Veldpad van verlange. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Veldpad van verlange - Helena Hugo страница 4
Daardie hande kan haar soms so ongenadig beetpak, sy dink hulle verander in wolfkloue. Dan moet sy soebat en smeek voor hy haar loslaat. As hy só word, is sy bang vir hom, bitter bang. Ses-en-twintig en steeds ’n maagd! Dis wat haar glo so begeerlik maak, en dis wat hom soms rede gee om haar eindeloos te treiter.
Feit van die saak is: sy wil nog nie. En soms wonder sy of sy ooit met hom sal wil … enduit gaan. Sy het natuurlik die gewone drange van ’n jong vrou, maar dis nie hoe sy grootgemaak is nie.
“Nie voor jy die ring aan jou vinger het en die register geteken het nie,” het haar ma haar dit met soveel nadruk ingeskerp dat Paulie begin wonder het oor haar ma en pa en haar oudste broer wat vyf jaar ouer as haar tweede oudste broer is.
Sy en Lüther is verloof, byna ses maande al. Dis ’n bindende belofte, al trou hulle eers wanneer sy haar doktorsgraad het en hy ook nader aan sy doelwit is wat sy loopbaan betref. Lüther reken daarop dat sy lank voor daardie tyd tot haar sinne sal kom, aangesien hulle nog ’n jaar of twee sal moet wag. Dit gaan tyd neem voor hy gespesialiseer het en sy beroep is volgens hom strate ingewikkelder as haar navorsing.
Miskien is hy reg. Dis makliker om insekte en plante te ontleed as om mense oop te sny en harte heel te maak. ’n Hartsjirurg, dís wat hy wil wees, en sy pa ondersteun hom. Oudokter Meyerhoff wou self ook hartsjirurg word en dit was hom nie beskore nie.
Paulie kyk na Lüther wat verveeld deur die venster staar. Soms kry sy hom jammer, want sy ma piep hom op en sy pa dryf hom genadeloos. Maar volgens hom is hulle wonderlike ouers wat hom alles gee wat hy nodig het. Nie soos sy nie. Sy moes hom lankal toegelaat het om ’n ware man vir haar te wees.
Goed, sy is nie meer onskuldig nie – hy trek haar broekie af en so aan. Maar een grens kan sy nie oorsteek nie: penetrasie. Dit hang soos ’n swaard oor haar kop. Haar hang-up, noem hy dit. Dit frustreer hom en sy geduld raak by die dag korter. Hy voel die verhouding stagneer en sy manlikheid word gekniehalter.
Sy besef dit, want Ans Norval, sy vorige meisie, het haar eendag kom vertel dat hulle elke nag drie keer seks gehad het. En dat sy hom gelos het omdat hy haar met ’n getroude vrou verkul het. Paulie het haar weggejaag en gedreig om vir Lüther te vertel. Sy het ook, en hy het alles verontwaardig ontken. Sy glo hom – sy wil graag.
Want sy bewonder hom van skooltyd af en toe hy haar eindelik raaksien, was sy in die wolke. Sy pa was lank hulle huisdokter en sy en Lüther was saam op skool, sy in graad agt en hy in graad elf. Dit kon sy toe lekker vir Ans invryf.
Ans werk nou in die Kaap, gee klas by UCT, het Paulie laas gehoor. Dis beter so, want Ans was nes ’n gewete, het haar altyd met ’n alwetende kopknik gegroet. Paulie het hom intussen beter leer ken en het aarde toe gekom, maar sy en Lüther sal oukei wees, as sy net hulle slaapkamerprobleme kan uitsorteer. Hy is goed vir haar. Kyk wat doen hy vandag, soveel moeite, hy en sy pa.
Sy leun teen sy gespierde arm, voel sy krag deur haar vloei. Hy is aantreklik en goed gebou, trek goed aan, besoek die regte haarsalon, laat sy naels professioneel versorg, gebruik selfs vogroom vir sy gesig. Ry boonop ’n Porsche en het sy eie luukse meenthuis. Studeer hard, nie soos Andreas wat sy pa weer gaan teleurstel nie.
Paulie kom orent; haar nek en skouers is seer en sy het rus nodig. Die musiek is nog aan. Gelukkig sing Natika nie meer nie. Maak ook nie saak nie, Paulie is moeg genoeg om deur enige lawaai te slaap en Andreas agter die wiel ten volle te vertrou.
Sy kyk teen sy agterkop vas. Hy het twee oulike kroontjies in sy hare, een skuins bokant die ander een, en ’n sterk, gespierde nek. Hy sit gemaklik en bestuur goed. Natika verdien hom nie. Iemand soos Jettie Fourie, wat ook dierkunde doen en pas aangestel is in die navorsingsafdeling van die Pretoriase Dieretuin, sý is die regte persoon. Nie Natika nie, sy kan kus en keur tussen mans, sy het nie nodig om Andreas te kies nie.
Lüther raak aan haar arm. “Jy seker jy wil nie water hê nie?”
Sy skud haar kop.
“Sê wanneer. Hierdie is koud.” Hy klap teen die koelsakkie.
“Wat sal ek sonder jou doen?” vra sy sodra hy opkyk.
“Wat sal jy?” Hy hark sy vingers deur sy perfekte kapsel, skuif sy donkerbril op oor sy voorkop en kyk diep in haar oë.
“Vergaan,” sê sy.
En sy wonder waar dié woord so skielik vandaan kom, want sy moet erken, dis nie regtig waar nie. Sy sal dit darem oorleef as hulle planne nie uitwerk nie of as hulle verhouding tot ’n end kom. Sy het hom gekies ten spyte van Ans se stories, en sy bly by hom al twyfel sy soms, maar sy kan op haar eie bene staan.
“Wat nog?”
“Doodgaan,” sê sy met ’n glimlag wat vir haar nou baie aangeplak voel.
“My meisie,” sê hy en tuit sy lippe suggestief.
Reg van voor is hy aantreklik, dis van die kant af, dis sy profiel … Sy swak ken pla haar.
Dit behoort nie so te wees nie, voorkoms is nie alles nie, en Lüther is altyd netjies en vars. Skoongewas, dis Lüther. Noudat hulle ’n rukkie langs mekaar sit, kry sy die geur van sy stortseep, sy gemmer-en-sandelhout wat tot nou toe deur Natika se seringbloeisels verdring is.
Ja, hy het ná sy laaste pasiënt by die huis aangery om te verfris en sy ma te soengroet voor hy sy pa gaan oplaai het, dié dat hulle laat was. Maar Paulie gaan hom nie konfronteer nie; hy is hier ter wille van haar en sy is dankbaar.
“Jy is moeg,” sê hy. “Probeer slaap.”
“Dis presies wat ek wil doen.”
Hy raak aan haar wang, lê sy palm ’n rukkie agter haar nek, liefdevol. “Jou kussing onthou?”
Sy het, en sy haal dit uit die sak wat sy op die vloer langs haar voete ingeprop het. “Ek is lekker moeg.”
“Pla die musiek jou nie?” Sy mond is naby haar oor.
“Te moeg om om te gee. Pla dit jou?”
“Nee, dis oukei.” Hy soen haar op haar wang, vinnig en gevoelloos.
Soos ’n ougetroude, besluit sy. Soos my pa my ma soen voor hy winkels toe gaan, of gholfbaan toe.
“Sien jou later,” sê sy en druk haar kussing onder haar oor reg.
Sy keer haar rug na hom en maak haar oë toe. Al blêr die musiek en al hou Andreas die venster aan sy kant wyd oop omdat hy nie aan lugreëling glo nie, raak sy aan die slaap, te uitgeput om verder ’n duit om te gee.
In haar droom loop en sy Lüther in die dieretuin, hulle loop op een van die bekende paadjies tot by die afdeling waar Jettie betrokke is by die teelprogram. Almal daar ken Paulie en sy stap sommer in by die deur gemerk Privaat, Slegs Personeel. Lüther is opgewonde. Hy dra ’n netjiese pak klere met ’n angelier in sy knoopsgat en skoene met onmoontlike lang punte. Paulie dra ’n rok, ’n kanterige iets in blou met ’n blom in haar hare.
Jettie is besig om ’n pasgebore apie met ’n bottel te voer. Sy dra ’n trourok en ’n sluier en dis ’n hele ongemaklikheid met die apie. Jettie! roep Paulie uit, kan jy nie die dieretuin vir een dag vergeet nie, dis jou troudag en jy voer apies. Maar toe Paulie nadergaan om die