Die derde oog. Etienne Leroux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die derde oog - Etienne Leroux страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Die derde oog - Etienne Leroux

Скачать книгу

      

      Etienne Leroux

       Die derde oog

      Human & Rousseau

       Alle karakters is denkbeeldig. Die storie is saamgeflans uit twee werke van Euripides en Sophokles. Die shopping centre, helaas, is eietyds.

       Almal drink die heildronk gretig. Hulle drink die dood van tradisie en oerbelewenis. Daar is groot pret en groot vryheid en uitbundigheid sonder perke.

      OPGEDRA AAN

      GLORIA EN HILL ALTEPOST

      HOOFSTUK I

      Die taak

      I

      Demosthenes H. de Goede, so pas bevorder tot Kaptein in die speurdiens, onlangs genees van ’n spraakgebrek, fors van gestalte, in voorkoms ’n toon­beeld van selfgenoegsaamheid en ’n beliggaming van elkeen se manne-ideaal, maar met die mooi, kalm gesig van die mensheid se duldende kneg, met daarop gegrif ietsie van die weemoed gebore uit ewige diensbaarheid aan sy beroep, sit aan sy brekfistafel luidrugtig en eet terwyl hy deur sy neus snuif en sy vrou, Hope, die nimfomaan, hom met misnoeë beskou. Sy grou pak klere pas effens té knap, sy kan gek word van verveeldheid elke keer as sy hom sien ontspan ná een van sy veelvuldige take, en sy dink meteens: hy kon vroeër sy ore geroer het. “Roer jou ore,” sê sy vir hom. Hy doen dit en sy vind dit glad nie meer snaaks nie. “O, Jesus!” kreun sy. Sy wil skree van verydeling, maar dan bedink sy haar as sy daarteenoor sy ongetwyfelde vermoë in die bed opweeg. Alles irriteer haar: sy oefeninge in die aand ter wille van sy figuur, sy vals stem as hy probeer sing. Sy het hom eenkeer beveel om die oefeninge te staak en hy het ’n maag ontvou. Sy het hom beveel om die oefeninge te hervat en die versondiging van haar siel met moeite weer aanvaar toe die maag verdwyn. Geeneen van die eise wat sy aan hom stel, is te veel nie; al haar geraas en beskuldigings kon hom tot nog toe nie verander nie; die hekseknope wat sy knoop, kon hom nie emaskuleer nie.

      Hope het krulpenne aan haar hare en velroom op haar gesig. Sy voel ellendig en kan hom nie vergeef dat hy so ’n goeie mens is nie: so verstandig in sy keuse, so aanpasbaar, so ’n getroue kneg van die lewe, vergeefbaar selfs wanneer hy sy krag misbruik. Sy het hom al telkemale met ander mans verkul en haar flou leuens tot waarhede verhef voor sy goedgelowigheid. Sy is magteloos voor sy deugsaamheid, sy rusteloosheid om te dien, sy geweldige drange wat haar so heerlik bevredig, sy vermoë tot geduldige stryd, sy aan­vaarding van alle ontberings, sy onuitblusbare moed, sy woede wat ewe maklik kan oorgaan tot sagmoedigheid, die ongewone kompleksiteit agter die sielstergende eenvoud.

      Sy kyk met wrewel na hom en verlang meteens na daardie wêreldwyse, estetiese offisiertjie wat daardie aand op die polisiebal te beskeie was. Sy kan dit nie presies formuleer nie, maar ’n vae gedagte wek ’n gevoel van onvergenoegdheid met haar lot, ten spyte daarvan dat haar vernaamste behoefte bevredig word; dat haar verlange gegrond is op haar eie tekort­komings; dat een soort bevrediging heel moontlik die ander soort uitsluit. Sy gluur na hom oor die tafel, soos ’n vampier na ’n onuitputlike slagoffer met die verkeerde bloedsoort, soos iets uit die Middeleeue verdwaal, wat ons hedendaagse bloedritueel nie begryp nie.

      Die vier kinders wat hulle twee aangeneem het nadat selfs hulle veelvul­dige parings vrugteloos geblyk het, sit aan weerskante van die tafel – krul­kopbloedjies van onsekere herkoms met ’n rebelsheid in hulle maniere wat in hierdie stadium moontlik kriminele neigings vermom agter oortollige energie. Twee dogtertjies en twee seuntjies, lelik en onbepaald eners. Hulle vader, wat so pas klaar geëet het en nou sy onmusikale stem in ’n toonlose deuntjie verhef, verdra goedig die lepels wat teen hom slaan en die kos wat uit alle rigtings oor hom spat. Hope se japon hang skeef oor haar skouers en ontbloot haar groot borste. Sy steek ’n sigaret op en raas in die rigting van die kinders terwyl sy terselfdertyd die rook uitblaas. Die teekoppies is koud eenkant op die tafel en die oorblywende kos word vetterig en hard in die borde. Kaptein De Goede kyk verlangend by die venster uit en sien bokant die huis ’n gedeelte van die berg. Op die boonste kruine is ’n magtige rosewolk wat deur ’n klein roetwolk bedreig word, vuilblou soos treinrook. Die roetwolk dryf teen die rosewolk en stadig word die rosewolk roet.

      Hy staan op en soen Hope op die voorkop terwyl hy sy hand spelerig op haar bors druk. Sy wil eers sy hand wegklap maar druk dit dan onwillekeurig vaster. Hy leun oor en soen sy vier kinders op plekke waar dit nie té taai is nie en dan gaan kaptein Demosthenes de Goede by die voordeur uit. Toe hy die deur toemaak, bevind hy hom in die klein tuintjie van sy skakelhuis vlak teen die skuins straat. Hy kyk na die kruisement langs die heining en skuif die tuinslang tot in die middel van sy grasperkie. Hy maak die tuinhekkie versigtig toe en haal die bus onder op die hoek van die straat. Hy kyk terug en besluit om die ander helfte van die huisie ook te koop ter wille van die kinders wat grootword.

      Toe hy in die middestad afklim en tot by ’n vaalgrys, drieverdiepinggebou loop, aarsel hy voor ’n deftige Rolls-Royce wat teen die sypaadjie geparkeer is. Die chauffeur se oë is hovaardig reg voor hom gerig, die RAC-tekens blink in die son en die masjien suis amper geruisloos onder die masjienkap. Die deurwagter by die gebou sê: “Goeiemôre, kaptein De Goede,” en ’n def­tige man, agter in die Rolls-Royce, kyk meteens op. Hy en Demosthenes de Goede beskou mekaar ’n paar oomblikke, asof getref deur die merkbare ooreenkoms in hulle voorkoms ten spyte van die parafernalia van stand­verskil, en dan trek die Rolls-Royce vinnig weg.

      Demosthenes de Goede loop die trap op en klop aan ’n deur heel onder in die gang. Alles ruik na die staatsdiens, alle kleure is dof van staatsdiensverf, almal slenter met ’n staatsdiensgang. ’n Mooi meisietjie maak die deur oop, gee ’n beroepsglimlag, ontvang ’n knypie wat sy nie verwag het nie, en lei hom na nog ‘n deur waar ’n verwyfde mannetjie superieur die verdere begeleiding oorneem. Dan word ’n derde deur oopgemaak en Demosthenes de Goede ontmoet brigadier Ornassis E., hoof van die D-diens, in sy merk­waardige sanctum.

      II

      “Sal ons maar dadelik met die deur in die huis val?” vra brigadier Ornassis E. “Dankie, James.” Hy knik na die verwyfde mannetjie wat saggies die deur agter hom toetrek terwyl hy die kamer verlaat.

      Daar is ’n skildery reg agter sy kop teen die muur en Demosthenes de Goede kyk stip daarna.

      “Stel jy belang in pop-art?” vra die Brigadier.

      “Nee,” sê Demosthenes de Goede.

      Die Brigadier trek sy skouers op.

      “Dis nie elkeen se smaak nie.”

      Teen die mure is ’n paar vroeë werke van Max Ernst, Mark Rothko en Jackson Pollock van ongeveer die jare middelveertig. Die Guernica van Picasso hang alleen.

      “Afdrukke,” sê die Brigadier. “Dink jy ek kan die oorspronklike bekostig op ’n staatsamptenaar se salaris?”

      “Ek is nie eintlik iemand wat meer in die kunste belang stel nie,” sê Demosthenes de Goede. Ten spyte daarvan dat hy sy spraakgebrek oorwin het, praat hy baie stadig asof sy gedagtes met moeite kom.

      “’n Man van die daad,” sê die Brigadier. “Le parfait exemplaire de la vie énergique …”

      Hy is ’n skraal mannetjie met die gesig van ’n askeet wat baie lank sonde gesien het. Die snit van sy klere is onberispelik, sy hande (wat hy nou met ’n houding van oorpeinsing vou) is fyn en sag.

      “Die ponos eerder as die logos.”

      Hy

Скачать книгу