Omega, oor en uit. Francois Verster
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Omega, oor en uit - Francois Verster страница
FRANÇOIS VERSTER
TAFELBERG
Hierdie boek word opgedra aan elke troep wat diensplig as plig ervaar het.
“Wat het eerste gekom, wat daarna? … Ek moet erken dat ek ’n probleem het met tyd: baie dinge wat begin het en geeïndig het, het nie presies by my geregistreer tot lank daarna nie. Hoe ouer ek word, hoe minder stabiel raak daardie kruk, chronologie.”
– Günther Grass, skrywer en beeldende kunstenaar
“Onthou is nie ’n historiese daad nie, maar ’n resultaat van die geheue, wat inherent korrup is.”
– Mary Karr, digter
“Miskien, ironies, is die gemene deler tussen Suid-Afrikaners en Duitsers … die gedeelde ervaring van afsonderlikheid, van ontheemding, vervreemd van sekerheid en samehorigheid.”
– Etienne van Heerden, skrywer en akademikus
Skrywersnota
Hierdie boek verteenwoordig die perspektief van een ouddienspligtige en nie van alle dienspligtiges of staandemaglede wat gedurende die Grensoorlog (1966-1989) in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien het nie. Om hierdie rede is die name van sekere mense verander, want dit is nie my bedoeling om enige individu te na te kom nie.
Woordelys
AK47: Russiese ligte aanvalsgeweer waarmee Swapo toegerus was, 7.62 kaliber
Civvie: burgerlike
Civvies: burgerdrag
HK: hoofkwartier
Kamper: iemand wat weermagkampe gedoen het as deel van sy voortgesette diensplig
PF: permanent force – gebruik om na ’n staandemaglid te verwys
Pips: kentekens wat ’n offisier se rang aangedui het
R1: SAW-aanvalsgeweer, gebaseer op die Belgiese FN, 7,62 kaliber
R4: SAW-aanvalsgeweer, gebaseer op die Israeliese Galil, 5,56 kaliber
Recce: lid van die Verkenningsregiment
RSM: regiment-sersant-majoor (hoogste onderoffisiersrang op Omega)
SAKK: Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps
SAMIL: SAW-vragmotor (verskillende groottes, bv. SAMIL 20; 50; 100)
SAW: Suid-Afrikaanse Weermag
SAWI: SA Weermagindustrie, die weermag se algemene handelaar
Suidwes: Suidwes-Afrika, sedert onafhanklikwording in 1990 Namibië
Swapo: South West African People’s Organisation
Unimog: twee-ton-viertrekvoertuig, onder meer as ambulans gebruik
VTB: vryetydsbesteding, ’n wegbreek-kamp, gewoonlik elke drie maande aan dienspligtiges toegeken
Hoofstuk Een
Herfs 2014
’n Gedonder ruk hom orent. Hy druk sy skouers vas teen die koppenent en kyk vervaard in die kamer rond.
Hulle het my kom haal, dink Frans.
Dit duur ’n sekonde of twee voordat hy besef dis net onweer – ongewoon vir die Kaapse Skiereiland. Ondanks die bedompigheid kry Frans koud. Hy staan stadig op, soek met sy tone na sy pantoffels op die koel teëlvloer. Sy vrou, Charlene, slaap vas, soos altyd. Hy slof klappertand na die studeerkamer en gaan sit by die groot ou lessenaar, streel oor die geoliede blad.
Dis altyd dieselfde droom: Die PF’s kom hom haal. Die oorlog is toe nié oor nie. Daar staan ’n SAMIL in die straat voor sy huis, kolossaal soos ’n oorlogskip in ’n vyandelike hawe. Iemand in ’n groot weermagjas klim uit en loop tot by die voordeur. Daar pluk hy die jas af en staan net in ’n pers nagrok. Skielik verander die man se gesig en hy word ’n bekende, gewoonlik sy ou kameraad Skroppie. Hy wys dan na Frans en skreeu: “Die SAW wil jóú hê!”
Dis waar die onthutsende droom eindig.
Hy trek ’n verslete foto-album uit die rak en adem die geur van gister in. As argivaris weet hy papier is steeds die beste bewaarder van die verlede. Dis geduldig en dis duursaam. Nes mense, soek papier net simpatieke behandeling.
Buite rammel die donderweer weer – dis ’n kakofonie, die litanie van die natuur. Hier in Brackenfell hoor ’n mens soms kraaie. Uile ook, dink hy, soos destyds in die bos. Maar meestal is dit net die brakke wat al harder kef wanneer dit tyd raak dat hul base van die werk af moet kom. Praat van ’n litanie.
Buite begin die dag rooi breek. Soos die sonsondergange van Suidwes wat so verstommend mooi kon wees voordat die donkerte met sy verskrikkings toesak. Wanneer hiënas, dié in kolletjiespelse, maar ook dié in uniform, losgelaat is.
Frans hoor die ou bakkie voordat hy hom sien. Dis die man wat Die Burger kom aflewer. Die posbus se deksel klap en dan sidder die ou Datsun weer voort. Hy loop vinnig na buite en trek die opgevoude koerant uit die posbus.
Soos gewoonlik lees hy eers die sportgedeelte met aandag, blaai verby die sakenuus en glimlag oor die spotprent. Vandag gaan dit oor die ANC se magsbeheptheid.
In die briewekolom pleit ’n leser vir groter erkenning en begrip vir ouddienspligtiges. Daar is van hulle verwag om hul lewe vir hul land op te offer, nie vir die regering van die dag nie, skryf hy. Apartheid was nie in hul gedagtes toe hulle as skoolseuns ’n dokument onderteken het wat hulle tot twee jaar se militêre verpligtinge verbind het nie. Wat moes hulle doen, vra die briefskrywer, eerder tronk toe gaan? Hul volk verraai? As lafaards verwerp word?
Dit was die jare van die Koue Oorlog en die Rooi Gevaar. Die politici het sy generasie uitverkoop ter wille van ’n waardelose Grondwet en ’n falende staat, kla hy.
Die oorlog wil maar net nie weggaan nie, dink Frans. Nuwe boeke oor die Grensoorlog verskyn gereeld. Oor die jare het hy heelparty boeke daaroor gekoop.
Sy boekrak is ook vol boeke oor die Anglo-Boereoorlog, die twee wêreldoorloë, die Viëtnam-oorlog, die Koreaanse oorlog … die Koue Oorlog. Daar is ook boeke oor hoe om memoires te skryf.
In een van die lessenaar se laaie lê sy eie Grensoorlog-verhaal. Hy het dit geskryf tien jaar ná die oorlog se einde in 1989.