Eerste gedigte. Antjie Krog
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eerste gedigte - Antjie Krog страница 1
Antjie Krog
EERSTE GEDIGTE
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Eerste gedigte mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
VIR PA
DOGTER VAN JEFTA
Here by Abel-Kerámim
Here by Mispa in Gilead
Here God van Jefta
hier is my liggaam!
Hier is my vlies – veilig soos ’n retina
en heel soos ’n groen granaatjie.
Hier is my maag – ’n koue kaggel
wat gelate sal waak oor die maandelikse vloei.
Hier is my borste – twee bloeiende druppels
wat nooit met liefde gesuurdeeg sal word nie.
Hier is my hande liewe Here
sterk en gewillig soos my hart.
Van nou af is ek ’n bruid
bevrug deur Gees,
van nou af is ek vroedvrou vir ’n volk,
van nou af verwag ek
U.
MA
Ma, ek skryf vir jou ’n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
’n kaalvoet gedig –
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.
BLARE
Roer jou voete deur die droë blare
roer hulle
roer hulle
want ruik jy die winter?
hoor jy die ouderdom
sien jy die rou roep van alles wat sterf?
O roer tog jou voete deur die blare
roer hulle
roer hulle.
FUGHETTA VIR DRIE STEMME
KRUISIGING
Jy het my kruis op die smal van jou
skouers gesleep; al teen die skuinste op,
terwyl jou sagte voete struikel oor
die swart kole van die kop.
Jou hare was spoegdeurweek
jou vleis deur my gerib, geëet,
terwyl ek wonder wanneer jou liefde vir my sou breek.
Ek het jou op die kruis neergeruk
en met ’n haan wat aanhoudend
in my ore kraai, die swaar spykers
deur die stengels van jou hande gedruk
en die slae waansinnig oor die stad laat weerklink.
Ek het asyn oor jou gesig gegooi
toe jou tong soos ’n swael tussen jou tande blink.
Trane het in jou ooghoeke opgestoot
maar ons het gesing en oor jou klere geloot.
Ek het ’n spies in jou sy gesteek
en angstig gewens dat jy moet breek
maar jou wimpers, nat en dig soos vlas,
het eers later toe dit om ons donker was
gesidder en gehyg: my God, my god het my verlaat.
BUITE NINEVÉ
Êrens vlakby Ninevé staan ’n boompie:
’n klein boompie met aparte wit dorings
met ’n klein Europa
in sy Afrika.
Dié wat in jou koelte sit, sing nie vir jou nie,
dié wat jou sade pluk, gee jou nie water nie
en dié in Ninevé juig oor die wurm teen jou stam.
Hulle juig oor die sekel-oë,
hulle juig oor die pote wat aanhou loop
aanhou, aanhou loop.
Ék sal vir jou liedjies maak, my boompie
ek sal vir jou bid,
want waar ek snags ook al slaap