'n Dorp soos Silwer Streams. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos страница 13
Paul het gedog die man maak weer ’n grap, dat hy sou voortgaan en een van sy eie heldeverhale vertel. Maar hy het nie. En toe lui die foon weer. Saais Vogel: “My ou Rooinek, jy skiet uit! Het jy geweet dis ék wat die predikant huis toe gevat het nadat hy by die bruggie was? As jy genoeg betaal, kan jy die res van die storie by my kom kry.”
Toe het Paul die telefoon doodgedruk, in die Mercedes geklim en kafee toe gery. Piet was nêrens te sien nie en sy assistent was alleen agter die toonbank. En dié het skaars van die koerant wat voor hom oopgesprei was opgekyk.
Paul het om die toonbank geloop en oor Lionel se skouer gekyk. Bladsy ses. Die fronsende gesig van adjudant-offisier P.C. van Deventer. “Shite!”
“Oom?” Lionel het orent gekom, sy oë wyd. “Shoo-whee, Oom, is daar dan ’n foutjie?” Die oop hand het tot by sy mond opgekruip.
Paul het na een van die eksemplare gegryp, en byna die twee Engelses vergeet wat hy gewoonlik neem. In die verbygaan het hy darem ’n arm vol tjips gegryp. En toe vergeet hy om Lionel te betaal – eers toe hy die klein bedelaar by die Mercedes sien het hy onthou en teruggedraai. “Keep the change!” het hy vir Lionel gehyg toe hy die note oor die toonbank stoot.
“Oom?” het Lionel op sy onnabootsbare manier gesê.
Shame, het Paul skuldig gedink. Wat is daar vir hóm op ’n dorpie soos dié?
Daar is net een alternatief vir die tuislandpad, besluit hy nou, en dis suid op die nasionale pad. Nie dat dit juis stiller is nie, juis nie op Sondae nie. Dit is wel heelwat breër, en darem met geel strepe weerskante. Daar is dus ruimte om plek te maak vir die GP’s en veral vir dié sonder nommerplate. En dit is minder as honderd kilometer tot in die stad.
Paul se oog vang weer die oop koerant op die sitplek langs syne. Who is he, this self-appointed correspondent of the doos en trane? wonder hy die soveelste keer, effe verbaas dat sy ontsteltenis steeds so vlak lê. Dit kan tog net Van Deventer self wees wat die koerant met die storie gevoer het. Adjudant-offisier vir die afgelope hoeveel jaar; vir ewig op die rand van bevordering en net so lank oor die hoof gesien. “To be frank, Piet,” het hy iewers verlede jaar vir die kafeebaas gesê, “it has become a bit of a joke. He will never become an officer.”
Paul is lus en steek tong uit vir die onvleiende maar akkurate koerantfoto. Warrant-officer Courageous wat ’n verslag oor sy heldedaad na die Afrikaanse Sondagkoerant toe deurmail (die trane-deel) en ’n ou kop-en-skouers-foto saamstuur. Hero of the laagwaterbrug.
Eintlik voel hy al ’n bietjie beter as vroeër; Piet en Basie se oproepe het hom nie goed gedoen nie. Dit het al die slegte herinneringe weer teruggebring van die keer toe hy werklik vir sy lewe gevrees het. Hy kan nou netsowel terugdraai, op sy eie bed gaan lê, seker maak die telefoon is dood en soos elke Sondag rustig sy koerante lees. Nadat hy van die Afrikaanse gemors ontslae geraak het. Dalk moet hy dit sommer nou doen! By die laagwaterbruggie, die toneel van Van Deventer se heldedaad, dit bladsy vir bladsy gaan opfrommel en aan die brand steek. Net om vir almal te wys presies wat hy daarvan dink.
Hy rem dadelik, kyk vinnig in die truspieëltjie wat nou aansienlik vriendeliker is as ’n halfuur gelede, en krink die stuurwiel. Draai terug na van waar hy gekom het. Toe hy weer behoorlik op pad is, skeur hy die tweede pak tjips met sy tande oop, eensklaps opgewek en vol nuwe vrede.
5
“Tipies!” is al wat Gert Esterhuizen kan uitkry.
Vir die soveelste keer hierdie Sondagmiddag vererg Saais hom vir die man. Hy is skytbang, hy hoor dit sommer aan die bewerigheid in sy stem. Ons moet maar versigtig wees vir hom, wil hy vir Sannie sê wat reg voor hom sit, Gert skrik maklik sy broek vuil.
Skielik trap Gert rem – Sannie se nek ruk amper af! Saais is lus en wurg die man. As hier net nie so baie getuies was nie.
Sondagmiddae gaan ry hulle altyd ’n entjie in Gert se Corolla. Gewoonlik in die stad se rigting, en dan gaan sit hulle by die Ultra City se restaurant. Drink ’n koffietjie, eet dalk ’n roomys of so. En kyk die mense, die stroom voertuie wat kom petrol ingooi voordat hulle die reis hervat, die flenterkarre gewoonlik noordwaarts, die treklorries suid. Ou Gert vererg hom altyd, luidrugtig en voorspelbaar, vir die karre met die getinte ruite, en vir die sewe stuks – “en twéé babas!” – wat uit ’n klein sedanmotortjie klim en ’n draai by die toilette gaan maak.
Vanmiddag verloop dinge egter anders. Nie dat hy wat Saais is ’n sê in die besigheid gehad het nie; toe die ander drie hom by sy huis kom oplaai, was die besluit klaarblyklik reeds geneem. “Ons gaan kyk ’n bietjie by die bruggie, daar waar dominee gister die aardige ondervinding gehad het,” het Sannie gesê toe hy inklim, haar oë blink en uitnodigend. Maar toe sit sy reeds voor by Gert. “Siestog, dominee was vanoggend só … so ánders op die kansel, het julle agtergekom? Nie ’n woord oor die lyk nie. Maar jy kon aan sy hele houding sien hoe die ding hom pla; ek het hom só jammer gekry!”
Nou kruie hulle maar in die bruggie se rigting, meestal in stilte. Gert klou dat hy bars om die kar in die pad te hou, en die vroumense sit en staar na die skare wat voor die bruggie versamel het. Saais moet erken dat hy lanklaas soveel mense by die brug gesien het. Seker laas met een van die groot vloede. Voetgangers en fietse en kleintjies wat speel. Knap voor die brug staan ’n groot swart kar met donker ruite dwars teen die pad getrek. Die musiek dawer by die oop deure uit. Iemand gee bierbottels uit die kattebak aan. ’n Sjebien op wiele, glimlag Saais, die berg wat na Mohammed toe kom.
“Die hele lokasie is natuurlik hier!” oordryf Gert.
“Ook maar mens, ook maar nuuskierig,” sê Sannie.
Saais is sommer vies. Hoekom sy voor by ou Bitterbal ingeklim het, weet nugter. Gewoonlik sit sy agter langs hóm. Nou moet hy met Langjohanna Snyman se ouvrou-oliekolonie op kort afstand klaarkom.
“My heretjie, kyk net dáár!” roep Sannie skielik en beduie na regs. Net waar die bruggie se randsteen begin, lê ’n bloederige bondeltjie so groot soos twee vuiste. Saais moet so half oor Johanna buk om behoorlik te kan sien. Haar reukwater kriewel in sy neus op. Hy wil nies. Noodgedwonge moet hy na haar gryp om nie sy balans te verloor en halflyf oor haar te val nie. Skielik begin sy te babbel: “Ja-nee, as dít darem nie ’n klomp bloed is daai nie, is my naam nie Johanna Snyman nie! Seker nog van gister se lyk,” hyg sy. “En kyk daar, hulle het al weer iets brandgesteek ook! Hulle kan mos nie lewe as hulle nie iets kan brandsteek nie!”
Saais kyk na die groepie kinders wat met ’n stok in ’n swartgebrande bondel krap. Dis maar net papiere, wil hy sê. Wys my watter kind kan ’n stuk papier wat los rondlê weerstaan. Maar hy sê liewers niks en haal sy hand van Johanna se knopperige knie af. Netnou dink sy hy het allerhande bedoelings. Asof hy twee keer na haar kant toe sal kyk, die ou stroopsoet hemelbesem.
Sy en haar man was ’n aardige kombinasie, onthou Saais. Die ou is dood op die vloer van die kaasfabriek waar hy die vername bestuurder was. En haar naam is net Johanna Snyman hier op die dorp. Wanneer hulle Desembers Kaap toe gegaan het, was hulle Cuttmann. Twee t’s en twee n’e.
“Altyd in hotelle gebly,” het Saais vir Piet Paai ingelig toe dié op ’n dag afgegaan het oor die belangrike lang vrou wat kom kla het oor ’n hoenderbeentjie in ’n pastei wat sy die vorige dag gekoop het. “Antwoord altyd iewers aan die Rand wanneer die ander grênd mense