Danda. Chris Barnard
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Danda - Chris Barnard страница 7
Die diere is die hele tyd voor hom uit. Maar toe hy terug draai om die goed van die vlot te gaan afpak, is geeneen van hulle baie begerig om terug te gaan nie.
“Toe maar,” skree Danda, “ek gaan net ons goed haal.”
Ná heeldag se stilte klink sy eie stem vir hom vreemd. En die stilte daarna is skielik stiller as voorheen.
Danda gaan staan. Hy kyk ’n ruk lank om hom rond. En skielik is hy nie meer seker of dit ’n goeie plek is dié nie. Dis so oop en verlate. Hy bekyk weer die mingerhoutbos. Nee, dis weer te donker onder daardie bome. Netnou val daar allerhande snaakse goeters uit daardie bome op sy kop.
Dit moes hy nie gedink het nie! Want skielik moet hy dit ruiterlik erken; hy is bangerig.
Hoe ver is hy van Ou-Faans en Tante-hulle af? Seker maklik veertien kilometer. Niemand sal eers hoor as hy skreeu nie.
Waar hy ’n oomblik tevore nog bereid was om alleen terug te stap vlot toe, dring hy nou daarop aan om die diere saam te neem. Kiki en Vlooi maak of hulle doof is en Sindo luister maar traag. Net ou Ratel kom gedweë saam, mank en morbied.
Teen die tyd dat hy al die goed by die kampplek het en genoeg hout op ’n hoop gedra het vir die nag se vuur, is dit al sterk skemer. Voordat hy die vuur aansteek, kyk hy gou eers weer of die geldbottel nog veilig in die rugsak is. Toe steek hy die vuur aan en toe dit goed brand, haal hy sy jagmes af en begin rondkyk vir vier reguit takke vir die dak wat hy op die vlot wil bou.
Vir die diere is die vuur ’n laaste gerusstelling. Hulle weet nou daar gaan nie vandag verder gevaar word nie.
In ’n plaat raasblaar kry Danda net waarna hy soek: ’n paar jong grondlote, almal min of meer so dik soos sy enkel, lekker reguit en met stewige mikke bo-aan. Maar die hout is hard en later is dit so donker dat hy nie meer kan sien wat hy doen nie. Buitendien pla die waterblaas wat die oggend se spaankerwery hom besorg het, meer as genoeg.
Dis al heeltemal donker toe hy met sy pale by die vuur aankom – vier dikkes en vier dunnes. Die dunnes is aan die krom kant, maar dit kan hom nie meer skeel nie. Hy moet nog water kook en die diere lyk honger.
Danda gaan haal water in die ketel en sit dit op die vuur. Hy haal ’n blikkie maalvleis en die oopmaker uit en begin die blik oopsny. Kiki, Vlooi en Ratel is dadelik by. Maar Sindo is nêrens.
Hy kyk om hom rond.
“Sindo!” roep hy.
Hy kyk na die ander diere. “Waar’s daardie klein blikemmer?” vra hy. Vlooi swaai sy stert, spits sy ore. “Vlooi? Waar’s Sindo?”
Die hond swaai sy stert en kyk in die rigting van die rugsak. Danda volg sy blik, net betyds om te sien hoe Sindo stert eerste by die rugsak uitkruip en met groot oë oor sy rug rondkyk, sy snoet die ene krummels.
“Jou klein swerkater!” raas Danda en mik ’n klap in die skelm se rigting, maar die volgende oomblik sit Sindo op sy skouer en begin paaiend aan sy oor knibbel.
Danda voer die diere, maak daarna vir hom koffie en gun homself twee dik snye brood. Toe gooi hy nog hout op die vuur en begin sy dakpale se mikke regsny.
Die diere wil nie tot rus kom nie. Net Kiki stel in slaap belang – en soek vir hom ’n tak in die naaste boom. Ratel en Sindo bly rusteloos, klouter in die bome rond, verken die stukkie veld rondom die flikkerende vuur. Vlooi sit met sy ribbes teen Danda se been die donker en instaar. ’n Paar keer staan die hond op, ore gespits, en loop ’n paar tree weg, staar nuuskierig die nag in en kom sit dan weer by sy baas.
Toe die vlot se pale reggesny is, bêre Danda hulle naby die vuur, gooi ’n olieseil naby die dansende vlamme oop en kyk nog ’n keer of die rugsak met die geldbottel veilig is.
Daar is nog heelwat water in die ketel en hy sit dit op die warm as naby die vuur neer – naby genoeg om die water warm te hou en te ver om dit te laat droogkook. Toe sit hy nog twee dikkerige stompe op die vuur, rol homself in die seil toe en sleep die rugsak onder sy kop in.
Hy is moeg. Maar die slaap kom nie gou nie. Die nag is te stil na sy sin. Al wat hy kan hoor, is die rivier se water, iewers ’n paar krieke, en Sindo en Ratel wat steeds bo in die boom peuter.
Met tye sluimer hy in, maar word dan weer bewus van Vlooi wat sug, ’n uil wat iewers roep.
Hy wonder of Tante-hulle al agtergekom het hy is weg. Teen dié tyd seker wel. Miskien het hulle by Ou-Faans gaan hoor of hy iets weet. En Ou-Faans sê: “Ek weet niks van hom af nie.”
Danda mis vir Ou-Faans. Ou-Faans was altyd naby. As hy ’n probleem gehad het, kon hy maar net afstap na die klein pandakhuisie naby die rivier en Ou-Faans sou daar wees om mee te praat en by raad te vra.
Selfs oom Peet sou vanaand welkom gewees het langs die vuur; al het hy nie ’n enkele woord gepraat nie. Net om nog iemand by hom te hê, dit sou al help.
Danda probeer om nie te dink nie. Hy luister na die egalige gesuis van die rivier, en dit sus hom tot hy later van sy seer lyf en die harde bottel onder sy kop vergeet.
Hy slaap.
Toe, iewers in die middel van die nag, skrik Danda wakker van Vlooi se geblaf.
Hy kyk verbaas om hom rond, sien die vuur, sien vir Vlooi, en snap skielik waar hy is.
Vlooi blaf ’n tweede keer.
“Wat is dit?” vra Danda, nog deur die slaap.
Toe hoor hy iets soos ’n voetstap uit die rigting waarheen Vlooi en Sindo kyk. Hy gryp sommer ’n handvol gras en gooi dit op die kole en die vlam lek in die gras op. Die lig groei rondom Danda, tas al verder in die donker in. En skielik, toe die hond weer begin blaf, sien hy wat die diere sien.
’n Entjie van die vuur af, op die rand van die dansende lig, staan daar ’n man na hulle en kyk.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.