Gedeeltelik bewolk. Ruan Kemp

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Gedeeltelik bewolk - Ruan Kemp страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Gedeeltelik bewolk - Ruan Kemp

Скачать книгу

      

      GEDEELTELIK

      BEWOLK

      ’n lewensbeskrywing van ’n mal man

      Ruan Kemp

      Tafelberg

      In memoriam: D.B.

      Die gegewens waarop hierdie behandeling berus, is verkry deur middel van introspeksie onder eksperimentele kondisies, en deur middel van selfwaarneming in die daelikse lewe. Die gevalle wat betrekking het op die daelikse lewe behoort tot twee klasse. Die eerste klas is die gevalle van direkte selfwaarneming in die lewe. Die tweede klas van gevalle wat betrekking het op die daelikse lewe is verkry deur Eintlike Indinkingseksperimente. Die oorgrote meerderheid van hierdie gevalle is egter nie blote konstruksies nie, dog berus op ervaring. Hulle word as indinkingseksperimente aangevoer, omdat geen protokolle van die gevalle vir ons doel afgeneem is nie. Die gevalle word dus in die eerste plek as indinkingseksperimente aangevoer, waartoe hulle hul besonder leen, dog is tegelykertyd nie waardeloos as getuienis nie.

      H.F. Verwoerd, Die afstomping van gemoedsaandoeninge

      RESTANT

      2008–2009

      I am not alarmed about bug-eyed monsters, little green men, or dero who may or may not be shooting at us from far underground. Something else disturbs me far more. There exist forces or agencies which would prevent us from finding out whether or not there are such green men, or bug-eyed monsters, or saucers with things in them.

      Gray Barker, They Knew Too Much About Flying Saucers

      Die noen is verstikkend, wit, nie ’n wolk in sig nie, net ’n son soos ’n stok in jou oog, en ’n swart kolletjie op die lens, ’n voël wat in die oostewind dwarrel. Die oostewind bring gerugte, skindernuus uit verafgeleë plekke, fluister in die langgras. Goggas gil in die takke. Die binnegoed van ’n kasset, vasgedraai in ’n doringbos, losgetorring in die wind, blink in die son. Nat derms. Later, wanneer die trok met die gevaarlike vrag verby is, gaan die jakkalse kom snuffel. Die drywer van die trok met die gevaarlike vrag weet niks van die oostewind se gerugte nie. Die ruit is toegedraai, en die man snork. Die trokdrywer skakel die radio aan. “Noord-Kaap: Mooi weer en warm, maar gedeeltelik bewolk in die ooste,” sê die radio. Skakel die radio af. Tussen die drywer se bene ’n fles koffie, lou maar gerusstellend, die hand van ’n vrou. Agter hom die man wat snork. Die drywer laai nie gewoonlik duimgooiers op nie, dis teen die reëls, maar die man was wit en gehawend.

      “Hier’s ons nou,” sê die trokdrywer toe hy aftrek. “Meneer, ons is hier,” sê die trokdrywer toe hy terugleun en George wakker skud.

      “Los my uit,” sê George. “Ek is depressief.”

      “Dit is die afdraai Blyverby toe, Meneer. Ek moet nog op Upington kom. Kom nou.”

      “Hou maar die kleingeld,” sê George toe hy uitklim, ’n sigaret brandsteek. Tel die wiele toe die trok wegtrek. Veertien. Veertien wiele los net twee spore. Pis ’n sirkel in die stof.

      Maak toe jou gulp, George.

      Maak vas jou veters, George.

      Vee die slym van jou mond af, George.

      Vang jy hom onbehoeds van voor, dan lyk hy soos ’n man wat nou net met ’n stok geslaan is. Maar hou hom dop uit die hoek van jou oog, dan bespeur jy die glorie van ’n slim man. ’n Mooi man. Daar is iets aantrekliks omtrent sy glimlag, en die manier hoe sy oë saamlag, nuuskierige oë, uitspattige wenkbroue. Dis ’n seun se gesig. Hy trap water in ’n plaasdam saam met ’n nuwe maatjie.

      George stap sy geboortedorp binne. Dis ’n piskol in ’n leë erf. Dis ’n bottelskerf in die stof. Dis ’n sigaretstompie uitgespoeg en doodgetrap en later opgepik en afgesuie die lewe in soos ’n afgekoude vinger. Dis rooi stof wat opvlam in die wind en vasslaan teen ’n oopgekrapte roof. Dis ’n etterspuitende wond waaraan driebeenhonde suie. Die parasiet ruik bloed, stoot sy tentakels een-een uit, proe-proe voor hy suig: “Asseblief my kroon, help ’n man daar.”

      “Fokkof, jou dier!” sê George.

      Jy kan nie met ’n parasiet redeneer nie. Die parasiet stoot derduisende gladdebek-bakhandtentakels gelyktydig uit, omsingel die wit man: “My kroon, asseblief my kroon, help ’n man daar …”

      “Watse fokken era leef julle in?” vra George. “Het julle nie geweet dis na 1994 nie meer onwettig vir ’n wit man om arm te wees nie?”

      Die parasiet gee ’n laggie, gooi homself toe onder die stof, net sy oë steek uit. George stap die disko binne. Goedgekamoefleerde ogies hou hom dop.

      Hedendaagse stofmense verwar die disko met die donder. Kyk, roep hulle spreekwoordelike voorvaders, spreekwoordelik want hulle het net die stof aan hulle lyf en Saartjie Baartman in gemeen, kyk die blou boepenswolk op die einder, hoor hoe rammel sy maag, pak, laat ons trek. En dan trek hulle, kalbassies uitgehol en aanmekaargestring met bokvelriempies, gereed, want daar op die einder is daar water. As dit pap reën, moet jy skep. Maar hulle kruisbestuifde nasate sien diskoligte, ruik drank. En waar ook al ’n wit man ’n drankwinkel oopmaak, daar koek hulle saam, onversadigbare versamelmense, en hulle samekoeking is so intens, so volledig dat mens nie die een maaier van die volgende kan onderskei nie, !ke e: /xarra //ke. Die individu is nie ’n organisme nie, die individu is bloot ’n selletjie van weglaatbaar klein belang, behalwe wanneer daar gestem word, in ’n groter organisme, ’n godgroot parasiet met derduisende tentakels, elkeen met ’n maaiergesiggie, en ’n bottelnek vir ’n bek. Kap jy die een suier af, groei daar twee in sy plek. Dis ’n monster wat daarop uit is om homself van kant te maak, maar hy slaag nie daarin nie, want die geheel is groter as die somtotaal van sy ledemate, veral wanneer daar gestem word. En waar ook al ’n wit man ’n drankwinkel oopmaak, daar hou die gepantserde geldlorries stil, met ’n geleende opslaantafel van die kerk, en ongeskoolde gewapende wagte, en ’n duimskandeerder, en daar versamel hulle, ongeskoolde staatspensioenarisse met ongeskiktheidstoelae, en IOU’s by die wit man se drankwinkel. As dit pap reën, moet jy skep.

      Die drankwinkel behoort aan Jungle Nieuwoudt, die seun van ’n Smutsman. Maar al was sy pa ’n Smutsman, het pa en seun gereeld vasgesit oor haarstyle. Jungle het meestal niks te sê gehad nie want sy pa was bles, maar wanneer Jungle se hare te lank geraak het, het sy pa gebrom: “Weet jy hoe lyk ’n dooie Duitser? Met lang hare vol luise, en bloedrowe op sy kroon, en maaiers in sy slape? Loop sny jou hare!” Dit was al wat sy pa ooit oor die oorlog gesê het. Die Tweede Wêreldoorlog was nie Boetie gaan border toe nie. Dié wat teruggekom het, het nie daaroor gepraat nie. Jungle se pa het ’n plaas by die Verenigde Party gekry omdat hy die Duitsers help verslaan het. Sy agterryer het ’n fiets gekry. Ná Angola, waar Jungle op onsigbare teikens gevuur het en ’n kas bier in ’n veerpyltjiekompetisie gewen het, is sy pa oorlede. Jungle het die plaas geërf, sy eerste inboorling genaai, en sy hare laat groei. Vandag dra Jungle sy hare lank en trots. Hy het ’n groot wit baard wat elke Desember vir hom sakke geld inbring as Kersvader in ’n stedelike inkopiesentrum. Genoeg geld om sy kinders op universiteit te hou. Op sy yskas is ’n foto van hom in sy Kersvaderpakkie langs die aantreklike bestuurder van die inkopiesentrum. Binne-in die yskas is baie witwyn. George en Jungle is groot vriende. Hulle giggel wanneer hulle gesuip raak op witwyn, giggel wanneer hulle inboorlingstories uitruil. Maar Jungle is nie nou hier nie.

      “Waar is hy?”

      “Hy’t gaan ry. Hy’t in sy kar geklim en gery.”

      “Wanneer?”

      “Twee dae terug.”

      “Ek

Скачать книгу