Speurder Kwaaikofski 6: Honde, hoede en hande. Jüngen Banscherus
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Speurder Kwaaikofski 6: Honde, hoede en hande - Jüngen Banscherus страница
Jürgen Banscherus
Speurder Kwaaikofski
Honde, hoede en hande
Vertaal deur Kobus Geldenhuys
Met illustrasies deur Ralf Butschkow
Human & Rousseau
HOOFSTUK 1
Verlede Saterdag lui die voordeurklokkie. Dis mevrou Becker wat in die woonstel bokant ons bly.
“Simson is weg!” snik sy. “Ek weet nie wat om te doen nie. Jy moet my help, Kwaaikofski.”
Simson is mevrou Becker se bruin worshond. My ma noem hom ’n kefbrak, want hy blaf baie, veral wanneer die tannie toilet toe gaan. Partykeer blaf hy ons in die middel van die nag wakker. Dan voel ek lus en draai sy nek om – of plak sy mond toe.
Ek skud my kop. “Ek is jammer, mevrou Becker, maar ek ondersoek nie hondesake nie.”
“Hoekom nie?” roep sy uit. “Die polisie wil my ook nie help nie!”
Natuurlik nie, dink ek by myself. Hulle het beter dinge om te doen as om na ’n vermiste hond te soek.
Ons buurvrou smeek nog vir ’n ruk en bied my later tweehonderd rand aan, maar sy maak nie hond haaraf nie. Ek weier om na haar worsie te gaan soek.
As die stad se ander speurders moet uitvind ek loop agter ’n vermiste hond aan, skaam ek my morsdood.
’n Dag later kry mevrou Becker gelukkig vir Simson terug. Haar kefbrak het in die woud aan die rand van die stad verdwaal. Iemand het hom gekry en die tannie se foonnommer was op sy halsband, so hy was gou weer veilig by die huis.
Ek soek nie na honde nie. Vergeet dit! Maar dit beteken nie ek het nog nooit ’n saak ondersoek waarby daar ’n hond betrokke was nie. My laaste saak het met ’n hond te doen gehad – en hy was allesbehalwe ’n brak!
Ek het ’n ruk gelede ’n kompetisie teen ’n ander speurder verloor en ek was op die punt om op te hou speurwerk doen. Ek het vinnig en sleg verloor.
Dit was baie erg.
Ek was keelvol. Hoekom aanhou om tot laat snags te werk? Hoekom ontvoer en belieg en in lokvalle gelei word?
Ek het gaan raad vra by my goeie vriendin, Olga. Sy is die eienaar van die kiosk waar ek my Carpenters koop. Net sy hou hierdie wonderlike kougom aan.
Olga probeer my troos. “Vir my is en bly jy die beste,” sê sy oor en oor. “G’n ander speurder kom naby jou nie, Kwaaikofski.”
Gewoonlik laat Olga my beter voel. Maar dié keer help haar vriendelike woorde net mooi niks.
Ek suig hartseer aan my limonade en droom oor die dae toe ek die berugte skurk, Slang, opdraand gegee het.
En toe eendag ontmoet ek vir Masker Mike. Ek sit agter Olga se kiosk op ’n koeldrankkissie en blaai deur ’n tydskrif. Skielik hoor ek ’n diep gegrom. Dit klink soos ’n Harley Davidson wat keel skoonmaak.
Nuuskierig staan ek op, loer om die kiosk se hoek – en kyk vas in ’n afgryslike monster. Hy het yslike geel oë, ’n reusagtige donker neus en ’n enorme bek met twee rye hengse groot tande.
Shucks, Sherlock, my hart gaan staan vir ’n hele paar oomblikke. Hy begin eers weer klop toe ’n diep manstem sê: “Wotan! Kom hier!”
Die monster draai om en ek sien hy is ’n Deense hond. Hy is so groot soos ’n kalf en het gladde, grys hare.
Sy baas lyk net so skrikwekkend soos hy. Die man is maklik twee meter lank en dra ’n groot breërandhoed oor sy lang, wit hare. En die vreemdste van alles – hy dra ’n masker tussen sy oë en mond. Ek verstaan dit nie. Die karnaval is lankal verby. Hoekom op ’n doodgewone dag soos vandag ’n masker dra?
“Moenie bang wees nie,” sê hy. “Wotan hou van kinders.” Toe draai hy om na Olga. “Ek’s lus vir ’n sigaar.”
Terwyl Olga verskillende soorte sigare uithaal en op die toonbank neersit, stel sy die man aan my voor. “Dis Mike,” sê sy.
Die man glimlag. “Almal noem my Masker Mike. Ek het my neus in ’n motorfietsongeluk verloor. Dis jammer, want dit was ’n mooi neus. Sonder ’n masker gril mense vir my. Wat is jou naam?”
“Kwaaikofski,” antwoord ek.
“Hy’s ’n privaatspeurder,” las Olga by.
Masker Mike wys na die sigare. “Gee vir my die Kubaanse. Maak dit sommer tien.”
Dan draai hy weer na my toe. “So, jy’s ’n privaatspeurder?” vra hy ewe ernstig.
Ek kan my ore nie glo nie. Masker Mike is die eerste grootmens wat nie uitbars van die lag toe hy hoor ’n outjie soos ek is ’n speurder nie. Ek hou sommer dadelik van hom, al dra hy ook ’n vreemde masker.
“Ja,” antwoord ek. “Wel, ek was tot ’n paar weke gelede nog.”
Die man haal ’n opgefrommelde stukkie papier uit sy baadjiesak en gee dit vir my.
“Lees dit, Kwaaikofski,” sê hy.
Ek vou die papier oop en lees:
Daar is ’n klag teen u gelê. Na bewering het u hond op die veertiende van hierdie maand ’n worshond so ernstig beseer dat die dier uitgesit moes word. Verder is daar klagtes dat u hond hase en takbokke in die stad se woud rondjaag. Meld asseblief onmiddellik aan by kamer 234, by Polisiehoofkwartier.
“My hond jaag nie hase en takbokke rond nie,” sê Masker Mike. “En hy hou baie van klein hondjies. Iemand wil my in ’n pan gooi en braai.”
“Miskien verwar hulle jou hond met ’n ander een,” stel Olga voor.
Die man skud sy kop. “Daar is min honde soos Wotan. Wil jy die saak ondersoek, Kwaaikofski?”
“Sê asseblief ja, skattie!” roep Olga uit, al het ek haar al hoeveel keer verbied om my voor ander mense so te noem.
Ek moet erken, dis ’n interessante saak hierdie.