Narkose vir die hart. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Narkose vir die hart - Helena Hugo страница 3
“Hoe gaan dit? Wat hoor jy van jou pa-hulle?” vra Jan.
“Ma het vanmiddag gebel, hulle rus lekker.”
“Jy nie spyt omdat jy nie saamgegaan het nie?”
“Nee, oom, hoe sal ek dan?” Gerhard kyk vlugtig na Saranie. “Hier is darem geselskap.”
“Jy moet haar ompraat om Maandagmiddag later te ry. Sy werk eers Dinsdagoggend, en Pretoria is nie so ver nie.”
“Maak so, oom.”
Ja-nee, dink Saranie, dis die soort planne wat vir my beraam word. Maar ek het die laaste sê, ek is lankal oor een-en-twintig.
“Sal julle daarvan hou om vroegoggend narkose te kry by ’n narkotiseur wat die vorige dag driehonderd kilometer gery het?” vra sy toe hulle na haar draai.
Jan en Gerhard kyk vir mekaar en frons. “Hoe sal ons weet?” vra Jan.
“Presies, daarom is dit mý verantwoordelikheid. Ek werk nie tensy ek uitgerus is nie, en ons gaan besig wees ná die langnaweek.”
Jan vat vir hom ’n hand vol biltong. “Ek’t jou gesê sy’s deeglik,” sê hy vir Gerhard.
“Sy moet my sê waar’s daai hospitaal van haar,” sê Gerhard, “dan maak ek solank ’n afspraak vir my volgende blindederm-operasie.”
Jan, wat gewoonlik nie vir enige flou grappie lag nie, gooi sy kop agteroor en kraai van plesier.
2
“Jan is desperaat om my getroud te sien, anders sou hy nooit sy standaarde verlaag het nie,” sê Saranie Dinsdagmiddag vir haar vriendin, Anna.
Dis byna drie-uur en die kafeteria se slaaiblare is al net so verlep soos sy en Anna. Hulle moet ’n blaaskans vat, en middagete in die kaf is ’n goeie verskoning. Hulle skep louwarm roerbraaigroente en gebakte vrugtepoeding met dun vla, en dra hul skinkborde na ’n oop tafeltjie naby die venster. Die hospitaal loop al weer op noodkrag en die res van die kaf is in skemer gehul.
Hulle was besig vanoggend, selfs besiger as wat Saranie voorspel het. Operasies én keisers wat tot ná die Paasnaweek uitgestel is, moes afgehandel word. Om alles te kroon was Glenda Olckers, hul eie Cruella de Ville, weer op haar stukke.
Maar hulle praat nie oor die werk nie, durf ook nie iets sê nie. Iemand kan net hoor en stories aandra. Saranie se naweek op die plaas is in elk geval interessanter as hospitaalintriges.
“Was dit so erg?” vra Anna nadat hulle aan tafel gaan sit het.
“Ek gaan nie weer nie … nie alleen nie.”
“Hulle het jou probeer afsmeer aan al wat ’n losloperman is?”
“Veral een.”
“Wie?”
“Gerhard de Lange van Sandheuwel.”
“ ’n Wewenaar met sewe kinders?”
“ ’n Outjie, jare jonger as ek.”
“O wel, solank hy nie dom of lelik is nie …”
“Ek was die hele naweek opgeskeep met hom en hy met my.”
“Shame.”
“Hy moes my Saterdag troue toe vergesel, nadat hulle hom Goeie Vrydag vir ete genooi het sodat ons mekaar gewoond kon raak. Kan jy glo, my broer wys hom ons home movies van dertig jaar gelede.”
“En?”
“Ek dink hy skuld Jan geld of iets, want hy het deur alles gesit, en toe wil hy dit weer sien.”
“Jy onderskat jouself, Saranie.”
“Ek’t nie geweet waar om my kop in te steek nie! Jan wys tot vakansiefilms waar ek kaal op die strand rondhardloop.”
“G’n wonder die man het aangedring op nog nie.”
“Om ’n drie jaar oue dogtertjie in haar evaspakkie te sien?”
“Hy’t seker gehoop dis die begin van ’n reeks.”
“Anna, Gerhard is vyf jaar jonger as ek. Hy was nog op skool, toe werk ek al!”
“Jy dra jou jare goed, niemand sal sê jy’s dertig nie,” terg Anna.
“Drie-en-dertig!”
“Maak hom agt-en-twintig, ’n jong boer vol testosteroon. Jy’s ondankbaar.”
“Ek wil nie ’n jong boer vol testosteroon hê nie!” roep Saranie uit. “Ek wil …”
“Jou matriekliefde terughê?”
“Sê maar so … Nee!”
Saranie moet nog besluit of sy Anna van hul herontmoeting wil vertel, maar Anna ken haar so goed, sy lees gedagtes.
“Was hy ook daar?”
“Tot my spyt.” Saranie reageer met soveel passie, dis of ’n onweerswolk op die tafel neerdaal.
Anna sug en Saranie maak haar klaar vir nog ’n bestraffing. Anna hou nie van, soos sy dit stel, “hierdie ongesonde hunkering na jou eerste liefde” nie. Sy het al verskeie beraders en selfs ’n hipnotiseur aanbeveel sodat Saranie bevry kan word en weer met haar eie voete kan loop waar sy moet.
Wat Anna nie weet nie, is dat Saranie in haar drome lankal ’n ander land begin verken het, sy sal net om de dood nie daaroor praat nie. Haar geheim. Vanoggend was dit weer ’n marteling om op te kyk in daardie vergeet-my-nie-oë bokant die operasiemasker, vlugtig, byna per ongeluk, maar ’n ewigheid.
Anna klik met haar tong. Dié keer raas sy nie, sy doen iets wat Saranie nog meer irriteer. “Daar’s Corné,” sê sy en beduie met haar vurk in die rigting van die deur.
“Dag hy werk nie vandag nie.” Saranie fokus eerder op die repies uie en groenrissie op haar bord.
“Hy’t ons gesien, waai tog maar, hy verlang al heel naweek na jou.”
“Hy’t gebel en SMS’e gestuur.”
“Moenie so hard wees nie, hy’s verlief op jou en hy doen moeite.”
Corné het al blomme gestuur, sjokolade aangedra, gegeurde kerse gebrand in die hospitaal se slaapkwartiere, geskenkies onder die kopkussing gelos as hy weet sy slaap daar, notas en gediggies op haar lêers geskryf, haar sover gekry om hom na opvoerings en hospitaalfunksies te vergesel, selfs haar motor gediens.
Die hele hospitaal dink hulle is ’n paartjie, so te sê verloof om te trou.