In God se teenwoordigheid. Johan Smit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу In God se teenwoordigheid - Johan Smit страница
Januarie
In die begin
Ons begin die jaar by die begin, toe God die hemel en aarde geskape het. Dit is sekerlik gepas om die jaar met verwondering te begin, verwondering oor die grootsheid van ’n Skeppergod, en verwondering oor die plek wat die mens in God se skeppingsplan ingeneem het. Ons leer ken ook God se bedoeling met sy skepping, en veral dan met die mens wat na sy beeld geskape is.
Later in die maand gaan die verwondering oor in hartseer oor die mens se hardnekkige weerstand teen God se wil. God se goeie bedoelinge met sy goeie skepping word deur die mens in die wiele gery. Wat God as “goed” bestempel het, word ’n gebroke werklikheid. Mens en skepping ly die bittere gevolge van die sondeval.
1 Januarie
In die begin …
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Genesis 1:14
So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: Ek is die Here; daar is geen ander nie. Jesaja 45:18
Kom ons begin die nuwe jaar by die begin – toe God hemel en aarde geskep het. Ja, oor die skepping – die manier waarop God geskep het en die tyd wat die skepping in beslag sou neem, oor evolusie en aapmense en allerlei teorieë oor ’n oerknal waarmee al wat leef aan die gang gesit sou word – oor al die dinge word heftig geargumenteer. En so al stryende oor die onbegryplik grootse gaan die wonder van God se skeppingswerke by ons verby. Ons soek antwoorde en ons neem onverbiddelike standpunte in, maar ons vergeet om ons Skeppergod te aanbid en ons beperkte insig en kennis te bely.
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. God het op sy eie unieke manier ’n proses aan die gang gesit. Die Bybel noem dit skepping, om iets kreatiefs te doen, om uit niks iets te voorskyn te bring. Kunstenaarswerk. Maar veel meer nog: God se skepping roep chaos tot orde. God maak die onbewoonbare bewoonbaar. God skep ’n tuiste. “Onbewoonbaar” en “donker” is twee woorde wat ’n toestand beskryf. Dit is die chaotiese toestand voordat God se skeppende vinger in beweging gekom het.
Skeppergod, ek eer U as dié God wat uit niks die wonder van lig en lewe skep. Ek aanbid U as die God wat uit chaos orde skep. Amen.
2 Januarie
Laat daar lig wees!
Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. Genesis 1:3–4
Jy moet dit oor en oor sê: Die Bybel is nie ’n natuurwetenskaplike teksboek oor die skeppingsgebeure nie. Hier word byvoorbeeld gepraat van die “aarde” wat woes en leeg was met ’n watermassa waaroor God se Gees gesweef het – maar selfs die aarde moes deur God geskep word. Ons kry die gevoel dat hier na woorde getas word om die onverwoordbare uit te druk. Maar dit wat wel saak maak, kom duidelik aan die lig: God is skeppend werksaam!
Vir die Bybelskrywer gaan dit nie oor die wanneer en die hoe van die skepping nie, maar oor die dát en die Wie. Dat hemel en aarde geskep is en nie sommer net van alle ewigheid daar was nie, en dat God die Skepper is. Oor die wanneer en die hoe kan mense na hartelus die een na die ander teorie uitryg. Wat saak maak, is die wesenlik belangrike: God het die hemel en aarde geskape.
En God se bedoeling kom aan die lig: Hy wil uit dit wat woes en leeg en ongeorden is nuwe lewe orden. En die woorde waarmee God se skeppingsplan begin, die knal van die afsetter se pistool, is die volgende: Laat daar lig wees! En sommer op die heel eerste skeppingsdag word orde teweeggebring in die skepping van lig. Lig is lewe. Vanaf dag een van die skepping sou lig en duisternis in God se geskiedenisboek ’n deurslaggewende rol speel.
Here, dankie vir die lig wat dag vir dag vir lewe en groei sorg. Dankie dat U lewenslig ook my lewe bestraal. Amen.
3 Januarie
Lig én duisternis
Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. Spreuke 4:18–19
Reg aan die begin hoor ons al van lig én duisternis. Sonder lig is daar nie lewe nie. Alles wat ná die skepping van lig aan die orde kom, is vir lewe van lig afhanklik. Lig is lewe. Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat lig en duisternis dwarsdeur die Bybel sleutelbegrippe word. Om naby God te lewe, beteken om in die lig te lewe. Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig …(Spr 4). Goddeloosheid word met duisternis verbind.
Die skepping van hemel en aarde was inderdaad ’n ligpunt op die Goddelike agenda. Maar die duisternis het toe nie uitgebly nie. Die donkerte wat deur sonde veroorsaak is, het ’n verwoestende, dodelike mag geword wat God se goeie bedoelinge in die wiele gery het, ’n hardnekkige poging om die lig uit te doof. En hierdie keer was die duisternis ’n keuse wat deur die mens self uitgeoefen word. Sodra ’n mens jou rug op God draai, het jy van die lig van die lewe weggedraai. Dan kies jy die donkerte van die dood.
Nogtans kan die lig van God se genade nie gedoof word nie. Op ’n dag het die ware lig na die wêreld gekom om finaal die donkerte van die dood te oorwin. Hy het gesê: “Ek is die Lig wat lewe gee.” Ná die ligbevel wat die skepping aan die gang gesit het, is die koms van Jesus, die Woord wat mens geword het, die Woord waarmee God sy Herskeppingsprogram op dreef laat kom.
Dankie Jesus dat U die lig is wat ewige lewe gee. Dankie dat God se skepping in u herskeppende liefde vervolmaak is. Amen.
4 Januarie
U is met ’n kleed van lig omhul
Ek wil die Here loof! Here my God, U is baie groot, U is beklee met koninklike luister, U is met ’n kleed van lig omhul. Dit is U wat die hemelkoepel soos ’n tentdoek gespan en vir U ’n woonplek ingerig het oor die waters daarbo, U wat op die wolke ry, op die vleuels van die wind, U wat die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars, … Psalm 104:1–4
Psalm 104 is een van die mooiste lofgedigte oor die skepping. Die Skeppergod word geloof en geprys vir die wonder van ’n ongelooflike skepping. Dit is duidelik dat die digter en sy tydgenote ’n aantal beskouinge oor die skepping en die Skepper het wat vir ons effe vreemd op die oor val. Die feit is egter dat God in elke vers verheerlik word vir die grootsheid van sy skeppingsdade.
Wanneer die digter vir God as Skepper beskryf, sien hy Hom beklee met koninklike luister … met ’n kleed van lig omhul. Lig is hier die teken van glorie, die teken van Goddelike heerlikheid. En dan kom hy met die hemelbeeld vorendag wat destyds aan die orde was: Die hemel is soos ’n tent gespan en bokant die tent en die watermassa is God se tuiste. Al die elemente is in God se diens, sy boodskappers en sy rytuie! Ja, vir seker dink ons op grond van nuwer insigte anders oor die aard van die skepping. Maar ons verwondering oor God se skeppingswerke bly nog dieselfde: dié is onbeskryflik groots. En ons lof en aanbidding en bewondering vir die Skeppergod is nog net so gloeiend soos dié van die Psalmdigter.