Waar is die kleure heen?. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit страница 8
“Ja?” Dis duidelik dat sy die ongepoetsheid van Saterdagmiddag nog nie vergeet het nie; hy kan haar seker ook nie verkwalik nie. En hoe kan sy hom glo dat hy te besig was … terwyl hy sy ferweelbaadjie aangehad het, die een wat sy destyds saam met hom uitgesoek het en waarvan sy gesê het: “As jy dit aantrek, mag jy nooit kwaai of haastig of besig wees nie, hoor.”
“As dit vir jou lyk asof hy uitsak, moet hy ophou werk. Ek sal nog steeds sorg vir sy salaris, as die besigheid dit nie kan bybring nie. Tot tyd en wyl daar ander reëlings getref kan word, pensioen byvoorbeeld. En sy medies.” Hy praat vaag. Die klein besigheid is nie sterk genoeg om groot mediese uitgawes te dra nie, daar sal na ’n staatshopsitaal gekyk moet word.
“Ek sal die woord pensioen liewer nie voor hom noem nie.”
“Ag, noem dit dan wat jy wil. Maar hou hom dop. Sy vrou sê hy is vergeterig. Maak tog saans seker dat hy gesluit het.”
“Dis gaaf dat jy nou daaraan begin dink het. Wat my betref, dis dinge waarmee ek al leer saamleef het.”
Hy besluit om hom nie te vererg nie. Hy probeer rasioneel oor haar suurderigheid dink. Sy het seker rede … dat hy so ongeërg was teenoor die probleme van die winkel. En om sy humeur te verloor, sal weer eens dalk net aan haar demonstreer dat hy nog kan omgee. Wat nie waar sal wees nie.
“Dan is dit in orde, Laura. Dankie. Tot siens.” Hy gee haar nog ’n oomblik geleentheid om verder te reageer, leiding in die gesprek te neem. Maar sy volg dit nie op nie, sê ook bloot net tot siens. Sy hand bly nog om die gehoorbuis geklem. En nou voel hy nog steeds nie ligter nie, besluit Meyer.
Dis min of meer ook die trant van Laura se gedagtes toe sy van die telefoon wegdraai. Sy skuif dwars in haar lessenaarstoel en kyk deur die venster na die peperboom langs die ingang. ’n Dankbare koeltetjie vir menigeen wat die winkel besoek. Die geur van die boom, veral as dit deur die son gestowe word, sal haar altyd herinner aan die eerste kennismaking met die Bronkhorste. Toe sy nog Meyer se beminde was.
“En dis nou my en my broer Piet se goue eier,” het hy haar bekend gestel aan die onderneming wat hulle kortweg, en ietwat ten onregte, die “Winkel” noem.
Sy het al danig baie van die “Piet” gehoor, en was bra nuuskierig om hom te ontmoet. Met die suster, Susara, ma van twee tienderjarige kinders, het sy reeds kennis gemaak, en was nie baie geïmponeer nie. ’n Goedkoperige soort, so anders as die ma, wat deur die kinders snaaksweg “Mie” genoem word. Sy het gewonder hoe die oorlede pa was, en of die suster dalk meer na hom aard.
Piet was egter vir ’n paar dae na Johannesburg om persoonlik materiaalaankope te doen. Hy dra die winkel nogal sterk op die hart, het Meyer haar verseker.
Dit was ’n vreemde besoek, daardie eerste besoek aan Sederburg vanaf die universiteit waar sy en Meyer studente was. Dit het ’n eienaardige kwaliteit gehad. Alles was kleiner as waaraan sy as stadskind gewoond was; behalwe die huise en persele, natuurlik. Groot watererwe, soos dit genoem word. En tog was daar in die dorp onderliggende lewensruimte. Sy moes sien en glo: mense wat in die stad sou uitsak vanweë hulle rariteit, word hier aanvaar met hulle rariteite en al. Oom A kan ’n korrelkop wees, en hulle beskinder hom groen en geel, maar almal spring nogtans op aandag as oom A die winkel binnekom. Tant B is ’n skinderbek en almal weet dit, maar niemand vermy haar daarom nie, want sy bly ten slotte ’n lekker geselser.
En, o, die buitewêreldse atmosfeer in die huis van Mie Bronkhorst. Sy is ’n soort anachronisme, sy hoort nie hier op Sederburg nie. Sy is nie ’n kleinburgerlike, selfs nie burgerlike tipe mens nie; eerder is daar ’n soort adel aan haar. Nie gepoleerd nie. Sy sou ’n slonsige, traak-my-nie-agtige barones kon uitmaak wat asketies in ’n kasteel leef. Stof vir ’n Gotiese roman. ’n Mens so verstrooid onafhanklik as wat jy jou kan indink, maar ’n mens met ruimte in haar hart vir andere. Wat ’n teenspoed dat sy vir Minah Bronkhorst nie meer vryelik aan huis kan besoek nie. Wanneer sy gaan, probeer sy dit maar tydens werkure reël, sodat Meyer nie tuis moet wees nie.
Meyer … sy druk haar hande teen haar brandende wange vas.
Waarom presies het hy pas gebel? Net om te sê sy moet saans seker maak dat dit toegesluit is? Of wou hy dit by haar tuisbring dat hy ook goed op hoogte is met Josef se toestand? Dit laat haar ongemerk glimlag: sy weet reeds alles … dat Meyer Saterdagaand by Josef en Sylvia aan huis was. Hy het beslis in die loop van daardie dag eers uitgevind wat gaande is. Waarom anders sal hy op ’n Saterdagaand daar besoek gaan aflê?
Sy skrik op toe die handlanger haar kom roep. “Mevrou, Josef het ’n verskriklike kopseer.”
“Vadertog,” skrik sy. Sy haas haar na die werkruimte. By die groot naaimasjien sit Josef met sy kop in sy hande.
“Jy moet huis toe, Josef. Jy moet ophou om te wil werk. Voorlopig, in elk geval.”
Hy is humeurig, soos dikwels die afgelope tyd. “Nou vir wat moes jy gaan staan en stories aandra?” trap hy die handlanger, ’n broerskind van hom, uit.
In die klein kantoor gee Laura pynpille aan Josef en probeer verstandig met hom gesels. “Dis nie dat jy oorbodig sal word nie, Josef. Die winkel sal jou steeds nodig hê. Maar is dit nie verstandig dat jy liewer iemand vir die werk help oplei nie? Dan hoef jy nie self so hard te werk nie. Jy kan net bystaan en raadgee. Waarom lei jy nie vir Petrus op nie?”
“Dan is ek binne ’n week dood,” kreun Josef. “Hy het mos hoeka pap in sy hande.”
Laura sug. “Nou hoe dan? Jy weet my swaer stel nie belang in die saak nie. Dis nie winsgewend genoeg nie. En dis nie my of jou skuld nie, Josef. Ons kan wonderlik uitbrei. Maar dan moet ons vir ander ook staanplek gun. Ons kan geheel en al ’n meubelwinkel van hierdie plek maak. Ons kan matte verkoop en lê. Ons kan ’n oudhede-afdeling hê. Maar nie ek en jy alleen nie. Ons wins verlede maand was hopeloos te min. Ek moet meneer Meyer gelyk gee: dit regverdig nie die moeite om die plek oop te hou nie. Dit was ’n ander saak toe meneer Piet nog hier was. Op ’n manier het hy gehou van die werk, soos ek en jy daarvan hou.”
Josef sug nou ook. As hy sy kop in sy hande druk, sien Laura dat die hare met die fynkrul grys begin word. Hartseer stoot in haar op. Sy voel nog baie week en kwesbaar na Saterdag, toe sy Piet se sterfdatum herdenk het.
“Goed, juffrou. Ek sal iemand leer. Maar asseblief net nie vir Petrus nie. Kry vir my ’n sterk man wat weet hoe om die lap oor die frame te trek, ’n Man met ’n geestelike oog, soos ek, wat met toe oë kan gaan sit en die stoel vooruit kan sien soos wat hy moet lyk wanneer hy klaar is.”
“Ek sal iemand kry,” belowe Laura blindweg. Maar wie tog? Sy kan adverteer en iemand kry wat vakleerlingskap vir hierdie soort werk ondergaan het, maar so iemand wil gewoonlik nie op Sederburg of ’n dergelike plek sit nie.
“Alle goeie dinge kom langsamerhand,” vervolg sy, maar haar woorde klink in haar eie ore soos ’n vloekskoot tussen ’n swerm wildeganse in. Hoe lank wag sy self al op die terugkeer van die goeie dinge?
Klein Pieter word wakker waar hy in die hoek op sy matrassie gelê en slaap het. Hy is ’n kind wat saans tot laat wakker is, en soggens is hy dan vroeg pootuit. Dis iets wat Minah nie kan begryp nie … ’n kind wat tot laat in die huis rondloop. “Myne moes altyd vroeg bed toe,” sê sy dan, sodat Laura haar laglus moet onderdruk. Sal sy ooit vergeet met hoeveel vuur Meyer en Piet haar eenkeer vertel het van hulle vroeg-bed-toe ganery. “Ek het eers gedink dis ’n sin vir roetine, nou besef ek dit was ’n manier om ons onder haar voete uit te kry,” het Meyer vertel.
“Ja,”