Waar is die kleure heen?. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit страница 6

Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit

Скачать книгу

rus? En juffrou Laura dan, meneer?”

      “Wat van juffrou Laura?”

      “Sy kan mos nie so alleen nie. Meneer sit dan nooit g’n voet daar nie. Dis met enige besigheid soos met ’n mielieboerdery: die beste kunsmis is jou voetspore tussen die rye.”

      Meyer sit ’n rukkie stil voor hierdie subtiele aanklag. Miskien het dit alles so moes kom: as Josef nie verder kan nie, sal Laura moet instem om die plek te verkoop. Voor Josef durf hy dit egter nie sê nie. Dit sal wees om die laaste grond onder sy voete uit te ruk. “Jy hoef nie bang te wees vir die geldsake nie, Josef. Ek sal sorg dat jy ’n toelaag kry.”

      Josef skud sy kop meewarig. “Dit gaan nie daaroor nie, meneer. Ek lewe deur hierdie handewerk. As jy my hande stil maak, maak jy my selwers stil. Dan sit ek bietjie-bietjie en doodgaan.”

      “Nee, maar dan verstaan ek, Josef. Ek wil net nie hê jy moet aangaan wanneer jy nie gesond voel nie.”

      Daar is min woorde gesê, maar Josef Abrahams se vasberadenheid loop soos ’n taai sening onder die oppervlak.

      “Bly jy, ek sal saam met die meneer uitstap,” sê die groot vrou toe Meyer opstaan.

      Pas is hulle buite, of sy bring ’n sakdoek na haar gesig. “Ag, my jene, meneer. Soos ek dit verstaan, is hy ’n sterwende man. En dis swaar om te sterwe as jy nie ’n nageslag het nie. Dis die ergste … nie die kopseer of die vergeterigheid nie.”

      “Jy moet my dadelik laat weet as dit lyk of sy kragte ingee, Sylvia.”

      “Dis die laaste ding wat hy sal wil erken, meneer. Soos hy sê: as hy ingee, verkoop meneer die winkel. Dan sal juffrou Laura die dorp verlaat, en alles sal verby wees.”

      Alles sal verby wees … watter betekenis skuil agter hierdie duistere woorde? Het Josef met sy stille waarneming lankal gesnap dat daar ’n laagliggende, maar nog smeulende vuur tussen hom en Laura is?

      “Sê vir Josef nie ek of Laura kan verkoop sonder dat die ander een ook geteken het nie. Dit staan in die kon­trak.”

      ’n Bepalinkie waarop hy aangedring het om hom teen Piet se wispelturigheid te beskerm, dink Meyer toe hy met die stofstraatjie wegry tussen spelende kinders deur. Nou boemerang dit.

      Dis skerp koud toe hy die motor bêre en die breë stoep van sy tuiste beklim. ’n Hond huil iewers teen die groeien­de maan, en die werfbome buig in die kouerige wind.

      Minah wag in die kombuis, waar die vuur lekkende tonge by die stoof se bek uitskiet. Verkluim loop Meyer nader en sprei sy hande oop voor die hitte. Dit lyk soos ’n smekende gebaar. “Jy kon my maar herinner het, Mie. Ek het vergeet dat dit vandag ’n jaar is.”

      “Wat maak dit tog saak?” vra Minah Bronkhorst. Sy staar in die gloeiende vlamme. Sy het naby Meyer kom staan.

      “Ek wil twee dinge weet, Mie. Het jy ooit in jou lewe getreur? Oor Pa, oor Piet?”

      Minah se blik roer nie. Hy dink eers dat sy nie wil antwoord nie. Eers later, heelwat later, antwoord sy: “Ek is van mening dat die mens veredel word deur verlies eerder as deur besit.”

      Dalk stem hy saam, dink Meyer. Dalk was daar ’n tyd toe hy liewer sou wou besit en onedel bly, as verloor en veredel. Maar dalk stem hy nou saam.

      Minah haal die deksel van sy bord kos af, waar dit eenkant op die stoof gestaan het. Hy eet sommer staan-staan voor die vuur: vleis in ’n ysterpot gebak, en brood.

      Dan stel hy sy tweede vraag: “Is ek in die pad, Mie? Sou jy liewer wou hê dat ek apart gaan woon? Ek weet jy hou nie van mense rondom jou nie.”

      Weer swyg Minah lank. “Bly,” sê sy dan.

      En haar hand, die kunstenaarshand wat aweregs behoort aan ’n middeljarige ma-liggaam, raak hom vlugtig teen sy skouer aan. Hy onthou met pyn hoedat hierdie selfde hand hom in troos aangeraak het nadat die bom tussen hom en Laura gebars het.

      Dit was nie vir Mie nodig om te praat nie. Terwyl sy hom aangeraak het, daardie dag, het dit gevoel asof haar aanraking ’n kanaal gevorm het, waardeur sy pyn na haar toe gevloei het. Dit was soos salf op sy rou gemoed.

      “En dan is daar nog Josef ook,” sug Minah. Dus het sy dit ook geweet, maar hom gelos om self uit te vind.

      3

      In die loop van die Maandagoggend sit die sekretaresse ’n koppie tee langs Meyer op sy lessenaar neer.

      “Dankie, Madge.”

      Sy bly nog staan.

      “En toe? Wil jy ’n verhoging vra? Of al weer kraamverlof? Dit lyk mos darem nie so nie.” Hy laat sy blik tergend oor haar dwaal.

      “Nee, ag, ek het maar net gedink …” Sy haal laggend die skouers op. “Almal wonder, en ek is die enigste een wat die moed het om te vra … hoe voel u nou eintlik oor … wel, oor u vennoot en u skoonsuster?”

      Onbegrypend staar Meyer die jong vrou aan. “Wat bedoel jy, hoe voel ek oor Henk en …” Laura? Hy het immers net een skoonsuster.

      “Ja, sien, noudat meneer Pienaar met haar uitgaan …”

      Sy voorkop voel meteens koel en ver van hom af, asof sy verstand in hierdie oomblikke gedistansieer geraak het van die res van hom.

      “Ek het nie geweet nie,” hoor hy sy eie stem formeel antwoord. “Wat seker behoort te bewys hoe min ek omgee.”

      Sy ganse houding gee te kenne dat die onderhoud – want as ’n gesprek voel hy dit kwalik aan, verby is. Maar Madge Roberts bly nog staan. “Die hele Sederburg wonder natuurlik of en wanneer en met wie sy weer gaan trou. Dis mos al ’n jaar dat Piet dood is.”

      Die feit dat sy die hele Sederburg met sy kleinlike nuuskierigheid verteenwoordig, maak hom kriewelrig. Sy is ’n redelike sekretaresse en ’n vriendelike mens, maar haar weetywer is gevaarlik. Dit het hy lankal agtergekom. Die keer toe hierdie einste Henk Pienaar moeilikheid met sy vrou begin kry het en hulle uitmekaar is, was sy die eerste een wat geweet het.

      “Waarom gaan julle haar nie self vra nie?”

      “Wel, gissings is daar genoeg.”

      “Ek weet,” sê hy en kyk haar reguit in die oë. “Almal het gedink dat ek na Piet se dood sou teruggaan na Laura toe. Het dit nooit by die romantiese Sederburg opgekom dat ’n saak afgesluit kan wees, soos boeke aan die einde van ’n boekjaar nie?”

      “Soms bly daar darem ’n saldo’tjie oor,” waag sy dit guitig.

      “En soms niks,” antwoord hy bruusk. Sy hoef nie te weet dat sy eie hart dwarsweg teen hierdie uitspraak roep nie.

      “Lyk my nie u is lus vir gesels vanmôre nie,” besluit sy half in erns, half in luim. “En terwyl u nou self netnou die gesprek in die rigting gestuur het: my man wil nie hê ek moet meer werk nie. Hy het verhoging gekry, en hy wil my tuis by die kinders hê. Wat dink u, meneer Bronkhorst?”

      Hy kyk haar aan. “Wat ek dink, maak nie saak nie. Jy lewer goeie werk vir my en Henk, maar as jou gesin

Скачать книгу