Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie страница 24
’n Lam gevoel styg stadig tot op die krop van Alet se maag. Sy het skoon vergeet . . . Sou Louis nog van die uitnodiging onthou? As dit sommer ’n belofte op die ingewing van die oomblik was en Louis dit nie meer onthou nie, gaan die kinders bitter teleurgesteld wees.
“Regtig, Martie? Watter kleur is dit?”
“ ’n Bruine, juffrou . . . en, juffrou, Mamma het vir ons nuwe rokke gemaak . . . elkeen twee . . . en . . .” Die blink kinderogies straal van verwagting.
Alet knip die trane vinnig weg. Louis Erlank, praat sy saggies met haarself, al kan ek en jy nie een oomblik lank in vrede saamleef nie, sal jy hierdie kinders nie kan teleurstel nie.
Sy besef dat sy met hom sal moet praat, hom daaraan sal moet herinner dat hy die Venters plaas toe genooi het. Maar hoe? Sal hy nie dalk dink sy wil haarself op hom afdwing nie?
Sy sal in elk geval ’n verskoning op die laaste oomblik aan Martha moet opdis, want sy sien nie kans om nou meer saam te gaan nie; sy sal wag totdat Martha nie meer kan kop uittrek nie. Maar vir Louis sal sy nou al die versekering gee dat sy nie meer gaan nie.
Honderde sinne word die volgende paar minute geformuleer en weer verwerp. Sy sal die saak pouse met hom moet bespreek.
Die kantoor is leeg toe sy ingaan om tee te maak. Sy vee die koppies uit en staan en wag, met haar rug na die deur, vir die water om te kook.
Die skrik spring in haar toe twee sterk hande haar van agter beetkry en ’n warm soen in haar nek druk.
Haar eerste gedagte is aan Louis. Wat sal hom nou makeer? Dit is egter in Gerhard se laggende gesig wat sy vaskyk.
“Gerhard! Wat maak jy hier?” Sy probeer loskom uit sy arms, maar hy draai om en druk ’n besitlike soen op haar lippe.
“Ek sal bly wees as julle ’n ander plek sal soek vir jul . . . jul vryery.” Louis blits die woorde uit.
Alet is lam van die skok. Gerhard het haar heeltemal onverhoeds betrap. Sy weet nie wat hom makeer nie . . . is hy dan nou heeltemal gek? Sy rem agtertoe.
“Los my, asseblief, Gerhard. Wat het jy hier kom soek?”
“Ek het net kom groet, mooiste! Ek moet onverwags vir ’n week weggaan. Jy moenie te veel verlang nie.”
Hy los haar en steek sy hand na Louis uit, heeltemal onaangeraak deur Louis se woedende oë en houding.
“Tot siens, Louis. Ek gaan vir ’n week of tien dae Windhoek toe. Jy moet mooi kyk na my meisie. Moenie haar te hard laat werk nie. Wanneer ek terugkom, moet sy fiks en vol energie wees, want dan wil ek haar ’n spesiale . . . ’n baie spesiale vraag vra waaroor sy baie goed sal moet nadink.”
Hy buk skielik af en soen haar weer vol op die mond.
“Tot siens, meisiekind, en jy mag maar na my verlang.”
Alles het so vinnig gebeur dat Alet net geskok na die deur kan staar waardeur hy vinnig verdwyn het.
“Juffrou Fourie!” Louis se stem sny soos ’n mes.
Alet se kop hang. Sy sien nie kans om Louis in die oë te kyk nie. Sy het lus en draai die moedswillige Gerhard se nek vir hom om.
“As ek met jou praat, juffrou, kan jy gerus die moeite doen om my in die oë te kyk.”
Stadig lig Alet haar oë. Sy bruines blits woedend in die verdwaasde bloues.
“Ek sal nie duld dat julle van die skool, van alle plekke, jul vryplek maak nie.” Hy staan met een beweging reg voor haar. “As jy geen skaamte het nie, wel, ek het! Ek ag my skool se naam hoog, baie hoog!”
Alet sê geen woord ter verdediging nie en dit maak Louis net meer woedend.
“Watter soort mens is jy? Ek het in ’n stadium gedink . . .dat jy anders is.” Hy wurg die woorde uit.
Alet het lus en sit haar arms om sy lyf en druk hom teen haar vas, styf vas . . . totdat al die haat en vooroordeel en wantroue uit hom gesypel het. Arme, ongelukkige mens! Hy treiter homself met sy haat.
Louis gryp haar aan haar boarms en skud haar.
“Ek sal dit nie toelaat nie . . . verstaan my mooi! Ek sal nie toelaat dat jy jou sleg gedra voor hierdie kinders en vir hulle ’n swak voorbeeld stel nie.”
Trane sypel stadig onder Alet se toegeknypte ooglede deur.
Louis staak sy geskud en los haar arms. Sy sak willoos in die stoel neer en druk haar gesig in haar hande.
Die woede in Louis wil nie bedaar nie; nie eens by die aanskoue van die blink trane wat op die lessenaar drup nie.
Hoekom moet die vroue in sy lewe altyd met ’n losbol deurmekaar raak? Hoekom kan hulle nie ook sterkte van karakter openbaar en hulle nie deur so ’n persoon laat meesleep nie?
“Jy moes lankal gehuil het. Nou is dit te laat! Jy moes al gehuil het toe jy daardie outjie in die Kaap, wat so lief vir jou was, in die steek gelaat het . . .”
Alet staar hom verbaas aan. Wat weet hy van ’n “outjie in die Kaap”? Sy het nog nooit van Pieter gepraat nie. Dit is seker maar . . . Sy gee die stryd gewonne, want sy woede bars weer oor haar los.
“As jy en Gerhard mekaar wil hê, om liefdeswil, vat mekaar dan, maar onthou net: Walvisbaai is ’n klein plekkie; dit is nie Kaapstad of Paarl of watter ander plek ook al nie. Hier weet almal alles van mekaar af. Moenie dink dat julle julle sleg kan gedra en niemand gaan daarvan weet nie.” Hy soek na woorde, want die woede maak hom stomp. “Kry julle nie snags genoeg van ’n geklouery aan mekaar nie? Moet julle dit nog hier in die skool voor die kinders ook kom doen?”
Alet staan stadig op en probeer verby hom druk om na haar klaskamer te gaan.
Hy versper egter haar weg.
“Verstaan ons mekaar baie mooi, juffrou Fourie? Nie hier nie en ook nie in die openbaar waar jy jouself belaglik maak voor hierdie kinders se ouers nie, want dan sal ek genoodsaak wees om die Departement hiervan in kennis te stel.”
Die blou oë, nog mistig van die trane, blits na hom.
“O, jy maak my siek . . . met jou sieklike brein en jou . . . jou haat in die mensdom . . . net omdat . . .” Sy stik in haar woede.
“Omdat wat, juffrou Fourie?”
“Net omdat ’n ou meisietjie jou in die steek gelaat het. Nou verdink jy al wat vrou is van slegtheid en onkuisheid. Jy . . . jy kan gerus ’n slag voor jou eie deur vee. Jy wat ’n mooi, vriendelike meisie nou al ses jaar lank aan ’n lyntjie hou – seker om haar op te voed, te leer om saam met so ’n suurknol . . . haatvervulde mens soos jy te lewe. Maar jy dink nie daaraan dat haar beste jare verbygaan nie!”
Louis druk die kantoor se deur toe, stap dan beslis op haar af en druk haar terug in die stoel.
“Sit! Ek nou wil ek weet by wie jy hierdie stories hoor!”