Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit страница 27

Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit

Скачать книгу

sal graag kyk. Net een probleem, waar kyk ek solank jy uittrek?” Dis weer eens nogal snaaks, en almal lag, ook Arno wat klaar geswem het en druipnat oor die klippe aangehop kom.

      Ingetoë vertel Leen Thirion dat sy in haar jong dae ’n goeie swemmer was, en word van alle kante geterg: “Wys ons, Ma.” En Boel voeg by: “Toe, ta’ Leen, swem bietjie vir ons brakkie.”

      “Maar Nelis, jy het mos ook …” begin Reinet, maar hy praat bo-oor: “Volgende keer bring ek en jy wors uit die slaghuis saam, dan braai ons.”

      Dit kos nie veel om haar aandag te verplaas nie, en sy wend haar opgetoë tot die wal veelkleurige spoelklippies wat ’n ent verder opgehoop lê. Sy leen Arno se sweetgevlekte hoed en in die bol versamel sy wat, volgens haar, egte tieroë en agate is. “Nou-nou sommer edelstene ook,” spot Boel terwyl hy vir haar ’n ekstra hol ding soek, want “’n man se hoed is sy hoed”.

      Hy mik na Nida se strooihoed wat eenkant lê. Sy soek kastig rond na ’n klip om hom mee te gooi, maar hy gryp haar pols vas. “Toe, kyk of jy kan loskom.” Sy sit haar nie teë nie en dit word ’n bykans teer oomblik, wat Nelis laat wegkyk. Die groot, bruin hand wat haar fyner, bleker gewrig vashou, is op ’n manier aangrypend.

      Reinet, met kapsel en grimering op die afdraande pad sodat daar sproetjies en vlekkies op haar vel wys, word nietemin met haar opgewektheid die katalisator wat bestaande vetes en onsekerhede verlig. Ja, veral ook oor die laagwater wat dreig om staanwater te word. Wat raak dit haar? Sy kom uit ’n ander agtergrond, waar daar ’n maandelikse inkomste is. Nelis kan nie anders nie as om te dink: Nida is die stil kuil, Reinet die watervalletjie.

      Almal is versadig van vars lug, hoewel versigtig vir die son. Nelis wonder terloops hoekom “ou Bella”, die moeder vir wie Boel dan glo so lief is, nie ook opgepik is nie. Hulle het by die Meyers se afdraaipaadjie naby die huis verbygery en sy sou hulle deur ’n venster kon dophou. Hy is nogal nuuskierig oor haar. Maar hy ag dit die beste om nie uit te vra nie.

      Dis dan ook sy ma wat op Boel se lippe is toe hulle teen drie-uur, net oor die ergste hitte, uit die kloof uit terugry. “Gooi my sommer hier af,” beveel hy vir Arno toe hulle regoor die werfpaadjie kom. “Ou Bella sit al heeldag alleen.” Niemand rep ’n verdere woord oor haar afwesigheid nie.

      Hulle treusel by die Thirions se huis rond, nuttig koffie met beskuit, met Leen wat haar mopperend kwel omdat daar nie middagete was nie. Daar is gelukkig koue, gaar groenmielies. Almal soek ’n skaduweeplekkie om skuins te lê. Reinet se fut is uit. Natuurlik kon ek haar sê, dink Nelis, dat alles hier nie altyd vrolik is nie. Hier is trouens selde vrolikheid.

      Hy vermoed dat dit sy eie gemoed is wat donker geraak en die ander aangesteek het. Dis nie net ’n geval van die outydse “na vrolikheid kom olikheid” nie. Dis skielike wroeging omdat hy die water so geniet het. Wat het hy dan gedink? Dis tyd dat hy vrede met die waarheid maak: dat hy Banie se dood kon voorkom het, en dat dit niks met die vloedspruit te doen gehad het nie. Dis die ou-ou kwelgedagte wat nooit rus of sluimer nie.

      Daar was die hele dag lank niks wat hom afskrik nie. Hy sou dieper as Arno geduik het as hy met kleredrag beter toegerus was. Daar was geen Banie Hougaard, geen BH of sy vrou nie. Dit sal dan seker die uiteinde van alles wees: dat hy salig vergeet, terwyl twee ouers aanhou met treur, na jare klein en oud word onder ’n verdriet wat nooit skietgee nie. Dit is die dieper gevaar wat hy tot dusver nie raakgesien het in sy soeke na ’n antwoord nie.

      Toe die son sy woede verloor en soos ’n sagte rooi bal na die omringende rantjies afsak, vat hy Reinet terug. Sy stilte steek haar aan terwyl hulle met die sinkplaatpad dorp toe ry, ’n dik stofwors agter die motor aan. Hy het uitgevind dat trekkerspore ’n voertuig vreemd kan laat dril, en dat dit nogal help om heen en weer, half saagtand te ry. Daar is immers geen ander verkeer nie. Toe Reinet die hoeveelste keer “Pasop” sê en oplaas byvoeg: “Jy ry soos ’n dronk mens,” antwoord hy geraak: “Was ek maar dronk, dan kon ek vergeet.”

      “Wat vergeet? Van my?” Sy is iesegrimmig.

      “Nee. Maar dink jy ek doen dit uit lawwigheid? Dit help dat die kar nie uitmekaar dril nie.”

      “O, askies dan. Ek wonder wat my pa van daardie teorie sal dink.”

      “Jou pa het teerpaaie. En hy het ernstiger dinge om aan te dink.”

      “Soos wat?”

      “Soos jy. En ek,” voeg hy billikheidshalwe by.

      “Dis daardie klomp wat jou so nors maak.” Sy dink ’n rukkie na en voeg by: “Ook maar lekker eenvoudig.”

      “Jy was darem alte vrolik tussen die eenvoudige klomp. Flikkers gegooi dat dit bars.”

      “Ek? Vir daardie twee rivierdiere?” Dan besef sy dat sy te ver gegaan het. “Nee, hulle is eintlik oukei. Vir party soorte vroumense dalk aantreklik.”

      Nida is dan seker so ’n “soort vroumens”. Hy besluit om nie die diskussie wat op ’n rusie wil uitloop verder te voer nie.

      Sy is teleurgesteld toe hy haar bloot wil aflaai en direk terugry. “Dit was eintlik óns dag, waarvoor ek skof uitgeruil het. En toe is ons nooit alleen nie,” verwyt sy. “Dis nog ure voor ek aan diens moet gaan. En dis Saterdag.” Sy is weer vriendelik, haar ou self.

      “Ek dink die son het my gevang,” is sy flou verskoning.

      “Eet dan saam met my, die hotelletjie se kos is nie so sleg nie.”

      “Wie sê dit is? Maar my kos daar bo word ook gebêre, en dit sal ’n affront wees as ek glad nie opdaag nie.”

      “O, assebliéf,” wip sy haar. Die blomrokkie is gekreukel en haar arms en bene het rooi gebrand, selfs onder die bome se skaduwee. “Bokvleis en brood, seker. As die piekniek van koeldrank en winkelkoekies was …”

      “Waaraan jy lekker saam gesmul het. Ek dog ons het die gesprek oor hulle afgesluit.” Hy is grimmig. “Moes jy weer begin? Hulle leef eenvoudig, ja. Is dit ’n sonde?”

      “Loop dan in jou verstand na hulle toe. En let op na wat ek jou sê: daardie Nida met haar sedige gesig soos ’n non, ek vertrou haar nie naby jou nie.”

      “Reinet, as jy op haar jaloers is, is dit jou probleem, nie myne nie. Ek kom liewer weer as ons nie so tam en ontstem is nie. Gaan maak jou mooi vir die skakelbord.”

      “Dit sal ek ook doen, hoor jy.”

      “Onthou jou klippies.” Boel het uiteindelik vir haar ’n geroeste blik in die vlakwater gevind.

      “Ek skaam my as ek met ’n ou blik hier moet instap.”

      “Draai dit in die reisdeken toe,” smaal hy.

      “Hou eers die goed by jou.” Sy klim uit, swaai vermakerig haar heupe op pad na die losieshuis se oop voordeur. Hy kan van hier af die waaier in die portaalplafon sien draai, stadig wentelend, ongehaas soos die waterwiele wat as besienswaardighede nog hier en daar te vinde is. Toe die sementvoor nog van grond was, was daar by die Thirions se bruggie glo ook so ’n waterwiel. Maar die pompe het dit onnodig kom maak.

      Hy dwing sy gedagtes terug na Reinet. Sy hou haar so wipstert, maar hy sien hoe verslae haar skouers lyk, die geronde knoppe rooi gebrand. Hy is besig om ’n goeie, gewone, opgewekte meisietjie diep ongelukkig te maak. En dit terwyl sy vir hom omgee en tot dusver niks ontsien het om dit te wys nie.

      Bedremmeld

Скачать книгу