Lojale verset. N.P. Van Wyk Louw

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lojale verset - N.P. Van Wyk Louw страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Lojale verset - N.P. Van Wyk Louw

Скачать книгу

section>

      

      N.P. van Wyk Louw

      LOJALE VERSET

      Kritiese Gedagtes

      oor ons Afrikaanse

      Kultuurstrewe

      en ons

      Literêre Beweging

      Tafelberg

      Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as

      getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n

      rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat

      ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.

      Suid-Afrika as ou land

      Ons noem Suid-Afrika dikwels ’n “jong” land en praat van sy kultuur as “jonk”. Ons dink dan daaraan dat ons volk nog nie 300 jaar lank bestaan nie, naas die ouer volke met hul duisend of tweeduisend jare. Maar daar is min van ons segswyses wat meer verkeerd is. Is ’n beter beeld van die openbare aspek van ons kulturele en geestelike lewe nie dié van ’n gesette, middeljarige man wat reeds van alle dinge in die hemel en op aarde seker is en niks meer verlang as sy sekerheid en rus nie, wat gematigd wil lewe, “want alle opwinding is sleg vir die spysvertering en vir die hart …”?

      Ons hele wyse van praat het al middeljarig geword. (Die siek wortel van ons prosastyl?) As mens by ons ’n persoon “gematigd” noem, gee jy hom die hoogste eretitel, en “ekstremis” is ’n skelwoord. Die kompromis en die middeweg is miskien in sosiale sake die enigste oplossing, maar in die intellektuele lewe is dit die teken van die vervetting van die middeljarige.

      Daar is dinge by ons wat kook, klein groepies en eensame jongmense wat rusteloos te midde van die rus is, en daar is ’n groot stom deel van ons volk vir wie swaarkry en onsekerheid elke dag se kos is; maar die openbare, die amptelike kulturele en literêre lewe is swaarlywig, rustig en gerus.

      Die denkfout dat lande, of liewer kulture en literature, “jonk” of “oud” is, berus, soos baie ander denkfoute, op beeldspraak, op literêre vergelyking wat later die plek van die waarheid inneem – die vergelyking van die lewe van ’n volk met dié van ’n mens wat jeug, rypheid, ouderdom en dood in ’n vaste volgorde het.

      Die hele vergelyking is verkeerd. Dit het waarskynlik in die tydperk ontstaan toe die historiese wetenskap nog onontwikkeld was en die historici hulle blindgestaar het op die verskynsel van die kwansuise opkoms, bloei en verval van die Griekse en Romeinse beskawings. Vandag kan ons dinge nie so naïef verklaar nie. Ons sien selfs die geskiedenis van die “klassieke” beskawings nie meer binne so ’n eenvoudige skema nie. Die Hellenisme en die laat-Romeinse Ryk is nie meer vir ons eenvoudig “dekadent” nie, of liewer, “dekadensie” is nie meer vir ons so ’n eenvoudige begrip nie. Geen beeld wat uit die lewe van ’n mens geneem is, is toereikend om die kleurvolle warreling van die geskiedenis – selfs van die paar duisend jaar wat ons ken – uit te druk nie. Af en toe kan daar ’n volk of ’n kultuur wees wat “opkom, bloei en vergaan”; maar ’n volk kan ook baie jeugde hê, en lande soos Italië of Ierland, van die oudste beskawings van Europa, kan bloedjonk wees, wanneer Suid-Afrika, met sy driehonderdjarige geskiedenis as blanke staat, ’n middeljarige geesteslewe toon.

      Alles is by ons gevestig, en oral sien ons ou, gevestigde manne aan die hoof. ’n Mens kan maar na elke gebied van die volkslewe kyk – oral is dit dieselfde.

      Dertig jaar gelede was ons ’n nasie van jongmense. Op elke draai was daar jongmense wat gelei het, in die politiek: die jong kwaai nasionaliste, die jong generaals van die oorlog; in die taalstryd: die jonger kwaaieres. Miskien was dit so omdat ons net pas uit ’n oorlog gekom het waarin die jeug altyd sy heersersreg toon. Maar bowenal was ons volk toe ’n revolusionêre volk, ’n volk wat net ná ’n oorlog wat hy verloor het, gereed was om al sy regte stormenderhand te verower. Veertien jaar ná daardie vernietigende oorlog sou hy weer ’n opstand maak, en skaars agt jaar dáárna ’n tweede. Maar bowenal het hy sy taal soos ’n pragtige nuwe wapen in sy hand gevoel, en sy taalstryd was die ware derde vryheidsoorlog; hy moes en hy wou ’n literatuur maak, ’n hele nuwe beskawing opbou; en hy het ingesien dat die wêreld vir ons so heerlik is omdat daar by ons nog alles was om te doen.

      Maar dit het met ons gegaan soos met alle revolusies – die bereik van die onmiddellike doel (wat altyd te naby gestel word) het die konserwatisme meegebring.

      ’n Mens kan jou voorstel hoe die ou manne van die Terreur wat onder Napoleon lank weer konserwatief was, aan hul kinders van die “kwaai dae” van vroeër vertel het en met elke fyn Franse waai van die hand weer ’n kop onder die guillotine laat val het. En luister dan maar na ’n toespraak van een van ons ouer kultuurleiers: gewoonlik ’n man wat geen begrip meer het van die nuwe dinge wat in ons kultuur aan die gang is nie. Let op hoe hy weer die gevegte van dertig jaar gelede deurveg, hoe hy soos ’n mank ou soldaat “shoulders his crutch and shows how fights were won”, dieselfde ou leuses vir dieselfde probleme het; tot dieselfde aanhalings uit dieselfde digters.

      Eers het ons geen Afrikaanse literatuur of “kultuur” gehad nie, geen koerante- en tydskrifwêreld nie, geen klaar-gemaakte kultuurmenings nie; vandag het ons hulle almal, amptelik en met hoofletters vooraan. En ons is só bly oor wat ons bereik het, oor die paar mooi, jong dinge wat ons gemaak het, dat ons hulle met alle mag onveranderd wil behou, dat ons skaars kritiek en uitbou daaraan wil toelaat – en dus die bron van die geestelike lewe toestop waaruit juis daardie dinge gekom het.

      Ons het vir ons ’n onveranderlike “kultuur” en ’n “literatuur” gemaak; ek skryf die woorde telkens tussen aanhalingstekens omdat albei wesenlik dinge is wat vreemd teenoor die amptelike lewe staan, dinge wat groei en verander – maar ons het daarvan vaste dinge gemaak wat ons nou deur staat, skool, universiteit en ander organisasies kan propageer.

      So het ons dan ons “jong” kultuur vandag met die jongmense van veertig jaar gelede aan die hoof daarvan. Hierdie toestand is nogal voordelig. Die “jonkheid” van die kultuur kan as gedurige apologie vir minderwaardige werk gebruik word; en dat hoofsaaklik oumense die leiding gee, beteken dat die idees van veertig, vyftig jaar gelede by ons gangbaar en heersend is. Hierdie idees is nie jonk genoeg om strydbaar te wees nie en nog nie oud genoeg om vir ewige waarhede aangesien te word nie. (Daarvoor moet ’n idee minstens honderd jaar oud wees.)

      Ek bekyk hier maar net een kultuurgebied noukeuriger: die literatuur. Dertig jaar gelede het ons ’n wordende en revolusionêre literatuur in Suid-Afrika gehad. (Ons van vandag kan ons beswaarlik die gevoelens van mense verbeel wat destyds vir die eerste keer werklike mooi dinge in die versmade “kombuistaal” van die verowerde volkie leer ken het.) Hierdie literatuur het die kans gekry om die volk te bereik omdat die “kultuurleiers” hulle nog nie tussen die twee kom indring het nie. Maar vandag het ons ’n aantal klein klassieke in die literatuur en die ander kunste (die Langenhoven-Leipoldt-Pierneef-wêreldbeeld kan ’n mens dit maar noem), ’n literatuur en ’n kuns wat “vasstaan”, wat ’n mens eenmaal op skool as mooi leer ken het, en wat nou nog alleen vereer durf word. Vir die kunstenaar se eie geesteslewe is dit gevaarlik as die kultuurorganiseerders hom in die hande kry en êrens op ’n voetstuk plaas tot lering van die volk; maar vir die volk self is dit die gevaarlikste as hy te vroeg sy vaste, amptelike kuns, sy “klassieke”, kry.

      Dit is moeilik vir die jonger geslag om by ons aan die woord te kom. Miskien is dit oral moeilik, en dit sal vir hom sleg wees as hy sommer dadelik die profetemantel omgehang kry. Maar baie dikwels word sy mooiste woorde eenvoudig doodgeskreeu dat een van die gevestigdes kan praat. Hier by ons het onlangs ’n “kultuurverrigting” plaasgevind waar een van die ouer voormanne ’n toespraak gehou het en ’n toneelstukkie van een van die jongeres, ’n lewendige, vurige stuk –

Скачать книгу