Kavod Adonai. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kavod Adonai - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 4

Kavod Adonai - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

is nes jy grootgemaak? Hulle is geleer om sensitief te wees, gevoelig. Die Tora leer ons om lief te hê en mekaar te respekteer. Om te gaan veg is beslis nie wat hulle die graagste wil doen nie. Hoekom dink jy het ons so baie universiteite en yeshivot? Omdat dit nou eenmaal in ons Joodse bloed is om te wil studeer. Dink jy nie die soldate vra ook altyd in hul harte en vir mekaar wat jy my nou gevra het nie: ‘Waarom moet ons altyd oorlog maak?’”

      Yhoshi woel sy lyfie stywer teen sy pa aan. “Ek dink so. Maar, Abba, oorlog is erg! So baie mense word doodgemaak. Dod David is ook in die oorlog dood.”

      Marc ril onwillekeurig. “Oorlog is altyd wreed. Het jy al van Tohar Neshek gehoor?”

      “Lo.”

      “Dit is die IDF (Israelse weermag) se leuse, kan ’n mens maar sê, en dit staan vir: Reinheid van wapens.”

      “Réinheid?”

      Marc knik. “Ek weet dit klink vreemd, maar dit beteken jy as soldaat het nie die reg om jou vyand met geweld te straf nie. Of oor jy hul land vir jou wil neem nie. Jy kan net veg om jou land en jou mense te verdedig.”

      Hy wonder moedeloos hoeveel die kind verstaan van wat hy probeer verduidelik. Hoeveel hy self verstaan.

      “Maar as ’n mens iemand doodskiet, dan is dit mos geweld.”

      “Ek weet. Maar hoe kan jy jou anders verdedig as jou vyand dreig om jou dood te maak?”

      “Bedoel jy ons soldate maak net dood as die vyand hulle wil doodmaak?”

      “Ja.” Maar so eenvoudig is dit nie, dink hy.

      Yhoshi kyk hom skerp aan. “Beteken dit ons soldate is nie so sleg soos ander soldate nie?”

      Marc moet glimlag. “Wel, nee. Maar dit is hoe die IDF ons leer dit moet wees. Dis soos ons in alle omstandighede probeer wees. Dis nie om na ons kop toe te gaan en te dink net ons is so wonderlik nie. As ons gedwing word om ons te verdedig, moet ons altyd onthou dat ons HaShem se volk is en dat die Tora ons hoogste wet is.”

      “Maar partykeer val ons aan nog voordat ons aangeval word.”

      So, dan snap jy dit ook al, dink Marc.

      “Ja, maar dan is dit omdat ons weet ons gaan aangeval word en ons probeer dit voorkom. Maar ook dan moet ons Tohar Neshek in gedagte hou.”

      Die kind dink daaroor na en vra toe: “Doen ons dit?”

      “Ek dink ek sal kan sê ja, byna sonder uitsondering. Moet ek jou vertel van wat ek eendag self gesien het wat vir my mooi was?”

      “Bevakasha!”

      “Wel, dit was met die oorlog in Libanon. Hulle het ’n gevangene na ’n tent gebring waar ek ook was. Ons moes hom oppas totdat die militêre polisie hom kon kom haal. Die offisier in bevel het vir hom kos en water gaan haal. Hy kon nie sy hande gebruik nie, want dit was agter sy rug vasgebind. Toe hou die offisier vir hom eers die plastiekbekertjie met water vas sodat hy kon drink. Toe voer hy hom sy kos. Weet jy, die man het begin huil en toe sê hy: ‘Allah yirda aleik.’”

      “Abba, maar dan het hy mos daai offisier geseën.”

      Marc moet hom weer verwonder. “Dis reg,” sê hy sag, “sy vyand het hom geseën. Dis waarom die Tora ons leer om so te veg. Yeshua het ook uit die Tora gepraat toe Hy gesê het ons moet ons vyande liefhê.”

      “Vertel my nog so ’n storie.”

      Marc dink ’n ruk voordat hy weer praat. “Dis nie heeltemal so ’n mooi storie nie, Yhosh.”

      “Ek wil dit hoor, Abba.”

      “Wel, dit was in ’n ander oorlog. My afdeling het ’n straat in Gasastad gepatrolleer in ’n skarebeheervoertuig. Daar was geweldig baie mense in die straat en steeds het meer bygekom.”

      ’n Woeste bende was aan die versamel. Uit die moskees het fanatiese aanbidders die strate ingestroom. In die skarebeheervoertuig het hulle besef die situasie kan te eniger tyd ontplof.

      “Ons bestuurder was ’n jong soldaat. Nog byna ’n kind, pas klaar met sy opleiding. Die offisier in bevel het bo-op die voertuig geklim om beter te kan sien wat aangaan.”

      “Dís gevaarlik!”

      Marc glimlag. “Vir seker. Toe ons by ’n moskee verbyry, word ons meteens van alle kante bestorm en heeltemal omsingel. Ons het dadelik besef dit sal die beste wees om so gou moontlik daar weg te kom. Terug basis toe.”

      Die skare het die voertuig heen en weer geskud. Dit was donker van dreigende mense rondom hulle. Besete mense. Al waaraan Marc kon dink, was die twee soldate wat in Ramallah van die pad afgeraak het en deur net so ’n woedende skare gelynch is. Hy het vurig gehoop hul bevelvoerder het genoeg ervaring om die situasie te beheers.

      “Skielik het ’n man agter teen die voertuig opgeklim en die offisier se geweer probeer gryp.”

      “Allah hu Akbar,” het die bebaarde man geskreeu toe hy agter opklouter. Marc het yskoud geword.

      “Die offisier het nie nog kans gehad om sy geweer op te lig en te skiet nie. Hy moes die man met die kolf van sy geweer van die voertuig afstamp. Tegelykertyd het ’n yslike klip wat iemand bo van die muur rondom die moskee afgegooi het, hom getref sodat hy geval en ’n sekonde of twee bewusteloos was. Klippe van alle groottes het op hom gereën.”

      Yhoshi kyk hom met groot oë aan. “Hoekom het die bestuurder nie begin ry nie?”

      Marc knik. “Toe hy bykom, het die offisier vir hom geskree: ‘Ry agteruit! Ry agteruit!’ Maar niks het gebeur nie. Toe eers het ons besef die kabel van die mikrofoon na die bestuurder is stukkend gegooi.”

      “Sjoe!” Yhoshi druk sy kop styf teen sy pa se bors.

      Dit was duidelik dat die skare opgesweep was en te eniger tyd sou aanval. Waar hy in die voertuig gesit het, kon Marc hulle hoor gil: “Allah hu Akbar! Allah Yixdac!” Die ritmiese krete het soos tromslae geklink. Marc was so angstig dat hy skaars kon asemhaal. Van die oproeriges het agter op die voertuig begin klim. Hulle gaan ons vandag hier doodmaak, het hy besef.

      “Die bestuurder was so geskok, hy was heeltemal verlam. Hy kon homself nie so ver kry om agteruit die skare in te ry nie.”

      Waar hy vasgekeer gesit het, was Marc ten spyte van die verstikkende angs bewus van die geweldige emosie wat in die skare aan die opwel was. Met ’n swaar hart het hy besef hoe moeilik die keuse vir die bevelvoerder was. Al manier waarop hulle lewend kon uitkom, was om onmiddellik so vinnig moontlik agteruit te ry, wat ongetwyfeld sou beteken dat mense beseer of selfs gedood sou word. Die alternatief was egter dat die hele afdeling daar gelynch word.

      “Wat het julle toe gedoen?”

      “Een van ons manne het ’n paar skote naby die bestuurder afgetrek om hom uit sy skok te ruk. Dit het gewerk en hy het vinnig agteruitgejaag.”

      Marc kon wilde krete hoor soos die oproeriges uiteenspat om pad te gee.

      “Het hy baie mense doodgery?”

      Marc skud sy kop. “Nee, ons kon

Скачать книгу