Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 21

Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit

Скачать книгу

ja. As jy so ’n voortreflike mens kan kry, weet ek nie hoekom jy hoegenaamd met my sal sukkel nie. Julle sosiale posisie trotseer. Jou ma se gramskap op jou hals haal.”

      “Biedêm my ma, sy het vir niemand gevra met wie sy moet trou nie.”

      “Moet tog nie soos ’n dwaas praat nie,” sê sy intens. “Jy weet goed daar is geen manier nie. Nie vir ons nie.”

      “En as ons nié familie was nie?” vra hy rats.

      “Ek kan nie sê nie, want dis ’n hipotetiese stelling.”

      “Dan is dit tóg die kern. Maar verdomp, ek en jy kan nogtans superieure kinders hê. Of glad nie. Hoekom móét ons reproduseer? Ons is nie stoetdiere nie. En ek wil jou hê, so brandend graag dat ek Everest kaalvoet daarvoor sal uitklim.”

      “En dis wat jy eindelik sal oorhê: vriesbrand. Verbrande tone en vingers, veral. Passie met restriksie. Voorbehoude. Natuurwette systap. Die blote feit dat ons daaroor redeneer, Christopher … is dit nie ’n negatief nie?”

      Ten slotte is dit tog aan Phoebe van Duifhuis wat sy dink met ’n stil, gedrae leed. Daar is die manier waarop sy na Christopher gekyk het, met al die aanbidding van al die vroue van al die eeue vir al die mans van hulle allerharte.

      En daar is oom John wat wag dat sy ’n pot dambord met hom speel, en tante se roksoom, en die instinktiewe hunkering in Johnny se harde, eerbiedige hande.

      En Ossie Osman wat Sedersingel 16 toe gegaan het om geld te leen, wat anders? En Corlia Ligthart wat op ’n vroegaand in die laatwinter haar skoon wit motortjie parkeer voor ’n vervalle tuinhekkie, om te vra dat Elna haar tog nie sal opdring nie.

      “Ek wil ook uitklim,” sê Christopher koppig as hy, op Elna se aanwysings, voor die huisie in Spruitstraat stilgehou het. “Ek wil sien wat hier aangaan. Ek wil kyk hoe jy hier woon.”

      “Nee,” belet sy. “Dis net om jou te verlekker as jy sien hoe laag ek mik, nie waar nie? Bly weg. Ek sal alleen ingaan.”

      “Trou dan met die vent,” roep hy swaar, gedemp. “Word heeltemal onbereikbaar vir my, dan weet ek dit ten minste.”

      “Jy weet buitendien.” Sy dra sorg om nie te na aan hom te kom en sodoende ’n aanraking te ontlok nie. “En sal ek my van jou laat voorsê? Jy sal nie vir my vra of jy met Phoebe van Duifhuis moet trou nie. Maar as jy my wel vra, sal ek sê jy moet.”

      “Dankie,” sê hy bars. “Dankie vir niks.”

      “Dankie vir die ete, en die wegbring.”

      “Dis niks … loop nou, loop,” dwing hy haar, maar wil soos ’n vrou snik toe haar gestalte by die hekkie invlug, die stoepie betree … toe ’n voordeurtjie oopgaan, en ’n tantetjie staan in die ligstreep, en sy hou haar hande uit, en die voordeurtjie gaan agter hulle toe soos ’n dekseltjie op ’n klankdigte kissie vol soet geheimpies.

      As hy wegry, trap Christopher se groot voet in die gemaklike skoen die petrolpedaal dieper weg as wat geoorloof is. Nou moes ek deur die lug kon klief, dink hy. Sy het mos gesê dat dit adolessente drome is, hmf. Ons sal sien. Ek sal klaarmaak en ek sal blindedermpies uithaal en babatjies (met onberispelike gene) vang, en kantlangs sal ek my privaat vlieglisensie kry en haar eendag gaan oplaai en met haar vlieg oor stad en vlakte, tot binne-in blessit kammaland.

      Hy weet hy is oorspanne, onredelik. Mettertyd besin hy en ry stadig deur die hoofstraat. Verby die plek waar hy netnou stilgehou het, waar hy die rooi en blou gloed oor Elna se gevoude hande sien spoel het, waar haar warmte na hom uitgereik het soos een keer, vroeër, toe hy swakker daarteen bestand was, onverhoeds oorval is deur die ongekende bedwelming.

      Hy gaan nie by die huis aan nie, maar ry reguit verby, kampus en biblioteek toe.

      As hy by die hoofingang instap, slaan die atmosfeer hom van voor soos ’n skeidende muur. Hy het tevergeefs gekom. Hoe sal hy vanaand een enkele feit in sy brein kan knoop? Hy het nie eers ’n pen of notaboek by hom nie … sal maar by Phoebe moet leen. Sy is altyd voorbereid, nie net op akademiese eise nie, maar sommer net lewensparaat.

      Hy vind haar op die eerste verdieping by die tafeltjie waar hulle altyd sit, om die hoekie tussen die hoë rye swyende boeke wat alles weet, maar niks vanself verklap nie.

      Was hy langer weg as wat nodig was? wonder hy vasgekeer as Phoebe hom deurdringend aankyk. Of lyk hy deur die blare?

      “Jy het niks by jou nie,” fluister sy hom toe, asof dit ’n oortreding kan wees.

      Hy knik. “Dit was eintlik nie vanaand my plan om te kom nie,” bely hy. Sy fluistering kom swaarder as hare, asof dit binne vasgegroei was, koraal teen rots.

      “Dan laat staan ons dit,” glimlag sy hom begrypend toe.

      Sy pak dadelik op, stadig en sekuur. Hy weet wat dit haar kos, en waardeer dit.

      Hy dra haar tas, sluit sy leë hand om hare wanneer hulle buite kom. Sy kom ietwat swaarmoedig voor, soos hy haar leer ken het. Dalk omdat haar ouers nie meer bruisend jonk was toe hulle haar grootgemaak het nie. Skepe in die nag, dink hy weer. Blaas op die mishoring om nie teen mekaar te bots, mekaar in swye te vernietig nie.

      Waarom is hy tog so swaartillend? Hy voel soos altyd wanneer hy disseksie gedoen het, wanneer hy die koue vlees wat tot onlangs mens was, uiteen moes kerf. Ja, hy voel asof hy self gedissekteer is, tot op die been gestroop, sy hart blootgelê.

      “Sal ons ’n koppie koffie by ons huis gaan drink?” nooi Phoebe.

      “Ja. Ja, dis goed.” Hy was lank laas by die Van Duifhuise. Dit is asof hy onbewustelik skerm, asof hy nie te sterk emosioneel betrokke wil raak by hierdie gesin nie. Tog vind hy dit onvermydelik dat hy nader aan hulle sal beweeg. Hulle ouers is hegte vriende. Hulle is egte mense, eg in hulle vriendskap, eg in hulle oortuigings.

      En in hulle aanspraak sal hulle ook eg wees, nadat jy morele verpligtinge jeens hulle opgebou het.

      Die Van Duifhuise woon in ’n ou huis wat gerestoureer is. Dit adem ’n Victoriaanse statigheid, beleë soos die inwoners self. Hulle is mense vir oudhede. Elke meubelstuk in hulle huis is antiek, en dan nie net sommer na willekeur of volgens gier aangeskaf nie. Professor Van Duifhuis het ’n deeglike studie gemaak van die oorsprong van elke stuk. Geen volvloermat vir hulle nie, eerder glansende geelhoutvloere, deeglik opgeknap nadat hulle hier ingetrek het.

      “Ek was lanklaas by julle,” merk Christopher op nadat hy agter Phoebe by die voordeur stilgehou het.

      “Ja, my pa het al na jou gevra. Ag, ek kon mos nou sommer my ma se kar in die garage getrek het.”

      “Gee, ek doen dit vir jou.”

      Sy oorhandig die motorsleutel en, byna jaloers op die moontlikheid van afsondering, klim sy saam met hom in. Hy ry om die huis, die leë helfte van die oopstaande dubbelgarage binne. Asof afgespreek, sit hulle ’n wyle stil langs mekaar. Sy het hom haar hand gebied, en hy hou dit styf vas. Sonder opwinding, maar ook sonder vreemdheid. Sy het ’n sterk, vaste hand. ’n Hand wat sal kan streel as dit verwag word, wat pligsgetrou die wieg sal skommel, wat eendag in tevrede rus gevou sal word.

      “Ons ouers is goeie vriende,” sê sy. Hy kry die indruk dat sy meer as dit wou sê, dat hierdie woorde ’n blote aanloop is.

      “Ja,”

Скачать книгу