en die eerste naweek by ons gebly om te help opruim wanneer die gaste weg was. Almal wou help, maar niks het gehelp nie.

      Niks nie.

      Elke asemteug was pynlik. Ek het doodmoeg gaan slaap en doodmoeg opgestaan.

      Vandag kan ek dit eintlik maar net as ’n soort gevoelloosheid beskryf.

      In die eerste week van April 2013 skryf ek weer ’n brief aan myself. Of dalk aan Mia?

      Mia, ’skuus dat ek daardie laaste dag by tannie Charlene so kwaai en ongeduldig met jou was toe jy nie alleen wou gaan pieps het nie. Mamma was verkeerd. Ek was so gejaagd en wou net alles klaarkry voordat ons met vakansie gaan.

      Dankie vir al die kere wat jy Mamma se bussie opgevrolik het.

      Dit was so lekker wanneer jy jou boeties in ons bed weggestoei en ons jou ’n klein buffeltjie genoem het as jy so graag in my “ammie” wou lê.

      Saterdagoggende se laatslaap was so kosbaar vir Mamma, wat ook ’n ou laatslaper is.

      Ek mis jou gekoekte hare wat jy nooit wou uitkam nie. Jou kasdeure wat altyd oopgestaan het, dit mis ek ook.

      En nou onthou ek die dag toe Mamma vir Stéfan en Morné moes neem om identiteitsfoto’s te laat neem vir die skaakliga. Jy het ewe gaan regstaan sodat die tannie jou ook kon afneem. Daai foto is steeds in my beursie.

      Wanneer jy saam met my Pick n Pay toe gegaan en die eerste bakkie aarbeie opgeëet het nog voordat ons by die betaalpunt kon kom – dít mis ek ook.

      En, o ja, onthou jy die dag by On Tap, waar ’n mens alles vir die badkamer kry? Jy wou mos piepie in die toilet wat in die vertoonlokaal gestaan het.

      Daar is nog so baie onthou, Mia. Die pienk rokkies wat ek in Woolworths moes koop, en ’n pienk bolero-baadjie wat nogal konsternasie veroorsaak het in die winkel toe jy dit nie wou uittrek nie. En hoekom onthou ek nou ook dat jy so verskriklik honger kon word vir lekkergoed? Ek wens ek het nie een van die swak weggesteekte lekkergoedpapiere weggegooi nie.

      Ek skryf vir jou om te onthou. Om te onthou van Tangled, jou gunsteling-DVD, en van skelm middagslapies in jou worshonde se mandjie.

      Hoe sal ek nou tog ooit kan aangaan sonder jou in my lewe?

      ’n Pienk diens

      Om funksies te reël is een ding wat ek goed kan doen. Dit was immers jare lank my beroep. Maar ondervinding tel nie as jy jou eie kind se herinneringsdiens moet reël nie.

      Ek het tientalle oproepe gemaak, kwotasies gekry en dan skielik, so tussen al die reëlings deur, is ek gekonfronteer met die rede vir al die reëlings. Om te besluit watter foto’s ons in die blaadjie vir die kerkdiens sou gebruik, het my hart stukkie vir stukkie uit my liggaam geruk. Gelukkig was daar so baie oudkollegas en ’n klomp van my hartsvriendinne wat voorstelle gemaak het toe ek nie kon kies nie.

      My oudste suster, wat ’n paar jaar lank nie juis naby aan my was nie, was skielik langs my sy.

      My ma het stil-stil probeer om sterk te wees vir my, onseker probeer ondersteun waar sy kon, al was ook haar hart stukkend oor haar dogter én haar smart as ouma. ’n Ma bly ’n ma, ongeag hoe oud haar dogter is. Haar dogter se smart bly ook haar smart.

      Die diens was pienk. Van die blomme en die linne tot die lekkergoed vir al Mia se maatjies. Ons het selfs gevra dat mense wat die diens wou bywoon pienk sal dra.

      Die kleur van die dag was Mia se gunsteling, en ook die musiek moes haar musiek wees. Naas die lied “Until I’m home” van Nianell, wat ’n vriendin vir my voorgestel het, was al die ander musiek by die herinneringsdiens liedjies waarop sy en haar pa, haar mede-musiekliefhebber, gereeld gedans het. Op die speellys van Mia se pienk diens was “Patyn” (“Kaptein” van Kurt Darren), “Skumba” (“Skarumba” van Juanita du Plessis) en “Boetie en Sussie” (“Boerejol”, ook van Juanita du Plessis). Franché het vir hulle laaste dans selfs “I’m a Barbie girl” ingesluit.

      Tatta, my blom

      Dit was ’n Saterdagmiddag.

Скачать книгу