Vlam van verlange. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vlam van verlange - Schalkie van Wyk страница 4
Wat makeer haar? wonder Carli onthuts. Sy sweef op ’n pienk wolkie êrens in Kammaland rond en intussen laat sy hierdie wildvreemde man toe om haar soos ’n hulpelose kind te behandel. Eintlik voel en lyk sy soos ’n verwaarloosde straatkind, dink sy wrang, want haar liggroen bloesie en appelgroen langbroek is die ene stof en olie, afkomstig van die vreemdeling se wrak van ’n ou bakkie.
Sy vee met haar hand haar hare uit haar oë, besef dat haar stowwerige palm heel waarskynlik nog ’n stofstreep op haar gesig gelaat het en sê met saamgeskraapte flentertjies waardigheid: “Ek maak nie ’n gewoonte daarvan om onder geparkeerde voertuie te speel nie. Monster het onder jou bakkie ingekruip om Floorsie by te kom, maar nou sit hy vas. Ek het hom net probeer help om uit te kom.”
“Is Monster en Floorsie jou boeties? Ek hoop nie dis hulle doopname nie,” sê die man en lyk opreg bekommerd.
Sy sien dansende lag soos gesmelte sjokolade in sy donkerbruin oë lê en kry gloede van verontwaardiging. “Niemand kan Monster miskyk nie! Jy moes gesien het toe my yslike Deense hond by ons hek uitgestorm het, of het jy agter ’n boom weggekruip?” vra sy boos. Sy besef dat sy met ’n wildvreemde man in die straat staan en rusie maak, maar sy geniet elke oomblik daarvan.
Sy was so alleen die afgelope tyd, dink sy. Sy voel tuis in Mariska-hulle se huis, want die Viviers’s voel soos haar eie mense, maar niks kan hulle haar bloedeie maak nie. Sy sal eendag met Vincent Schoeman trou, maar op die oomblik is hy nog tant Renette se seun en tant Renette hou nie werklik van haar nie. Die afgelope twee weke het Monster haar geselskap gehou, maar Monster kan net luister, nie gesels of rusie maak nie. Dit voel goed om met iemand wat haar nie oor haar ma se dood bejammer nie rusie te maak, dink sy en gluur die man agterdogtig aan.
“Was dit ’n hond?” vra die man verbaas. Hy stoot sy vuil hand deur sy hare en skud sy kop ongelowig. “Ek kon sweer dit was ’n kalf. Ek onthou hoe verras ek was om kalwers in so ’n spoggerige woonbuurt te sien.”
“Monster is eintlik ’n kameel,” antwoord Carli kil en gaan met haar ysigste stemtoon voort: “As jy heeltemal klaar gelag het, meneer, sal ek dit waardeer as jy Monster onder jou ou bakkie kan uitkry.”
“Loop soos ’n droom,” sê die man ingenome en klop-klop met die trots van eienaarskap teen die deur van die bakkie. “Drie-en-sewentig jaar oud, en byna net ’n leë dop toe ek dit in die hande gekry het. Ek het op agtien begin met die enjin, elke oomblik van my kosbare vrye tyd en kosbaarder spaargeld gebruik, en hier staan hy, twaalf jaar later: ’n droom van ’n bakkie, beter as nuut. Ek het sonder enige teëspoed al die pad van Henningshoogte af tot hier met Disselboom gery – dis nou behalwe vir ’n klein probleempie met ’n oliepypie. Goed, nè?”
“Verbysterend goed en verbysterend vuil. Het julle nie stofsuiers en water en seep op Henningshoogte nie?” vra Carli sarkasties. Sy maak vinnig sommetjies en besef dat die man dertig jaar oud is en moontlik ’n motorwerktuigkundige.
“As ek die stof en die roes afskrop, val ou Disselboom uitmekaar. Ek sal die bakwerk stuk-stuk vervang, maar dit sal nog ’n hele paar jaar duur voordat ek daarmee klaar is,” verduidelik hy en vee-vee met sy hand oor die dak van die bakkie asof hy dit liefkoos.
“Hoekom het jou bakkie so ’n lawwe naam? Is ’n disselboom nie deel van ’n ossewa nie?” vra Carli kortaf, sommer geïrriteerd omdat die man met soveel deernis na sy verroeste ou bakkie kyk.
“Dis reg, maar tant Emma het besluit dis ’n gepaste naam, want my bakkie kom uit die dae toe ossewaens en disselbome nog iets alledaags was,” antwoord hy. Hy vee sy regterhand aan sy broek af en steek dit uit na haar. “Ek is Meyer Feldtmann. Sal ons aangename kennis sê voordat ons jou kameel onder my bakkie uitgrawe?”
Daar is olie onder sy naels, maar hy het die hande van ’n kunstenaar, ’n pianis, dink sy en kyk na sy breë, vierkantige palm en lang, byna delikate vingers wat uitloop in plat, halfmaanvormige naels.
“Is my hand vuiler as joune?” vra hy tergend.
“Nee!” antwoord sy gejaagd en gryp sy hand in hare, verleentheid vlammend op haar wange. “Bly te kenne, meneer Feldtmann. Ek is Carli van Eeden.”
Sy los sy hand vinnig en beduie na haar ouerhuis. “Ek woon in die glaspaleis … die huis wat soos ’n spieël lyk. Maar dis darem net die noordelike muur wat van glas gebou is. My pa het dit die glaspaleis genoem, maar my ma was dol op glas en moderne meubels en skilderye en hy was so lief vir haar dat hy haar niks kon weier nie. My ma is …” Sy kyk flitsend na hom, merk sy luisterende houding, die rustige, bemoedigende uitdrukking in sy oë, en voel haar woorde opdroog. Sy lek oor haar lippe en vervolg verskonend: “Ek praat te veel, maar dis omdat ek eintlik nie wil praat nie … Nee, dit klink dom.”
“Nie werklik nie. Soms praat ek ure lank met tant Emma oor die weer as ek eintlik net wil weet wat sy vir my verjaarsdag gekoop het. Woorde kan mure bou tussen jou en jou nuuskierigheid … of jou hartseer.”
“Ek is nie hartseer nie!” ontken sy met onnodige drif.
“Dalk nie, maar jy is eensaam. Dis waarom ek hier is: tant Emma het gesê ek moet jou kom haal. Kom jy saam met my, Carli?”
“Na ’n onbekende ou tannie wat …?” begin sy onthuts, kyk in sy warm oë en voel asof sy in ’n diep, donker stroom van ’n ongekende euforie verdrink. Sy wil saam met hom gaan, maak nie saak waarheen nie, maak nie saak waarom nie, besef sy en vra huiwerig: “Wie is tant Emma?”
“Dokter Emma de Winter, jou ma se jonger suster,” lig hy haar glimlaggend in.
“Leuenaar!” krys sy, storm terug na die motorhek en weet dat die sout smaak op haar lippe trane van teleurstelling is omdat hierdie man wat haar so maklik betower het, ’n laakbare bedrieër is.
2
Carli voel Meyer se groot hand ferm en warm om haar boarm sluit. Sy ruk tot stilstand in haar spore, intens bewus van haar asemhaling wat ineens vlak en gejaagd is. Sy hoor die onverklaarbare sang van haar hart en luister betowerd na die lied wat haar polsende bloed deur haar are sing, ’n onbekende lied sonder oorsprong of woorde.
Sy is bang, dink sy, bang vir die verwarrende emosies wat sy ervaar sedert sy Meyer Feldtmann voor haar sien staan het. Net om na hom te kyk, het haar laat voel asof sy saam met die sterre deur die naghemel tol en kantel. Nou rus sy hand met ’n warm intimiteit op haar arm en sy word oorweldig deur ’n ekstatiese gevoel wat haar vreemd kragteloos laat voel.
Nee, haar gevoelens het niks met die koms van Meyer Feldtmann te doen nie, besluit sy koppig en haal diep asem om haar selfbeheersing te herwin. Haar hart klop so onstuimig omdat sy hierdie vreemde man wat sy verroeste ou bakkie in hulle spogbuurt geparkeer het en ewe vrypostig met haar ’n geselsie aangeknoop het, vrees en wantrou. Miskien was sy oorgretig om met hom te praat, maar dit was bloot omdat sy so uitgehonger was vir ’n normale geselsie met iemand. Maar dit was voordat sy besef het hy is ’n leuenaar en ’n bedrieër – dalk ’n gevaarlike misdadiger wat haar wil ontvoer omdat sy die erfgenaam is van die Van Eeden Eiendomstrust!
Sy oorweeg dit om Meyer op sy maermerrie te skop en na Mariska-hulle toe te hardloop, maar besluit dan daarteen. Skop sy hom, val haar sandaal heel waarskynlik uit en moontlik breek sy al haar tone. Hy is ongetwyfeld vuil en moontlik arm, maar hy lyk nie soos ’n misdadiger nie – en sy enkele leuen oor haar kamtige tant Emma is nie ’n onvergeeflike sonde nie. Dalk soek hy net soos sy ’n bietjie geselskap omdat hy ook alleen hier in die stad is. Sy is