Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer страница 7

Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer

Скачать книгу

gegrinnik. “Toe maar, ek is nie so dom nie. Sien, Alta is saam met my daar weg. En sy sal weer saam met my teruggaan partytjie toe gaan . . . later.”

      “O, waar is sy dan nou?”

      “By die man wat sy liefhet. Iemand benede haar stand.”

      Sy het aan die giggel geraak. Hy ook. En toe het dit skielik stil geword tussen hulle. Toe hy sy arms na haar uitsteek, het sy gevoel hoe haar weerstand verkrummel en ’n desperate poging aangewend om hom te keer.

      “Moenie, Rudolf. Moenie my soen nie. Ek is bang.”

      “Moenie bang wees nie,” het hy skor in haar nek gefluister. “Ek sal jou nooit seermaak nie, daarvoor het ek jou te lief.”

      Toe hy dit vir haar sê, kon sy nie meer weerstand bied nie. Sy het haar willoos laat meesleur deur sy hartstog.

      Eers nadat alles verby was, wou sy beangs weet: “Wat gaan gebeur as ek swanger raak?”

      “Dit gebeur nie so maklik nie,” het hy haar vrees probeer wegpraat. “Nie sommer van een enkele keer nie.”

      Sy het hom geglo, want hy was soveel ouer en wyser as sy. Maar na daardie voorval het sy bly keer dat dinge handuit ruk en sy belangstelling in haar het gou begin verflou. Hy het haar nie meer so knaend opgesoek nie. En kort voor lank het hy en Alta saam begin tennis speel, saam gaan skaats, saam gaan fliek . . .

      Sy het aanvaar dat sy uitgedien was. Nogtans was die vernedering baie groot. Dit was nie lekker om hom en Alta saam te sien nie. En die volgende jaar op universiteit het sy agtergekom hoe gewild hy regtig onder die meisies op die kampus was. As eerstejaarstudentjie kon sy nog minder op sy belangstelling aanspraak maak as tuis. En toe kom die naarheid, vind sy uit sy is swanger!

      Hy wou dit aanvanklik nie glo nie. Later het hy ontken dat dit sy kind kan wees. Uit skone desperaatheid het sy ’n brief aan sy ouers geskryf – met rampspoedige gevolge.

      Hulle het haar by die universiteit kom oplaai, al haar besittings reeds in tasse gepak, en toe het hulle haar by ’n derderangse losieshuis in een van die minder gegoede woonbuurte gaan aflaai. Sy pa het haar ’n stewige tjek en die adres van iemand wat aborsies uitvoer in die hand gestop en haar gewaarsku om nooit weer haar voete naby ’n Mulder te sit nie.

      Suster Jo gee ’n suggie en verminder snelheid om in te draai by die afdraaipad na die plaas. Dit was weer haar destydse skoolhoof wat tot haar redding gekom het. Hy het ’n kinderlose egpaar geken. Gegoede mense wat bereid was om haar kind se peetouers te wees. En tot vandag toe, dink suster Jo, was sy nog nooit spyt dat sy Darius en Sanet van Zyl leer ken het nie.

      Hulle het haar deur alles bygestaan. En na Anton se geboorte was dit vanselfsprekend dat sy die kind by hulle sou laat terwyl sy met ’n verplegingsloopbaan begin het. Hulle is ook die enigste mense wat weet wie die vader van haar seuntjie is. In ’n oomblik van swakheid het sy eendag teenoor Sanet gebieg. Maar hulle respekteer haar wens dat niemand anders dit moet weet nie, allermins Rudolf Mulder self.

      Toe die plaasopstal in sig kom, roer ’n opgewondenheid in haar. Dit gaan die eerste keer in ’n lang tyd wees dat sy so lank haar kind by haar gaan hê. Sy kom kuier weliswaar gereeld hier op die plaas wanneer sy haar vry nagte het, maar om hom ’n hele maand net vir haarself te hê gaan wonderlik wees!

      Dit is egter asof daar ’n stroefheid tussen haar en die Van Zyl-egpaar is. Sou dit wees omdat hulle ’n hele maand sonder Anton sal moet klaarkom?

      Sy kom later agter die rede is iets heeltemal anders. Hulle het oor die radionuus gehoor van Rudolf Mulder se ongeluk . . .

      “Ja, ek weet daarvan. Hy is gisteraand opgeneem in die saal waar ek werk.”

      “En jy sê dit nou eers vir ons!” laat Darius verwytend hoor.

      “Wel, ons het nog nie juis tyd gehad om daaroor te praat nie, het ons? Maar wat maak dit in elk geval saak? Julle weet hoe voel ek teenoor hom. Van my sal hy nooit hoor van Anton se bestaan nie. Sover dit hom aangaan, het ek destyds die aborsie ondergaan en klaar. Ek sal liewer sterf as om teenoor hom te beken dat ek dit nie ondergaan het nie!”

      Ondanks haar beslistheid lyk dit nie of Darius en Sanet heeltemal gerusgestel voel toe sy en Anton oplaas die lang pad Durban toe aanpak nie.

      Twee weke lank kry sy dit reg om heerlik vakansie te hou. Rudolf met sy gebreekte rug en die Kaap is daar ver. Sy geniet elke oomblik saam met haar kind. Soms raak sy self amper weer net so verspot soos ’n kind wanneer sy saam met hom in die branders baljaar of in die pretpark speel.

      Maar van die derde week af begin sy dink aan die Kaap, en toe die laaste week aanbreek, kry sy ’n beklemmende gevoel. Soms oortuig sy haarself dat haar vrees oorbodig is. Rudolf kan haar tog niks aandoen nie. As hy haar herken en uitvra oor daardie tyd, sal sy maar net sê sy hét destyds ’n aborsie ondergaan en klaar.

      Maar soms is sy bang sy kan nie oortuigend genoeg jok nie. Wat gaan hy doen as hy op ’n manier vasstel daar is wel ’n kind? Wie sê hy sal nie sy seun wil opeis nie? Dan het hy ’n erfgenaam vir al sy miljoene. Ondervinding het haar al geleer ryk mense kan wêrelde met hul geld versit. Sy sal geen kans teen hom hê nie as hy sy seun wil hê en dit loop op ’n hofsaak uit nie.

      Rudolf Mulder kan aanvanklik nie glo sy onderlyf sal die res van sy lewe verlam wees nie. Hy wil dit nie glo nie. Aan almal wat met hom in aanraking kom, vertel hy die dokters en x-straalmasjien het ’n fout begaan.

      Hy vertel dit ook vir Julia en tant Betta. Dit lyk of Julia hom glo, maar tant Betta kan die skeptiese uitdrukking op haar gesig nie wegsteek nie.

      ’n Week na sy opname begin hy self twyfel. Maar hy mág nie twyfel nie! Hy weier om enige verdere besoekers te ontvang. Dit is hulle wat hom laat twyfel, sê hy vir homself. Dit is die besoekers, dokters, verpleegsters en terapeute, almal doemprofete. Hy gaan almal nog verkeerd bewys!

      In die tweede week na sy opname raak sy vertwyfeling al erger. As dit regtig so is, wat dan? En hoekom? Hy raak opstandig en humeurig. Die verpleegsters begin draaie om sy kamer loop, want as hy hulle nie verskree nie, weier hy om die noodsaaklike pille te drink wat sy liggaamsfunksies reguleer, of hy wil weet waar hy ’n dokter kan vind wat die lewe in sy onderlyf kan terugplaas.

      Net een verpleegster vermy hom nie. Dit is die onaantreklike enetjie met die rooi hare, baie sproete en breë mond. Bossie dink niks daarvan om beenswaaiend bo-op sy bed te kom sit vir ’n geselsie, of om hom tereg te wys as hy sy humeur nie kan beteuel nie.

      “Jy sal in jou spoor moet trap as suster Jo eers terug is,” lig sy hom een aand in. “Sy sal nie jou fiemies verduur nie.”

      Dit is nie die eerste keer dat hy van suster Jo hoor nie! Mynhard en die dagsuster het hom ook al gewaarsku. “Klink my sy is ’n regte tiran?” sê-vra hy dus. “Hoe lyk sy?”

      “Wel . . . e . . . hoe sal ek haar nou beskryf?” raak Bossie stuitig. “Mooi is sy beslis nie. Oorgewig, ’n haakneus, oë wat soos ’n valk s’n altyd op die loer bly, en so kwaai soos die duiwel!”

      Rudolf besef sy oordryf dalk, maar in sy gedagtes bou hy vir homself ’n prentjie van die suster op. Vet, ongeskik, altyd op die loer om te sien of sy nie iemand met iets verkeerds kan betrap nie, met ’n tong so skerp soos ’n skeermeslemmetjie. “Is sy ’n oujongnooi?” wil hy weet.

      “Ja, ’n tipiese oujongnooi. Vol fieterjasies.

Скачать книгу