Die AA tot OE van seks. Riette Rust
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die AA tot OE van seks - Riette Rust страница 7
Alleentyd kan maak dat julle mekaar weer vind en ’n gevoel van veiligheid en vertroue skep. Dié tyd, minstens ’n halfuur per dag, ’n weeklikse afspraak en ’n wegbreeknaweek drie keer per jaar, is on-onderhandelbaar.
Stel grense vir jul kinders. Hulle moet weet Mamma en Pappa se kamer is “heilig” en dat hulle nie sommer daar kan inbars nie. Hulle moet besef dat julle alleentyd nodig het. Só leer hulle ook hoe waardevol en belangrik dit is om aan ’n huwelik te werk. (Onthou net om ook alleentyd saam met elke kind – weg van mekaar en van Pa – deur te bring.)
Jul slaapkamer is nie ’n plek vir kinderspeelgoed of vuil wasgoed nie. Maak dit sensueel: Speel mooi musiek, steek kerse aan, laat dit lekker ruik en gebruik pragtige lakens, soos dié van 600-draad- Egiptiese katoen.
WaarskuwingMoet nooit druk op mekaar plaas om seks te hê of net ter wille van jou maat toegee nie. Jou brein kry dan die boodskap dat seks nie lekker is nie, of dat jy dit nie wil hê nie. Só kan jou libido verder verlaag.Fokus eerder soms net op die sensuele, op vashou, soen en streel. Die goedvoelhormoon oksitosien vloei dan. Jou maat moet weet dat jy soms net vasgehou of gesoen wil wees, sonder penetrasie. Dit kan vir afwisseling ook vir hom lekker wees. |
C. FISIEKE OORSAKE
Pynlike seks, vaginale droogheid, die menopouse asook siektes en medikasie kan jou libido verlaag.
1. Pynlike seks
Een uit elke vyf vroue ervaar pyn tydens seks. Verskeie mediese probleme kan die oorsaak hiervan wees, waaronder vaginisme (of vaginismus), vaginale infeksies, velsiektes, endometriose, ovariële (eierstok-) siste, blaasontsteking of -probleme, ’n spastiese kolon, of vulvodinie (chroniese pyn in en rondom die vulva).
(a) Vaginisme
Vaginisme (sien “Wat is vaginisme?”) kan ’n sielkundige of fisiek-sielkundige oorsaak hê. Dis ’n groot probleem vir baie pare. Jy het dalk konserwatief grootgeword met die idee dat seks sonde is, of jy het vroeër seksuele trauma beleef, soos dat jy seksueel mishandel is. Dit lei daartoe dat jy seks met pyn assosieer en dat jou knypspiere tydens ’n poging tot penetrasie in spasma gaan. (Lees “Seks is seer” in Hoofstuk 3.) Klop by ’n seksuele gesondheidspraktisyn om hulp aan.
Die vroulike voortplantingstelsel
(b) Vaginitis
Vaginitis, oftewel inflammasie van die vagina, veroorsaak dikwels ontsteking. Die simptome verskil, maar ’n gejeuk, afskeiding en soms ook pyn of irritasie kom voor.
Daar is verskillende tipes vaginitis: Bakteriële vaginose word deur ’n wanbalans van bakterieë (wat normaalweg in jou vulva voorkom) veroorsaak. Sproei-infeksie word deur die (te ruie) gisswam Candida albicans veroorsaak. Dié swam kom in elk geval in jou vagina voor, meestal sonder simptome. Trichomoniase is nog ’n soort vaginitis wat deur ’n klein organisme, trichomonas, veroorsaak word.
As jy ’n afskeiding het waaroor jy bekommerd is, veral as dit jeuk, brand, sleg ruik of ’n snaakse kleur het, moet jy jou dokter of ginekoloog raadpleeg. As dit meer as een keer onsuksesvol behandel is, vra dat ’n vaginale depper vir ontleding weggestuur word. Moenie net blindelings aanhou met dieselfde antibiotikasalf of ander medikasie as dit nie werk nie.
(c) Endometriose
Wanneer endometriële weefsel (weefsel van jou baarmoederslymvlies) op organe buite jou uterus (baarmoeder) groei, soos op of in jou ovaria (eierstokke) en Fallopius-buise (die buise wat die eierselle van die ovaria na die uterus vervoer), op ligamente wat jou uterus ondersteun, of diep agterin jou uterus, het jy endometriose. Dit kan selfs jou organe aan mekaar laat heg. Siste kan ook vorm.
Endometriose word meestal gekenmerk deur erge menstruele pyn, chroniese bekkenpyn, pynlike seks en baiekeer ook onvrugbaarheid.
Die groeisels moet dikwels chirurgies verwyder word. Anti-inflammatoriese pynstillers kan die simptome help verlig. Die Mirena, ’n intra-uteriene apparaat (’n soort veer), die voorbehoedpil en progesteroonbehandeling kan ook help.
(d) Blaasontsteking
Ontsteking van jou blaas of blaaspypies kan jou urien laat brand en skerp laat ruik. Jy kan ook bloed daarin hê en heel moontlik pyn in jou laerug. Jy sal meer gereeld wil urineer.
Te nou blaaspypies, ’n te kort urienbuis, hardlywigheid of sommige antidepressante kan veroorsaak dat urien in jou blaas agterbly en bakterieë daar vorm. Besmetting uit jou eie dermkanaal kan ook ’n oorsaak wees, daarom moet jy altyd wanneer jy toilet toe gaan, van voor na agter afvee, nie andersom nie.
Jy sal meer geneig wees tot blaasinfeksie as jy swanger is, skielik meer as gewoonlik seks het, soos op jul wittebrood, te min sekshormone het vanweë die menopouse, of irriterende onderklere dra. (Katoen is die beste, want dit haal asem.) Sekere sepe, of deodorante spesifiek vir daardie intieme plekke, kan jou vel irriteer en dit kan dan soos ’n blaasinfeksie voel.
Gaan sien so gou moontlik jou dokter. Drink intussen baie water en maak jou blaas so goed moontlik leeg. ’n Urientoets sal bepaal of jy infeksie het of nie. ’n Spesifieke kursus antibiotika sal die infeksie laat opklaar. Navorsing wys dat bessiesap en spesiale bessiekapsules (in ’n vroeë stadium geneem) kan keer dat die infeksie vererger.
As jy herhaaldelik blaasontsteking kry, sal jou uroloog moet ingryp om byvoorbeeld jou blaaspypies onder narkose te rek.
(e) Spastiese kolon
Prikkelbaredermsindroom (spastiese kolon) kan pynlike seks veroorsaak. Simptome sluit in maagkrampe en abdominale pyn, opgeblaasdheid, asook hardlywigheid wat afgewissel kan word met diarree.
Jy kan dalk inflammasie en ’n wanbalans in jou derm hê; baiekeer as gevolg van ’n lang kursus antibiotika vir ’n ander siekte.
Gebruik probiotika om die natuurlike bakteriële balans in jou derm reg te stel. Drink baie water en rus genoeg. Heelwat kenners reken dat stres ’n rol in prikkelbaredermsindroom speel.
Gaan dokter toe as jy vermoed dat jy ’n spastiese kolon het. Jy sal heel moontlik krampwerende medikasie (soos Colofac of Buscopan) moet gebruik. Indien diarree ’n simptoom is, sal jy ’n teendiarreemiddel moet neem. Hardlywigheid kan hokgeslaan word met ’n massavormende middel (korrels wat vog absorbeer, uitsit en dermbeweging aanhelp).
Nuwer medikasie sluit in: pille wat serotonien in die dermkanaal naboots om só dermbeweging aan te moedig; medikasie wat vloeistofafskeiding in die dermkanaal bevorder; en antibiotika wat nie deur die dermkanaal opgeneem word nie (Rifaximin).
Jy sal moet oefen en ook gasvormende kos (soos uie, kool, droë boontjies, avokadopeer, sitrusvrugte, hawermout en klapper) uit jou dieet moet sny. Voldoende vesel is belangrik.
Maak seker dat geen ander medikasie, soos iets wat kodeïen bevat, jou hardlywigheid veroorsaak nie.
Stel vas of jy nie dalk laktose-intolerant is nie, want dan het jou liggaam nie die vermoë om laktose, ’n suiker wat in melk voorkom, behoorlik te verteer nie.
(f) Vulvodinie
Daar is nie een spesifieke oorsaak vir hierdie pyn rondom jou vaginale opening nie. Jy kon dalk die senuwees in die area seergemaak of geïrriteer het. Hormonale veranderinge, allergieë,