Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua страница 14
Dis waar, hy kan regtig nie besluit hoe hy oor haar voel nie. Die een oomblik maak sy wilde drange in hom wakker, drange wat nog al die jare sluimerend was, en net die volgende oomblik is sy weer onuitstaanbaar.
Rina se oë wyk nie ’n oomblik voor die edelman se skerp, deurdringende blik nie. Sy probeer die man se emosies in sy oë peil, maar hy is soos ’n geslote boek.
Die volgende oomblik kom hy waardig orent en gaan voor die venster staan, met sy hande diep in sy broeksakke geprop, kompleet asof hy hom met hierdie gebaar van ’n onbesonne daad probeer weerhou.
“Dis môre jou verjaardag, nè, Rina?” hoor sy die jong Carla met ’n vrolike stem sê. Sy kyk die jonger meisie aan en merk hoe die vreugde in haar bruin oë blink.
“Ja, dit sal maar ’n stil verjaardag wees, hier in die hospitaal. In elk geval, ek is vasbeslote om die hospitaal oormôre te verlaat.”
“Ek glo nie Alvaro sal jou oormôre al ontslaan nie, Rinakind,” val die ou marquesa haar besorg in die rede. “Jy sal nog gans te swak wees.”
“U het gelyk, señora, hy sal nie,” sê Rina met ’n alwyse glimlaggie. “Maar ek gaan myself ontslaan.”
“Wie gaan jou oormôre na die hotel vervoer, Rina? Alvaro?” vra Ada de Mora met vriendelike belangstelling.
“Señora, ek glo nie Alvaro sal tyd kry om my by die hotel te besorg nie. Hy is bedags ontsettend besig,” antwoord
Rina. “Ek sal hom maar vra om vir my ’n taxi te ontbied . . .”
“Jy doen niks van dié aard nie, Rina,” lê die marquesa haar ernstig die swye op. “Conzalo sal jou by die hotel besorg.”
“U is te goed vir my, señora,” stribbel Rina met ’n mooi glimlaggie teë. “Ek durf nie so dikwels van u vriendelikheid gebruik maak nie.”
“Vriendelikheid en menslikheid kos niks nie, Rina,” glimlag die ou dame. “Ons hou van jou en sal jou graag beter wil leer ken.”
“Ek glo nie u seun sal met u saamstem nie,” antwoord Rina met ’n glimlaggie en ’n ondeunde lig in haar oë. “Tot dusver het my gedrag hom nog net geskok. Maar dit is presies soos hy sê. Ek is ’n uitlander, gevolglik kan ’n mens niks beters van my verwag nie.”
Rina merk nie op hoe haar woorde ineens die jong edelman daar voor die venster laat verstyf nie, nog minder sien sy hoe hy omswaai en doelgerig op haar bed afstap. Sy is eers van sy lang, indrukwekkende gestalte bewus toe hy langs haar bed verskyn en met ’n onpersoonlike stem sê: “ ’n Mens kan altyd jou gedrag verbeter as jy maar net wil, señorita. Dit was nog altyd prysenswaardig as mense die goeie en edele dinge probeer nastreef.”
“Dit is makliker gesê as gedoen, señor,” antwoord Rina, nou behoorlik onnutsig, uitdagend en op haar stukke. “Sommige mense kry dit reg, ander nie. Dit hang natuurlik heelwat af van ’n mens se opvoeding en agtergrond, en ons uitlanders . . . Nou ja, aan ons is daar geen salf te smeer nie.”
“Ons kan gerus vir Rina se tuiskoms ’n partytjie in die castelo reël,” begin Marco.
Maar sy adellike neef maak hom dadelik stil deur met gesag te sê: “Ek vrees die señorita sal nog te swak wees om enige sosiale geleentheid by te woon, my liewe Marco.”
Hy jok nou, die duiwelskind, dink Rina met ’n geamuseerde vonkeling in haar oë. Hy probeer opsetlik keer dat sy nie ’n voet in sy castelo sit nie. Natuurlik bevrees dat haar kleredrag hulle in die verleentheid sal bring . . . Ja-nee, dis nooit anders nie.
“Jou neef het heeltemal gelyk, Marco. Ek sal beslis nie sterk genoeg wees om ’n partytjie by te woon nie,” sê sy.
“Maar ons moet vir jou ’n partytjie reël voor jou vertrek na Oporto, Rina,” hou Carla vol. “Ons kan jou mos nie sommerso laat gaan sonder om jou eers beter te leer ken nie!”
“Nadat ek die hospitaal verlaat het, sal ek nog ’n volle week hier in Lissabon vertoef, Carla. Julle is welkom om my elke dag te besoek. Ons kan elke dag op ’n verkenningstog gaan en die stad besigtig. Maar ek vrees my motor is ’n sportmotor en kan slegs aan drie mense sitplek verskaf.”
“Jy is dus vasbeslote om volgende week te vertrek, Rina?” sê-vra die marquesa.
Rina is bewus van die teleurstelling in haar stem, maar antwoord nietemin bedaard: “Ja, maar ek sal volgende naweek weer in Lissabon wees. Ek vertrek volgende Woensdag na Sintra en Estoril, maar sal stellig die Saterdag weer terug wees. Ek het Alvaro belowe dat ek daardie Saterdagaand saam met hom sal gaan dans en ook die volgende dag saam met hom en sy ma in hul villa sal verwyl. Ek sal dus óf die dag daarna vertrek, óf moontlik nog ’n week hier in Lissabon vertoef. Hierdie ongesteldheid van my het nou my reisplan ietwat omvergegooi.”
“Ek dink dit sal ’n goeie ding wees as jy nog ’n week in Lissabon vertoef, Rina, pequena,” kom dit besorg van die marquesa. “Dit sal jou ten minste die geleentheid gee om behoorlik aan te sterk.”
“Ek sal nog later finaal daaroor besluit, señora,” is egter al wat Rina sê.
Hulle gesels nog ’n halfuur, dan groet en vertrek haar gaste.
Die res van die dag ontspan Rina min of meer in ’n droomlose slaap. Na aandete is sy amper weer aan die slaap, toe Alvaro en sy ma haar kamer binnetree.
“Hoe lyk dit vir my of Conzalo se besoek jou al weer op my gevaarlys geplaas het, Rina?” groet Alvaro haar.
Rina groet die ou dame vriendelik en beantwoord Alvaro se vraag ewe lighartig.
“O nee, ek sal hom nooit daardie genot verskaf nie, wees verseker daarvan. Ek steur my glad nie aan sy preke nie.”
“Ek hoor jy wil oormôre die hospitaal verlaat,” sê hy ernstig.
“Ek het geen ander keuse nie, ek moet my motor by die doeane gaan haal. En moenie jy jou nou ook staan en snaaks hou soos jou adellike neef nie, Alvaro, want dan gaan ek baie kwaad word. En ek waarsku jou, ek is ’n vuurvreter as ek die joos in is.”
“My liewe Rina, of jy nou kwaad word of nie, ek kan jou nie oormôre al ontslaan nie,” begin Alvaro.
Maar Rina lê hom dadelik die swye op. “Jy het nie nodig om my te ontslaan nie, Alvaro.”
“Wat op aarde bedoel jy nou?” vra hy ietwat verward.
“Dis baie eenvoudig, my liewe dokter, ek ontslaan myself,” glimlag sy. “Ek verlaat die hospitaal op eie risiko.”
“Wel, ek kan jou nie belet nie,” kom dit ernstig van hom, “maar ek sal meer gerus voel as jy hier bly totdat jy volkome aangesterk het.”
“Moenie vrees nie, Alvaro,” stel sy hom dadelik gerus. “Ek sal my ’n volle week baie stil gedra. Jy kan elke middag kom inloer en jouself oortuig.”
“Rina-kind,” sê die ou dame, “ek het vir jou die rokkie kom wys wat ek korter gemaak het.”
Rina is in die wolke. Sy bedank haar hartlik vir haar moeite. Daarna kies sy die bykomstighede wat sy oormôre wil dra. Die ou dame