Eerste gedigte. Antjie Krog
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Eerste gedigte - Antjie Krog страница 3
wat by jou sal bly soos ’n klein warm akkedissie
eendag as jy oud en allenig in die son sit.
VIR JOU
Ek offer vir jou ’n purper duif
Sy krop vol eensaamheid
Sy oë twee leegtes wat staar
deur die tralies om my hart.
Sien jy hoe eerbiedig ek dit vashou
sien jy die halfmane onder my oë
my gebreekte hande . . .
maar ek offer elke dag
vir jou
net vir jou, want ek het jou lief.
BOKKIE
My bokkie ek en jy
lê onder in die vlei
tussen wilde riet en vry.
Jou lyfie nes ’n bruin viool
gestrek om eers harpuis te kry.
Daar’s bloureën in jou oë
aandblom in jou hare
en uit jou naeltjie peul ware
wit jasmyn.
Ek sny jou mond en drink jou sap
en huil as bloureën uit jou oë tap.
Ek kneus die blomme in jou hare
breek jou fyngestemde snare
en skreeu hardop as ek jou stukkend kap.
HOE VER IS EENDAG?
(Hoe ver is eendag?
eendag het ’n aangepakte tong
aartjies wat op droë lippe rafel
en pienk tande in ’n glasie water oppie tafel
Eendag sal ek jou skimmel kop moet streel
en jou insak glimlag se ou asem met jou deel.)
Ag hou my vas; draai my rond
ek proe die aarde in jou mond
Kom ons dans op ’n trippens in die straat se lig
kom ons lê in die dou; jou sagte maag teen my gesig
kom ons lag roekeloos teen die droë son
en vang die dae wat skoon uit die kweekgras kom
Kom breek my oop en drink my bloed
want die ouderdom is net soos kaggelroet
kom voordat die jonkheid ons begewe
kom, ag kom tog, laat ons lewe.
WAAROM?
Waarom het jy vandag aan my hand gevat?
met jou oë windblou en groot soos ’n hartseer,
met jou bors verlate en skraal soos ’n strand
waarop ek kon dwaal
met jou gedagtes om my enkels;
waarop ek kon huil
met jou gesig donker in my hare;
waarop ek kon lê
met my vuiste in die skadu’s van jou arms.
Waarom het jy vandag vir ’n oomblik
in die deur van jou oë kom staan?
net sodat ek daelank deur die
bome van my hart loop en luister
na die monnike van jou hande,
hoe hulle soms nog na my soek;
net sodat ek daelank oor jou
loop en wonder.
AFSKEID
Die aand kom stil oor die veld geloop
nugter en alleen –
die maan klim teen die bloekoms uit
en versplinter alles om ons heen.
jou blou hempie roer in die wind
jou hare krul deur my vingers
sag en blond soos dié van ’n kind,
ons staan stil bymekaar
ons oë rou
ons wange huil
ons palms wentel om mekaar
want jy gaan weg armie toe
Heidelberg toe vir ’n jaar.
jy moet altyd so bly soos nou
moenie dat baie nagte se water
slote kerf in jou gesig,
moenie dat baie dae se ligte
sterre breek in jou oë
vou saans jou hande
en bid soet woorde teen my bors.
KIEWIETJIE
My flenterhartjie is gestelt
op rooi dun kiewietbeentjies in die veld
wat aaklig roep en soek na liefde
as ek in die prik-prik
van die dubbeltjies verstrik.
STASIE
Op watter stasie, my liefling, het jy my gelos
in watter gebreekte koelte
onder watter brandsiek bos
teen watter sipres het jy my gekruisig
met