Die winskopie. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die winskopie - Sarah du Pisanie страница 7
“Ja, meneer.”
“Sien jy dus kans om saam met my te kom?”
Die seun loer onderlangs na Jaap en toe hy die onderdrukte woede in Jaap se oë sien, praat hy vinnig. “Ek sien kans, meneer.” Daar speel ’n vreemde glimlaggie om die seun se mond en Gerhard kan sweer dit is vreugde en verligting wat sy oë so laat blink.
Almal in die kroeg teken as getuies en Gerhard maak heel laaste sy swierige handtekening onderaan die kontrak. Hy oorhandig een afskrif aan Kurt, wat dit versigtig opvou en in sy sak steek.
Jaap Visser se hande lyk soos kloue toe dit gretig om die geld sluit.
Gerhard keer egter toe Jaap Visser vinnig by die kroegdeur wil uitgaan.
“Nie so haastig nie, meneer Visser.”
Jaap gaan sku en waaksaam staan. Sy een oog meet die afstand na die deur toe, terwyl sy hande stywer om die geld klou.
“Dit is ’n wettige kontrak. Jy gaan nie die geld terugvat nie!” Sy stem is ontdaan van alle temerigheid.
“Ja, dit is ’n wettige kontrak, Jaap Visser. Ek is ook nie van plan om die geld af te vat nie. Ek wil net hê dat die ander hier getuies moet wees van wat ek regtig vanaand gekoop het.”
Hy sien die vrees en skrik in die man se oë en spring vinnig voor hom in toe hy by die deur probeer uitspring.
“Klaus! Kom staan net so ’n rukkie hier in die deur.”
Klaus beweeg vinnig vir sy groot maag en versper die uitgang. Die ander staan nuuskierig nader. Soveel opwinding het hulle in geen jare gehad nie.
Die seun deins bang en verbouereerd terug totdat hy met sy rug teen die muur staan.
Gerhard kom nader en die vrees in die seun se oë maak hom week. Sy stem is dus sag en gerusstellend. “Ek het julle gisteraand gevolg toe julle hier uit die kroeg uit weg is. Jy hoef nie so bang te wees nie. Ek weet presies wat julle planne was.”
Die onbegrip meng met vrees en die seun deins agteruit toe Gerhard sy hand vinnig uitsteek en die haarstuk met een beweging van sy kop aftrek.
Sy hare is nogal lank vir ’n seun s’n. Dit krul agter in sy nek en om sy ore.
Die manne staar ongelowig na die metamorfose wat voor hulle oë plaasvind. Die werklikheid dring egter nie tot hulle deur nie. Dit is eers toe Gerhard verduidelik, dat die verbasing op hulle gesigte plek maak vir ongeloof en woede.
“Dit is dieselfde seun wat gisteraand hier ingekom het met sy geweer. Hierdie was nog een van hulle vindingryke planne. Ek het ook gehoor dat hierdie seun onwillig in hierdie skelmstreke ingesleep word. Hierdie uitvaagsel is nie eens sy pa nie. Dit is hoekom ek vanaand hier is. Ek wil hierdie kind vir goed losmaak van hierdie ... hierdie skelm gedrog!”
Paniek kom sit vlak in Jaap Visser se oë en Gerhard se stem is yskoud en gelaai met woede toe hy die woorde afgemete uitsis. “Jy moet jou ry kry. As ek jou ooit weer iewers sien, slag ek jou soos ’n skaap af en hang jou aan die naaste doringboom op.”
Die mans in die kroeg kry stadig lewe. Selfs vir hulle wat heeldag in die veld is en saam met die gevare van hierdie wilde land lewe, is soveel korruptheid ongehoord en onaanvaarbaar.
“Jou lae vuilgoed!” Klaus gryp vir Jaap Visser voor sy bors en skud hom soos ’n hondjie heen en weer. “Jy wou ons hier kom bedrieg het. Jou satanskind! Jy wou ’n seun aan ons verkoop het. Jy het goed geweet hierdie manne, en ek inkluis, sou alles wat ons besit betaal het vir ’n vrou.”
Die soldate storm woedend op hom af. Gerhard keer egter vinnig.
“Laat hom gaan. As ek langer in sy skelm bakkies moet vaskyk, sal ek siek word.”
Die mans staan onwillig terug. Klaus los hom stadig en vee dan sy hand aan sy voorskoot af, asof dit vuil is.
“Net een ding nog, Jaap Visser. Onthou, ek het hierdie seun wettiglik gekoop. Hy is nou my eiendom.”
’n Vreemde glimlaggie kom trek styf om Jaap Visser se mond en sy woorde is lelik en sarkasties. “Onthou jy dit ook net. Jý het hom gekoop. Hy is nou joune om op te voed en te versorg.”
Gerhard sit sy arm beskermend om die seun se skouer, wat so hartseer en verbouereerd lyk.
“Ek sal vir hom sorg. Ek sal hom nie dreig en afpers soos jy nie. Ek kyk gewoonlik goed na my eiendom.”
Jaap Visser verdwyn vinnig by die deur uit en dit is eers toe hulle die perdepote hoor wat vinnig weggalop, dat Kurt die stilte verbreek deur dawerend te lag. Die ander val stuk-stuk in totdat hulle die trane uit hul oë moet vee.
“Aarde, meneer Fouché, jy het ons darem vanaand van ’n ding gered! Ek sou darem woedend gewees het as ek alles wat ek gehad het, betaal het net vir ’n ekstra mond om te voed.”
Die seun krimp ineen en Gerhard se hart gaan na hom toe uit. Die arme kind. Hy het mos ook gevoelens en hy kry ook seer oor sulke woorde.
“Ek is baie bly dat ek gisteraand agter hulle aangery het. Anders was ek vandag al op pad plaas toe.” Hy druk die onwillige seun vorentoe tot teen die toonbank. “Kom sit, boet. Klaus, gee tog asseblief vir die kind iets om te eet en sommer ’n glas melk ook.”
Klaus sit ’n rukkie later ’n bord brood en koue vleis, asook ’n groot glas melk voor die kind neer.
“Jy sal ’n baie beter lewe hê by meneer Fouché, boet. Hy boer daar naby Windhoek en hulle het baie aandele in die kopermyne ook. Hy sal vir jou ’n ordentlike werkie kan aanbied.”
Die seun loer net onderlangs na Klaus en val dan hongerig weg aan die kos. Na die eerste sny brood loer hy versigtig na Gerhard, wat nou by een van die tafeltjies in ’n druk gesprek met Kurt is.
Klaus glimlag vriendelik na die seun wat nog so bang en verskrik lyk.
“Hy is ’n goeie man, dié meneer Fouché. Jy hoef nie vir hom bang te wees nie. Jy sien tog hoeveel moeite hy gedoen het om jou uit daardie nare man se kloue te bevry.”
“Is ... is hy getroud?” Die seun se stem is gesmoord toe hy met ’n mond vol brood probeer praat.
“Nee, hy is nie getroud nie. Sy ma bly nog by hom op die plaas. Sy pa is dood en sy broer is getroud. Die broer bly in Windhoek. Sy broer is eintlik die een wat altyd met die myne doenig is. Hulle is egter op die oomblik in Duitsland – hy en sy vrou.”
Die seun skud sy kop terwyl hy die laaste bietjie melk uit die glas drink.
“Wil jy nog hê?”
“Nee, dankie.” Die seun se oë is egter op Gerhard gerig wat stadig opkyk en lui vir hom glimlag.
“Is jy klaar?”
Die seun knik bevestigend en Gerhard staan op.
“Nou toe, kom ons kry koers.”
Die seun se oë soek egter deur die skemer kroeg tot hy die haarstuk wat eenkant op ’n tafeltjie lê, raaksien.