'n Vrou gaan dokter toe. Ray Kluun
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun страница 6
Anne is nugter. Sy reken ons moet al die vrae neerskryf wat ons môre aan die dokter wil vra. Ons dink dis ’n goeie plan. Ons vier dink toe saam wat dit is wat ons sal wil weet. Ek skryf neer.
Dit werk. Ons reduseer die kanker tydelik tot ’n neutrale objek wat ons krities en byna saaklik kan analiseer. Carmen het nou al ’n uur nie gehuil nie.
Thomas en Anne vertrek om halftien. Ek bel Frenk; Carmen gaan op die internet. Toe ek aflui, vra sy of ek nog kan onthou wat die Engels vir haar vorm van borskanker is.
“Dit het Walters nie gesê nie. Wel die Latynse naam, mastitis karsinowat …”
“Karsinomatose, ja. In Engels is dit dan …” – sy kyk op die skerm – “… inflammatory breast cancer … En ‘inflammatory’ beteken dis ’n vorm van ontsteking. ’n Soort sweer wat – as jy te laat iets doen – in jou bloedliggaampies kom. Dit klink na die ding, nè?”
“ ’M … ek dink so, ja,” antwoord ek versigtig.
“Dan is ons net mooi in kakstraat, want dan is die kans dat …” – haar stem breek – “… dat ek nog langer as vyf jaar sal lewe, nie eens veertig persent nie.”
Veertig persent. “Hoe kan jy so seker wees dis dieselfde?” reageer ek geïrriteerd. “Is jy seker jy’t reg gelees?”
“Ja, ek is, god weet, tog nie onnosel nie, Steyn?!” skreeu sy. “Hier staan dit tog! Of in enkele gevalle nie?”
Ek kyk nie na die skerm nie, maar druk die skakelaar van die iMac af.
“Daar’s hy. Slaaptyd.”
Sy kyk verbouereerd na die swart skerm en dan na my. Eers met ’n vernietigende blik en dan begin sy onbeskryflik hard tjank.
“Fokkit, as daardie kakhuis dit tóé al gesien het, dan was dit miskien nie nou te laat nie!”
Ek gryp haar aan die arm en sleep haar die trap op.
Ná ’n huilbui wat gelyk het asof dit nooit sal ophou nie, raak sy in my arms aan die slaap. Ek is wawyd wakker en sien op teen môreoggend. Teen die moment dat ek wakker word en besef dat ek nie gedroom het nie, maar dat alles werklik is.
Carmen het kanker.
10
Het regent harder dan ik hebben kan …
Bløf, uit “Harder dan ik hebben kan” (Boven, 1999)
Dokter Schoeman gee ons die hand, beduie dat ons moet gaan sit en gaan self agter haar lessenaar sit.
Sy begin deur ’n lêer blaai. Dit is ’n outydse bruin hanglêer. Ek loer daarna, onderstebo, en sien dit is die lêer wat die verpleegster eergister by haar gehad het. Daar is twee X-straalplate daarin (van Carmen, neem ek aan) en ek sien ’n lang, handgeskrewe stuk (deur dokter Walters?) en ’n tekening van ’n vrouebors, met ’n pyltjie en ’n onleesbare byskrif daarby. Schoeman lees die dossier asof ons nie daar is nie. Dit is verskriklik stil in haar kantoor.
Dokter Schoeman is nie die soort van wie jy dink ag, wat ’n grap nie. Grys hare, baie penne in haar bosak en ’n tipiese nerd-gesig. Ek en dokter Schoeman gaan nie kliek nie. Dit het ek al gesien aan die uitdrukking waarmee sy my kalfiekakbruin seventies-leerbaadjie betrag het toe ek haar kantoor binneloop.
Ek hou Carmen se hand vas. Sy knipoog vir my en maak ’n Mr. Bean-agtige kopbeweging toe Schoeman ná ’n halfminuut steeds sonder om iets te sê in die lêer bly lees, daarin blaai, terugblaai en dan weer vorentoe. Ek kyk vinnig weg van Carmen om te keer dat ek begin lag, want dit sal nou nie juis die band tussen my en die dokter versterk nie. Ek kyk maar eerder ’n bietjie rond. Agter haar lessenaar hang ’n geraamde afdruk van ’n Impressionistiese skildery (moet my nie vra deur wie nie – ek kom van Breda-Noord en dis al ’n prestasie dat ek weet dit is ’n Impressionistiese skildery), en teen die muur by die deur is ’n rakkie gemonteer waarin ek benewens die vir my onbekende titels soos Goeie voeding en kanker, Kanker en seksualiteit en Pynbestryding en kanker ook die bekende blou biljet Borskanker sien.
Dokter Schoeman kyk van die dossier af op. “Hoe het dit die afgelope paar dae gegaan?” begin sy.
“Ek sou nou nie sê ‘skitterend’ nie,” sê Carmen met haar aanleg vir onderbeklemtoning.
“Nee, dit kan ek my voorstel,” sê die dokter. “Dit is sleg dat dit destyds so ongelukkig verloop het. Dit was tog wel, ’m … buitengewoon nalatig.”
“Ja, want nou is dit te laat, of hoe?” mompel Carmen.
“Moet nog nie só daaroor dink nie, hoor,” reageer Schoeman. “Ons het nog ’n paar behandelings wat ons kan gebruik. Om terug te kyk het geen sin nie, ons moet ons nou toespits op wat wel gedoen kan word.”
Stomverbaas oor die ongeërgde gedane-sake-houding jeens die fokkop van haar kollega kyk ek Carmen aan. Maar dit lyk of sy dit aanvaar, en ek hou my ook maar in.
“Wat ek het, word inflammatory breast cancer genoem, nie waar nie?” vra Carmen.
“Die amptelike naam is mastitis karsinomatose, maar ‘inflammatory’ is inderdaad die Engelse naam … ’m, waar het u dit gehoor?”
“Ek het dit gister op die internet opgesoek.”
“Wel, daarvoor moet u versigtig wees,” sê Schoeman vieserig.
Ja, dank jou die duiwel, dink ek, want dan word dit vir jou ’n probleem. Ek grinnik, en in teenstelling met gister toe ek vir Carmen de moer in was omdat sy die bobbejaan agter die bult gaan haal het nadat sy afgekom het op die een webwerf na die ander oor alle denkbare vorme van borskanker, is ek nou trots op haar dat sy al meer weet as wat die dokter wil hê sy moet weet.
“En is dit so dat maar veertig persent van die vroue by wie dit gediagnoseer is die eerste vyf jaar oorleef?” gaan Carmen verder.
“Ek’s bevrees nog minder,” sê Schoeman yskoud, ’n ooglopende poging om die lees van dié soort webwerwe eens en vir altyd te ontmoedig, “want u is nog jonk en dan verdeel die selle vinniger as by ouer mense. Die tumor in u linkermamma is nou dertien by vier sentimeter, en dit het waarskynlik in enkele maande so groot geword.”
Dertien by vier? ’n Jong murgpampoentjie is dertien by vier! En dít in ’n paar maande? Ja, dit moet wees – iets wat selfs dokter Walters destyds nie sou miskyk nie.
“Kan dit nie verwyder word nie?” vra Carmen. “En as dit moet, kan my bors maar waai.”
Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Sonder ’n oogknip sê sy dat haar trots, haar handelsmerk, maar geamp–
Schoeman skud haar kop.
“Om te opereer sal in hierdie stadium gevaarlik wees,” sê sy. “Die tumor is te groot. Ons kan nie presies sien waar die selle versprei het nie. As ons gaan sny, loop ons die gevaar dat die tumor in die littekenweefsel van die afgesette bors kom en dan is ons nog verder van waar ons wil wees. Net as ons weet dat die tumor in u bors kleiner geword het, is ’n operasie miskien ’n moontlikheid.”