Soos honde van die hemel. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soos honde van die hemel - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 5

Soos honde van die hemel - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

sy binnesak.

      “Kan ek vir jou ’n borreltjie bring?” vra sy.

      Hy kyk na haar oor sy bril. “Dis darem nie nodig dat ek soveel misbruik maak nie.”

      “Wat drink jy? Bietjie brandwyn, whiskey?”

      “Whiskey sal lekker wees. Dankie, hoor. Dis alles erg vriendelik van jou.”

      Wanneer sy met die drankies en ’n paar blokkies kaas terugkom, sê hy: “As jy nie omgee nie, sal ek graag ’n paar fotokopieë hiervan ook wil maak.”

      “Plesier.”

      Hy kyk meteens ondersoekend na haar. “Waar werk jy eintlik? Ons praat die hele aand nog net oor my.”

      “Ek werk by ’n Rudolph Steiner-skool. Ek weet nie of jy weet …”

      “Ja! Vrije School in Nederland. Interessant. Maar jy lyk nie soos ’n egte Waldorfskool-onderwyseres nie.”

      Sy lag, neem die draadraambril op en druk dit oor haar neus en vat haar hare agter haar kop bymekaar. “Jy meen so?”

      Hy moet ook lag. “Ja, miskien. Maar ek mis jou vormlose rok en jou leersandale.”

      “Dié is in my kas,” stel sy hom gerus. “Bly jy hier in die stad?”

      Hy knik. “Maar ek soek ’n woonstelletjie of ’n kamer, want ek kan nie dáár lekker met ’n woordverwerker oor die weg kom nie.”

      Sy dink ’n oomblik na. Toe sê sy: “My seun se woonstelmaat is on­langs vir ses maande oorsee. As jy wil, kan ek hom vra …”

      Sy mond gaan effens oop. “Bedoel jy dit?”

      “Jazeker.”

      “Dis ’n Hollandse uitdrukking,” sê hy ingedagte.

      “Ja.”

      “Hy het ’n kamer in sy woonstel wat hy tydelik wil verhuur?”

      Sy knik. “Nie ’n wonderlike kamer nie, kleinerig en koud. Maar darem ’n plek tot jy iets beters kan kry.”

      Hy kyk haar ’n rukkie aan. “Jy ken my van geen kant af nie.”

      Haar wange word effens warm. “Mens ken maar selde ’n voor­nemende huurder van ’n kant af.”

      “Dis waar. Sal jy my sy telefoonnommer gee?”

      “Miskien moet ek self met hom praat.”

      “Soos jy wil.”

      “Hoe kom dit eintlik dat jy Afrikaans nog so goed praat?”

      “Ek het dit altyd bly lees. Tydskrifte, romans, alles wat ek in die hande kon kry. En ek het ’n vriend in Nederland, jare al, wat Afrikaans is. Hy het in die sestigs vir asiel gekom en nie weer teruggegaan nie.”

      Die klok slaan sy sestiennote-deuntjie en daarna tien dreunen­de slae en Ruud staan op. “Jy was baie vriendelik,” sê hy, “maar nou sal ek jou nie langer ophou nie.”

      Sy skud haar kop. “Jy het my nie opgehou nie.”

      Hy neem die bondel dokumente bymekaar. Die ou hond roer in sy mandjie. Nou kyk Ruud na die Kersboom. Hy sit die papiere weer op die bank neer.

      “Ek sal jou graag eers help om die boom klaar te maak.”

      Sy kyk verwonderd na hom. “Dis nie nodig nie.”

      “Ek weet. Maar ek sou tog graag wou. Ek weet nie wanneer ek dit laas gedoen het nie.”

      Sy staan ook op. Alexander kom dronkerig in sy mandjie orent en kyk blind in die rigting van haar stem. “As jy wil, is jy welkom,” sê sy.

      Twee

      Brief uit Suid-Afrika – April 1993

      Die noordewind het die hele nag stormagtig gewaai sodat ek ruste­loos geslaap het. Maar dit het nie tot reën gekom nie. Vroegmôre, voor die son uit was, was ek helder wakker sodat ek opgestaan het. Dit het stil geword buite, maar die rusteloosheid van die nag se wind was nog in my. Ek het gedink ek wil hawe toe ry en swart-en-wit foto’s neem van die ou geboue op die Waterfront as die son opkom. Eint­lik het ek nie geweet wat ek wou doen nie, maar ek kon nie in die woon­stel bly nie.

      Dit was net ná ses toe ek buite kom, en skerp koud. Die winter was onmiskenbaar in die lug. Ek kon die nat blare in die voortjies ruik. Terwyl ek deur die skemer stad ry om na die vroeë koerant te soek, was dit moeilik om te glo dat dié strate dae tevore tydens die demonstrasie-mars ná Chris Hani se sluipmoord ’n slagveld was.

      Nou in die heel vroeë môre was alles verraderlik vreedsaam – Adderleystraat en die St. George-wandelhal waar die woede oopgebars het. Vreemd ontroerend was dit in die dag wat net begin breek. Ek het dit half verleë genoem teenoor die koerantverkoper wat styf van die koue sy voete staan en stamp het. Die stad is mooi as die son net so opkom.

      Hy het onbewoë gelag: “Kannie self soe sê nie, meneer, hy lyk vi my ma elke môre enerster. Kyk hoe lê die villis en die pampiere van vinnag se storm dan.”

      “Maar daar is tog ook iets moois,” het ek hardnekkig probeer.

      “As meneer soe sê.”

      Toe ek met die koerant wegstap, het hy agter my aan gesê: “Meneer is sieker nie van hieso nie.”

      “Hoekom sê jy so?” het ek omgedraai en gevra, en gewonder of hy dit aan my aksent gehoor het.

      Hy het verleë gelyk asof hy nie daarop gereken het dat ek hom sou hoor nie. “Nie, ek dag ma as meneer die gemorste Woensdag hieso ge­sien het, sil meneer noeit wee dink dit lyk mooi hie nie.”

      “Wat dink jy nou gaan hier in die land gebeur?” het ek op die inge­wing van die oomblik gevra.

      Hy het sy oë vinnig laat sak. “Ek sillie kin sê nie, meneer.”

      “Maar jy is tog séker bly oor die nuwe Suid-Afrika wat kom?”

      Hy het teen die koerante geskop en nie opgekyk nie. “Nie as hy sóé gat lyk nie,” het hy gedemp gesê.

      Ek het skielik my entoesiasme om foto’s op die Waterfront te gaan neem, verloor, meteens net verlang na die vertroudheid van my kamer en ’n koppie koffie. Toe ek die koerant op die sitplek langs my in die motor neergooi, het my oog ’n paar reëls op die voorblad ge­vang:

      SIX DIE IN ZULULAND VIOLENCE

      FARMER DIES AFTER HOME IS PETROL-BOMBED

      HUNT AFTER HIGHWAY KILLINGS

      PLETT WOMAN, 82, STRANGLED

      CHURCHGOING COUPLE SHOT

      Die son was op toe ek terugry en die lug wonderbaarlik helder. Soos ek die Kaapse herfs uit my kinderdae kon onthou. Teen die muur voor die universiteit het die Virginiese klimop al rooi geword.

Скачать книгу