Kavod Adonai. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kavod Adonai - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 3

Kavod Adonai - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

begin Yhoshi huil. Marc skrik en tel hom vinnig op sy skoot. “Wat is dit, liefling?”

      Dit duur ’n rukkie voordat hy half onhoorbaar sê: “Jy gaan nie eens vir my verjaardag hier wees nie. Jy gaan ook weg.”

      Hy druk die kind vertroostend teen hom vas en besef dat Yhoshi nog nie al die vrees en onsekerheid van die vorige jaar afgeskud het nie. Hy onthou Yhoshi se woedeuitbarstings weens sy vrees dat hy of Rivkah kon weggaan.

      In Januarie 2010 het Rivkah saam met Israel se span paramedici ná die verwoestende aardbewing in Haïti gewerk. Sy het in ’n vreemde gemoedstoestand teruggekeer en Marc het nie kans gehad om vas te stel wat gebeur het nie, want ’n paar uur ná haar aankoms het hy Pole toe ver­trek vir die 65ste herdenking van die Auschwitz-Birkenau-bevryding. ’n Toer wat hy en Henok maande voor die Haïti-aardbewing bespreek het.

      Eers lank nadat hy weer by die huis was, het die oorsaak van haar kommerwekkende optrede aan die lig gekom. Sy het in Haïti te midde van die skokkende omstandighede seksueel betrokke geraak by ’n medeparamedikus. Hoewel dit kortstondig en eenmalig was, het dit ’n ontsettend emosionele uitwerking op hul huwelik gehad. Deur die loop van die jaar en met baie pyn het hulle dit egter leer verwerk en het hul verhouding eintlik inniger geword. Maar vanoggend besef hy opnuut watter nadelige uitwerking dit steeds op die kinders het. Al het hulle geen idee van wat gebeur het nie, moet hul ouers se optrede telkens die vrees by hulle wek dat een van die twee kan weggaan. Yhoshi sukkel duidelik nog daarmee, hoewel hy nie regtig weet wat hom pla nie.

      Die seuntjie het stil geraak, maar die gesiggie wat teen Marc se nek lê, is nog nat van die trane. “Yhoshi, ek is verskriklik jammer dat ek nie hier kan wees vir jou verjaardag nie, maar ek kan niks daaraan doen nie. Ons sal dit vier wanneer ek terugkom, dit belowe ek. Maar jy en Natani gaan mos lekker saam met Saba en Savta see toe.”

      ’n Snik ruk nog af en toe deur Yhoshi. “Ek wil nie hê jy moet weggaan nie. Nooit nie.”

      Marc vee die nat hare van sy voorkoppie weg en haal diep asem. Hy bid in sy hart dat Adonai hom die regte woorde in die mond sal lê. Hy bly die kind styf vashou.

      “Liefling, luister mooi na my. Abba en Imma sal nooit van jou af weggaan nie. Ook nie van mekaar af nie. Mense wat getroud is, kry soms probleme. Dit gebeur met alle mense. Maar wanneer ’n mens iemand regtig liefhet, help HaShem jou om mekaar weer te verstaan. En ek en Imma het mekaar baie lief, dit weet jy mos.”

      Yhoshi knik effens. “Maar jy gaan milu’im toe en dis soos oorlog en oorlog kan doodmaak. En Imma is ook al ’n keer in die ambulans amper doodgemaak.”

      Marc sluk. “Ek weet, skat, maar HaShem besluit oor lewe en dood, en dan sorg Hy vir jou. Dis iets anders as wanneer jy op jou eie besluit om weg te gaan van iemand af. Verstaan jy?”

      Die kind knik langsaam.

      “Yhoshi, Imma se werk is gevaarlik en oorlog is ook gevaarlik. Dit ís so. Ons land is gevaarlik.” Marc probeer magteloos om die regte woorde te vind. Om eerlik met die kind te wees maar hom nie verder angstig te maak nie.

      “Hoekom wil die Palestyne Yerushalayim hê?”

      “Yerushalayim is die stad wat HaShem sê syne is. Ons is die volk wat Hy sê Hy bo alle ander volke uitverkies het. Dis baie, baie moeilik vir mense wat nie Jode is nie om dit te verstaan, Yhoshi. Die Palestyne glo dis hul stad wat ons afgevat het.”

      “Hoekom het HaShem óns uitverkies? Is ons dan beter as al die ander mense?”

      “Nee, ons is nie beter as ander mense nie. Maar Adonai, baruch Hu, aan Wie die hele aarde en al die mense daarop behoort, het ons sý volk gemaak. Hy het ons die Tora gegee sodat ons ’n lig kan wees vir die nasies wat Hom nie ken nie. Moshe Rabeinu het vir b’nei Yisra’el die Halachah van HaShem gebring om te sê Hy het Israel gekies omdat Hy hulle liefhet, dat hulle sy am segulah is en omdat Hy die b’rit wat Hy met Avraham Avinu gemaak het, altyd sal hou.”

      “Wat beteken dit om ’n lig vir die nasies te wees?”

      “In die Tora leer HaShem ons wat die pad is wat Hy wil hê ’n mens moet loop. Ons moet die Tora lééf sodat die ander nasies aan ons manier van lewe die pad kan sien.”

      “Hoekom wil die mense ons dan doodmaak as ons ’n lig vir hulle wil wees?”

      “Mense wil nie hoor dat HaShem ’n spesiale volk uitverkies het nie. Baie, baie mense glo nie dat Adonai Elohim is en dat Hy Echad is nie.”

      “Dis die Sh’ma,” fluister Yhoshi.

      “Dis reg. Omdat mense HaShem nie kan bykom nie, Hom nie kan ‘gryp’ nie, vergryp hulle hulle aan sy volk. Aan ons. Wil hulle óns gryp. Kan jy dit ’n bietjie verstaan?”

      Yhoshi knik. “Maar hoekom wil hulle HaShem gryp?”

      Marc sug voordat hy hom kan keer. “Ag, mense wat Hom nie ken nie, wil nie weet dat daar Een is wat groter as hulle is nie. Een wat beheer oor hul lewe het … wat vir hulle sê hoe hulle moet lewe. Een aan Wie alle mag in die hemel en op aarde behoort.” Hy sug weer. “En ongelukkig is Israel baiekeer nie ’n lig vir die nasies nie.”

      Dis ’n rukkie stil tussen hulle voordat Marc weer praat. “Yhosh, meer as enigiets anders wil ek hê jy moet grootword met vrees vir Adonai. Nie ’n bang vrees nie, want Hy het jou lief, maar ’n vrees … ’n respek wat kom van weet dat Hy heilig is. En omdat jy deel van sy volk is, moet jy ook heilig lewe.”

      “Wat is heilig?”

      “Heilig beteken apart, afgesonder vir Hom; daarom het Hy aan ons die Tora gegee sodat ons sal weet hoe om te lewe.”

      “Shabbat is ook heilig.”

      “Presies. Dis ’n dag wat Adonai, baruch Hu, eenkant gesit het, anders as die ander dae. ’n Dag wat net aan Hom behoort. So is jy ook eenkant gesit, en jy moet so lewe. Yeshua het gekom en ons die Ruach HaKodesh gegee sodat ons heilig en volgens HaShem se Tora kan leef.”

      Hulle sit ’n rukkie in stilte en kyk na die Ortodokse wat oor die plein loop vir die Shacharit in die Hurvah-sinagoge.

      “Abba.”

      “Hmm?”

      “Hoekom het jy my nie gesê jy gaan vanaand milu’im toe nie?”

      Marc vryf Yhoshi se hand ingedagte. “Omdat dit vir my moeilik is om dit vir jou te sê,” antwoord hy eindelik. “Ek en Imma probeer julle van dié dinge weghou, maar dis nie maklik nie. Dit was verkeerd van my om jou nie te sê nie.”

      In die boom bokant hulle koer twee duiwe verlief. Die katte bekyk hulle berekenend.

      “Jy het nog nie gesê hoekom ons altyd moet oorlog maak nie.”

      Marc huiwer ’n oomblik voordat hy vra: “Wil jy hê ek moet jou soos ’n grootmens antwoord?”

      “Ken.”

      “Dan moet jy probeer verstaan soos ’n grootmens.”

      Die kind sit regop en kyk afwagtend na Marc. Hy knik.

      “Jy weet ek en Imma was albei soldate, Bibi is ’n soldaat. Dod Ofer is, Saba was. Jy ken ook baie, baie jong soldate. Watter soort mense is hulle?”

Скачать книгу