Ware verhale van vergifnis. Helana Olivier
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier страница
Titelbladsy
WARE VERHALE VAN VERGIFNIS
Loop die pad na herstel
Helana Olivier
LUX VERBI
Opdrag
Aan Pieter, Lloyd, Michelle en Mia
omdat julle wéét van vergifnis
Aanhaling
“En wanneer julle staan om te bid,
en julle het iets teen iemand, vergewe
hom; dan sal julle Vader wat in die
hemel is, julle ook julle
oortredings vergewe.”
Markus11:25
Inleiding
Inleiding
Vergewe? Oor my dooie liggaam! Vergeet? Nooit nie!
Klink dit bekend?
Dalk was die lewe eens op ’n tyd vir jou rooskleurig. Maar toe, op ’n dag, het alles verander. Die lewe het begin “gebeur”. Dalk kon jy nie swanger word nie. Of jou kind is gestremd gebore. Dalk was jy iemand wat moes hoor jou pragtige kind is noodlottig beseer of word ’n para- of kwadrupleeg. Jou lewensmaat is dalk nie die mens wat jy gedink het nie – jul kind word misbruik of jy word fisiek mishandel. Dalk het jou geliefde in die tronk beland weens misdaad. Jou lewensmaat het jou dalk verruil vir ’n “beter opsie”. Jy is dalk selfs die ander kant van die munt: Jy is die persoon wat die hele gemors veroorsaak het! Daar loop seker nie ’n enkele mens op hierdie aarde rond wat nog nooit te na gekom is of wat nie self iewers langs die pad iemand gekwets het nie.
Wanneer mense en situasies ons teleurstel, verloor ons soms moed en wroeg ons. Ons voel dalk deurentyd kwaad, verbitterd of so gegrief dat negatiewe gevoelens ons begin verteer. Die situasie waarin ons is, beïnvloed ons dalk fisiek en geestelik sodanig dat ons al dieper in ’n ál donkerder gat wegsink.
Hierdie boek se bydraers het elkeen ’n krisis beleef en hulle vertel ons hoe hulle die pad na vergifnis geloop het. Almal van ons weet vergifnis is nie maklik nie ... totdat ’n mens op ’n dag besluit om met die proses te begin en voel hoe ’n groot gewig van jou afrol! Weer eens mag jy dalk die ander party wees: Die persoon wat vergewe word.
Die goeie nuus is dat vergifnis nié iets emosioneels is nie. Dis ’n keuse. Moenie van ’n berader of iemand anders verwag om jou vry te maak nie. Hulle kan jou slegs lei in die proses. Vryheid is die gevolg van jou eie keuses. Moenie toelaat dat onvergewensgesindheid jou laat voel jy het nie mag oor ’n situasie nie. Dis vals om te glo jy is hulpeloos.
As ’n mens verbitterd of angstig bly, kan jy nie jou lewe herbou nie. Bykans elke bydraer getuig van die vreugde wat hulle ervaar het nadat hulle uit die donker gat opgestaan het. Almal van hulle wil graag hierdie bevrydingsboodskap daagliks uitdra en hul bydrae tot hierdie boek is ’n beskeie deel van hul dankbaarheid teenoor God vir sy genade. Die boodskap wat soos ’n goue draad deur hierdie verhale loop, is dat ’n mens jou kán losmaak van jou pynlike verlede en dat dit moontlik is om te vergewe, al is dit nie altyd moontlik om ooit heeltemal te vergeet nie. Knip die bande van die pynlike verlede en word vry!
’n Baie spesiale woord van dank aan elke bydraer wat tussen ontstellende herinnerings moes gaan delf om hul reis na algehele bevryding weer te gee. Elkeen van julle het my lewe op ’n besondere wyse geraak. Ek glo jul openheid oor hierdie onderwerp sal mense wat nog diep in ’n donker gat lê, laat opstaan en weer vry laat asemhaal. Ek glo vele mense sal ná die lees van jul verhale, vrede, vryheid en die volheid van die lewe ervaar. Groot seën vir elkeen van julle.
As ons die volgende vier “B’s” in gedagte hou, sal die pad na ’n vergifnis dalk makliker wees:
• Besluit ... dis ’n keuse om nie meer ’n gevangene te wees nie.
• Bid ... met Markus 11:25 se beloftes in gedagte.
• Bestudeer ... vergifnisverse in die Bybel.
• Wees Blymoedig en leef vry en in vrede ... wanneer jy vergifnis ontvang óf wanneer jy iemand anders vryspreek.
Helana Olivier
Verhaal 1: Van tronkvoël tot pastoor
1
Van tronkvoël tot pastoor
Dr Ross Olivier
Wanneer ek aan my lewe dink en wat van my sou geword het as dit nie vir vergifnis was nie, kan ek net sidder.
My lewensverhaal begin by my verraad teenoor mense wat my vertrou het en my die meeste liefgehad het. Dit is ’n verhaal wat opgesom kan word met die diepsinnige woorde van John Newton: “Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys, verlore seun ’n wegloopkind, weer in die Vaderhuis!” Die woorde van hierdie lied is op my lewe van toepassing.
Ek wil met jou my lewensverhaal deel, die verhaal van hoe my etiek gevorm, my waardes uitgebou en my houding teenoor my medemens verander is. My verhaal is gewortel in ’n diep geestelike gebeurtenis. Dis nie dat ek hiermee wil voorgee dat iemand wat godsdienstig is altyd goeie morele waardes nastreef nie. Ek is lank genoeg in die kerk om te weet daar is goeie gelowiges en minder goeie gelowiges in elke soort godsdiens. Die profeet Jesaja stel dit reguit: “Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer my met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af ...” (Jes 29:13).
Ons moet versigtig wees dat ons optrede nie met ons geloofsbelydenis bots nie; dat die dinge wat ons doen, onversoenbaar is met die belydenis waarop ons ons beroem.
Dit daar gelaat. My morele bekering was in wese ’n sielservaring. Dis die verhaal van my oorgang van die donker na die lig, van die eie ek na God.
Ek is nie godsdienstig opgevoed nie. Ons het nie as ’n gesin saam kerk toe gegaan nie. Afgesien van troues en begrafnisse was ek, tot die Sondag dat ek ingeseën is, nie een keer saam met my ouers in die kerk nie. Hulle het beslis nooit met ons kinders oor God en godsdiens gepraat nie. Ek onthou wel die kort tydjie toe ’n wonderlike paartjie, meneer en mevrou Banks, by ’n huis in ons straat ingetrek het. Hulle was ooglopend gelowig en het God gedien. As deel van hul Christenroeping het hulle die kerklose ouers in die omgewing gevra of hulle hul kinders Sondae mag Sondagskool toe neem. Vir die meeste van die ouers was dit so effens van ’n verleentheid en hulle het maar ingestem. So het dit gekom dat meneer en mevrou Banks elke Sondagoggend opgedaag het om my en my broer te kom haal. Ons twee was altyd ewe netjies uitgevat in ons Sondagklere, kuiwe platgekam en glad geolie met Brylcreem, skoene blinkgevryf – twee boeties, gewas en gekam vir die geleentheid.
Dis hoe ek die Metodistekerkie in Brakpan ’n kort tydjie bygewoon het. Ek het die weeklikse uitstappie geniet, maar kon nie sê dat enigiets van ’n godsdienstige aard tot my deurgedring het nie. Of so het ek gedink! Soos dit op myndorpies gaan, het óf ons, óf die Banks-gesin weggetrek en was dit die einde van my kort kennismaking met die kerk. So het ek het maar grootgeword sonder enige ware begrip van wat bekend staan as “geestelike en morele waardes”.
Ná matriek is ek opgeroep vir twee jaar militêre diensplig. Teen my agtiende verjaardag was ek