Veldpad van verlange. Helena Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Veldpad van verlange - Helena Hugo страница 5

Veldpad van verlange - Helena Hugo

Скачать книгу

Lüther en Jettie ry by haar verby in ’n kar met ’n afslaandak. Haar wit sluier waai in die wind en verander skielik in Natika se hare. Daar trek ’n rookwolk agter die kar aan. Dis nie meer ’n kar nie, dis ’n vuurbol en dit rol en rol.

      Die viertrek kom stamperig tot stilstand en Paulie skrik wakker. Dit was ’n simpel droom. Watse nonsens is dit dat Jettie en Lüther moet trou? Of is dit sy wat moet trou, want sy stoot die waentjie met die baba? Sy is vies vir haarself dat sy sulke gedagtes êrens in haar onderbewussyn vertroetel.

      “Sy’s wakker,” hoor sy Lüther sê. “Lekker geslaap, my meisie?”

      Maar Paulie voel te knorrig om positief te reageer. Dis nie lekker om in die middel van ’n droom wakker te word nie, al is dit ’n nagmerrie. En Natika soen al weer vir Andreas.

      “Ons stop gou vir koffie.” Andreas kyk vinnig om, blykbaar om haar toestemming te vra. Sy is op slot van sake die leier.

      “Dankie, Andreas.” Dis ’n Engen-oase met bome en bankies. Koue vrugtesap sal nie sleg smaak nie.

      Lüther hou die motordeur aan haar kant oop. Sy gryp haar skouersak en klim uit. Natika staan haar reeds en uitrek. Andreas sluit die viertrek.

      “Dink jy dis veilig?” vra Lüther.

      “Diewe steel nie maklik ’n voertuig met ’n logo nie,” sê Andreas en val langs Natika in.

      Lüther kan niks antwoord nie en Paulie onderdruk ’n glimlag.

      ’n Swerm mossies vlieg op toe hulle onder die bome deurstap. Sy merk op dat hulle besig was om ’n toebroodjie uitmekaar te pik en nou op die takke sit en wag om hulle fees voort te sit. Sy kyk verder en sien hoe hulle oral nes maak, veral onder hoë lampskerms waar die lig saans baie motte en ander insekte lok.

      Sy wys vir Natika, maar dié stel nie belang nie en kyk skaars. Voëltjies soos hierdie sien sy seker genoeg in die stad, as sy moeite doen om te kyk en te luister. Sy loop haar loopplankstyl – ken gelig en skouers agtertoe, baie selfbewus aan die rondloer of iemand haar raaksien en herken.

      Paulie hys haar skouersak hoër op en stap vinniger. Sy is nie lus om deel te wees van dié spektakel nie. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Natika by Lüther aan die een kant inhaak en by Andreas aan die ander kant.

      Nou toe nou! Is sy ernstig?

      Maar Paulie is al ver genoeg om te maak of sy dit nie sien nie. Sy stap doelgerig deur die winkeldeel na die damesruskamer. Dis netjies skoon en heerlik koel en sy hoef nie eens vir ’n beurt te wag nie.

      Terwyl sy haar hande was, sien sy eers hoe deurmekaar haar hare is. Liewe goeiste, g’n wonder Lüther het haar nie agternagesit toe sy so vinnig wegstap nie. Sy lyk oes. Sy herstel die skade so goed soos sy kan, spuit van haar komkommerkoel eau-de-toilette aan en begin aanstap deur toe, net toe Natika by die eerste stel spieëls verbykom.

      “Ag nee! Kyk hoe lyk ek!” gil sy en stop in die middel van die vertrek.

      Twee vroue wat by die wasbakke besig is, kyk vinnig op en Paulie hoor hoe die een vir die ander sê: “Fishing for compliments.”

      Natika lyk soos ’n advertensie vir een of ander sjampoe, haar hare lig en los om haar skouers, groot blou oë soos waterlelies wat pas oopgegaan het, die blos van môredou op haar wange en lippe.

      “My hande is smerig,” sê Natika en sukkel tevergeefs om die houer met vloeibare seep aan die gang te kry. “Haat goed wat nie werk nie!”

      Die vrou by die wasbak beduie vir haar dat hare werk en staan terug sodat Natika seep kan kry.

      Natika sê nie dankie nie en die vrou het dit blykbaar verwag, want sy roer nie ’n wimper nie. Sy verskuif sonder omhaal na die wasbak langsaan.

      Paulie wat vir ’n oomblik in haar spore vasgenael was, maak liewer of sy Natika nie ken nie. Sy loop terug winkel toe voor sy verskonings moet uitdink. Sy haal ’n bottel vars mangosap uit die yskas en gaan staan in die betaaltou. Andreas en Lüther staan by die wegneemetes se toonbank. Die geure is so aanloklik, dit maak haar ook honger. Met die vrugtesap in haar hand gaan vra sy vir Lüther om vir haar ook te bestel.

      “Hoekom het jy nie aan die begin gesê nie? Ek het my bestelling tien minute gelede al geplaas, nou sal ek langer moet wag, vyftien of twintig minute,” kla hy.

      “Los, ek koop ’n sjokolade,” paai sy en draai terug winkel toe.

      Later is almal al geholpe en Natika is steeds nêrens te sien nie.

      Paulie gaan haar beslis nie soek nie. Sy wink Lüther nader en los die besorgde Andreas met sy sak kos en sy kan koffie om vir Natika te wag.

      “Wag jy nie?” vra Lüther.

      “Hoekom?”

      “Dis goeie maniere, Paulie.”

      Sy verwerdig haar nie ’n antwoord nie en stap met lang treë buitentoe. Waar was sy maniere toe hy nie ’n minuut langer vir haar in die kostou wou staan nie? Maar haar sjarmante verloofde is gewoond daaraan dat sy eie mense hom in ag neem, nie andersom nie. Vreemdes behandel hy altyd soos sy ma hom geleer het.

      Dis beter om nie ’n rusie op tou te sit nie, beslis nie nou nie. Buite waai daar ’n koel windjie, die voëls kwetter en daar is genoeg sitplek onder die bome. Die sementtafels en -bankies is nou wel hier en daar geblerts met voëlmis, maar dis nie die ergste nie. Sy geniet die koelte en skeur haar sjokolade oop.

      Lüther kom maak hom vieserig langs haar tuis, vee ’n slag met sy servet oor die tafelblad, skeur die kardoes waarin hy sy eetgoed aangedra het oop en sit sy hamburger en koffie daarop neer. Toe hy die hamburger uit die sakkie haal, keer Paulie se maag om. Sy het vanoggend net ’n bakkie muesli en jogurt geëet, en die geure van souse en gesmelte kaas oor vleis is genoeg om haar aptyt behoorlik te prikkel. Praat nie van die tjips nie!

      Lüther vat die hamburger met albei hande vas, kyk op na haar. “Jy seker jy wil nie hê nie?”

      Jou skaap, ek het jou gevra, maar jy was nie bereid om nog ’n paar minute saam met my te wag nie. Nou kan jy dit vergeet!

      “Nee, dankie,” sê sy. “Die sjokolade is genoeg.” Al is ek bitterlik lus vir iets souts!

      Andreas het seker nie ontbyt geëet nie, want hy het ’n sak vol kos wat skrik vir niks. Natika is vars gegrimeer en blink gekam en geborsel. Sy het ’n houertjie met jogurt. Sy trek haar neus vir die voëls se tafel op en loop daarmee na die heining, waar wilde-eende op ’n dammetjie dobber.

      Paulie nies. Natika se seringwolk hang nog swaar oor hulle.

      “Sy kan nie wag om in die veld te kom nie.” Andreas kyk haar agterna, ’n druppende hamburger in sy hand. “Wilde-eende, Natika!”

      Sy draai om. “Ek weet!”

      Lüther se blik dwaal ook agter Natika aan en dit gee Paulie ’n kans om ’n hand vol van sy tjips te steel. Dalk hou Natika nie van klein voëltjies nie, dink sy en besluit om haar voorlopig te vergewe. Daar lê nog drie weke voor en Natika doen haar ’n guns, of hoe?

      Die mans eet vinnig en gulsig, selfs Lüther vergeet sy maniere. Toe Natika terugkom, voer sy die helfte van haar jogurt vir Andreas terwyl sy vir Lüther ogies

Скачать книгу