Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 9
“Maar geluk!” Hy, die ingekeerde, ontdooi onverwags spontaan en vou sy hand om hare. Dit is warm, haar hand. Soos hy gedink het.
Hy kom agter dat die aanraking haar ontsenu, asof sy liggies wil begin beef, of reeds begin beef het? Maar hy kry hom nie so ver om sy hand weg te neem nie.
“Jy is die eerste vir wie ek vertel,” sê sy. “Ek wou dit vir my ma vertel, maar toe spring sy my voor met ’n ander soort nuus.”
“Jou pa het ons al daarop laat drink,” onthou hy.
“Red my siel. Ewenwel, toe hoor ek later jou ma se stem in die sitkamer en ek loop soontoe. Ek het seker gedink ek kan dalk vir haar vertel.”
“En toe hoor jy …” Hy voltooi nie die sin nie, want dis nie nodig nie. Soos dit nie vir haar nodig was om hare te voltooi nie.
Hy sit lamgeslaan.
En so, weerloos in sy spyt en gestrooptheid, kan hy ten volle onder die invloed kom van die namelose soetheid wat daar van haar uitgaan, die onweerstaanbare warmte. Dat sy sy niggie is, sê net mooi niks. Sy is ’n vrou, en sy raak hom ten diepste.
Sy greep op haar hand versterk, word klouagtig as dit opskuif teen haar jasmou. Die volgende oomblik, hy weet nie hoe nie, is sy vas teen hom, sny haar tand in sy lip en hoor hy haar liggies kreun.
Ongerief? Genot? Hy wil nie weet nie, wil nie uitvind nie. Kan nie uitvind nie, want hy ken homself meteens nie, weet nie wat in hom gevaar het nie. Hy sal net altyd hierna weet dat hy nie anders kon optree nie.
Dan kom die besinning, as sy haar met krag en weerstand teen hom verset. Hy los haar onmiddellik, hoewel hy die verbreking van die intense stroom wreed en pynlik vind.
“Elna, ek is jammer. Ek weet nie wat my besiel het nie.”
“Toe maar, ek weet.” Sy hyg, en hy vermoed selfs dat sy huil. “Dit was net maar vir jou ’n versoeking om een van ‘ons’ uit te toets. ’n Donker versoeking, voorwaar – en ’n veilige een, ver van jou blink lewe en jou Phoebe en jou ma.”
Die motordeur vlieg oop, en die koue stroom na binne.
Wag, wil hy roep. Wag, in ons soort lewe gee ’n man ’n meisie by die voordeur af.
Maar hy wil nie hê dat sy hom in sy gesig moet uitlag nie.
4
Makkie bly maar klaerig, wat ’n ondraaglike toestand in die huis skep. Sy is moeg, en raas meer namate sy minder doen. As hulle haar eindelik so ver kry om ’n dokter te gaan sien (en hoe lank moes sy nie wag voor dit haar beurt was nie), is dit eintlik ’n verligting dat hy haar vir ’n onbepaalde tyd in die bed sit.
Dit skep vir Elna ontsaglik veel werk en verantwoordelikheid, maar sy sien kans hiervoor wanneer sy op haar eie kan wees. Na hartelus ruim sy op wanneer sy saans van die werk af kom. Sy maak net die middeldeur toe en sorg dat sy saggies te werk gaan, sodat Makkie nie hond se gedagte kry nie.
Maar Makkie gee nie juis om nie. Sy lê daar in die bed, moeg en traak-my-nie-agtig. Dit is asof sy sommer ten volle ingegee het noudat sy ’n wettige aanleiding gevind het.
En Elna maak huis skoon. Dose, blikke, houers, jare en jare se opgegaarde briewe en nuttelose kennisgewings, brosjures, advertensies. Sy werk soos ’n besetene, merk met genoegdoening hoedat die rakke leër word sodat daar oplaas vir alles plek is. Met oorreding en geldelike bydrae van haar kant het sy vir Ossie en Boet so ver gekry om buite hand by te sit en selfs ’n tydelike tuinhulp te huur. Dit lyk reeds aansienlik beter. Die gras is natgelei nadat dit gesny is met die argaïese grassnyer wat onder stof en spinnerak weggepak gestaan het. Nou het die kikoejoe weer ’n kans om die wildekweek in te haal.
Die paadjie word gelyk gemaak, sodat die hekkie kan toemaak. Met alle onkruid verwyder, lyk dit sommer leefbaar. Elna koop kappertjiesaad en plant dit aan weerskante van die paadjie wat stoep toe lei. Dit sal sorg vir ’n paar spatsels kleur.
Want die lente begin aanbreek – vanjaar nogal vroeg.
Waarom doen jy dit? vra sy haar af. Wil jy jou bloot onder werk begrawe, of het jy dalk ’n voorgevoel dat die huis in die een of ander stadium netjies sal moet wees? Sy probeer nie antwoord nie, want dit sal beteken dat sy te diep in haar eie gemoed moet delf. Of te diep in die toekoms – wie weet? Sê nou maar net die jong Ria trap oor die tou, soos Malie, en moet getroud kom? Dan moet dit tog netjies wees. Of as die nuwe baba van haar ma kom … bure sal heeltyd kom inkyk.
Nietemin trek sy nog meer van haar spaargeld, aangesien Ossie en Boet steeks begin word vir hierdie “onnodige” uitgawes. Sy laat die dak verf en die huis se buitemure afwit. Binne kan sy nie laat verf nie, dit is ’n saak van onmoontlikheid. Nie sonder haar pa en broer se ondersteuning nie. Johnny Ponter het wel oorgewillig aangebied om eiehandig saans te kom verf, maar sy wil haar liefs nie te diep in die skuld by hom steek nie.
Dus was sy maar net die mure, en selfs die luie Ria doen mee, teen betaling natuurlik. Maar sy is so lomp en slaphandjie dat sy kort-kort óf die emmer water omstamp óf die skuurpoeier laat val met wit wolkies tot gevolg.
“Los tog maar,” sê Elna een aand moedeloos. Ria is so bly dat sy die lap net daar langs haar neersmyt. Dus sukkel Elna alleen voort. Sy het ’n doekie om haar hare gebind en ’n oorjas en langbroek aangetrek. Haar hande beskerm sy met kombuishandskoene. Haar lyf pyn later tot in elke spier, maar dis ’n heilsame pyn.
“Vir wat dollie jy alles so op?” wil Boet weet. Sy het nie gesien dat hy teen die kosyn kom stelling inneem het nie.
“Ter wille van ordentlikheid,” jak sy hom af.
“Dan sal ek liewer nie ordentlik wees nie, dankie.”
“Dit is jy buitendien nie.” Sy het baie lus en vee die seperige dweil deur sy gesig.
“Wat kry jy nou eintlik daarvoor?” Hy beduie met sy skouer na die mure.
“Satisfaksie.”
“Hú?” Mens weet nooit hoeveel hy verstaan en hoeveel hy nie wil verstaan nie. Dom is hy beslis nie. Sy breinkrag is net ongeoefen.
“Jy kan jou verwyder, Boet, as jy nie wil help nie.”
“Ek’s buitendien op pad na my pelle toe.”
“Jy begin weer soos ’n klompie jare terug. Jy moet oppas. En ek sien jy vat vir Berrie partymaal saam. Waarom los jy hom nie uit nie? Hy’s nog ’n skoolkind.”
“Hy moet ook leer,” sê Boet.
Hy lyk opeens so baie na haar pa, noudat sy van bo op hom afkyk. Sy staan op ’n tafel, want ’n trapleer is ’n onbekende luukse. Sowaar, Boet se hare begin ook al yl word bo. Wat ’n seën om te dink dat hy daardie ongewaste kuif later heeltemal kan verloor. En sy maagspiere wil-wil begin verslap. Hy, wat die meeste met sy pa bots en die minste met hom kan saamstem, gaan uiteindelik net soos dié word, besluit Elna met iets soos heimlike vermaak.
Dan, as Boet weg is, gebeur die onvermydelike: Malie en Sjert kom kuier. Duiwel weet waarom hy nou juis “Sjert” moet wees,