Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo страница 29
Garth lyk ingenome. “Dankie, ek sal! Leo het gelukkig uitgetrek, so hy sal nie sien dis jou bottel waarmee ek Sue verlei nie.”
“Uitgetrek?” vra Cecilia.
“Boots and all. Uitgeboender deur meneer M. Persona non grata, en beveel om met sy hele entourage ander blyplek te kry.”
Cecilia is verstom. “Wie sê so?”
“Die grootbaas self. Hy was nou-nou hier, net gou in en uit op soek na jou, om te sê hy’s terug en jy moet hom asseblief twaalfuur in die parkeerterrein ontmoet.”
Cecilia is lus om hom met die likeurbottel oor die kop te slaan. “Hoekom sê jy my nou eers? Terug van waar af?”
Garth kyk haar skuins aan. “Middelburg. Sakekamer-ontbyt. Het jy vergeet?”
“Nee, want ek het nie geweet nie.”
So dís waarom sy niks van hom gehoor het nie, besef Cecilia. Hy is natuurlik gisteraand weg Middelburg toe, het oorgeslaap en nou eers teruggekom. Sy het te lank oor Steve gesit en tob, anders was sy betyds op kantoor om hom te sien.
Dan eers registreer die res van Garth se mededeling by haar. “Twaalfuur in die parkeerterrein? Om wat te maak?”
Garth weet nie; meneer M het nie gesê nie. Net dat sy twaalfuur gereed moet wees. Hy sal haar kom oplaai.
Cecilia vryf oor haar hare en onthou sy het vergeet om jel aan te sit. En maskara, en blosser. “Sal jy die fort hou? Ek moet dringend vir my ’n rok by die boetiek gaan koop.”
“Ek dag jy het al ’n rok,” terg hy.
“Tien,” spot sy saam. “ ’n Kas vol, maar ek het niks om aan te trek nie.”
“Tipies vrou.” Garth bekyk haar op en af. “Wat is die okkasie – jou twaalfuur-afspraak in die parkeerterrein?”
Cecilia hou haar onskuldig. “Jy kyk te veel sepies, my vriend.”
Voor hy te nuuskierig raak, raap sy haar handsak op en woerts by die deur uit.
Sy kry ’n droomrok: kuitlengte, liggroen moeselien, met spaghetti-bandjies oor die skouers. Teen afslag, en drie maande om te betaal.
“Wie is die gelukkige man?” skimp die verkoopsdame.
Cecilia se oë blink. “Die wonderlikste, sexyste man in die wêreld!”
“O! Ken ek hom?”
Cecilia sê niks, vat net haar rok en glimlag geheimsinnig. Die lug buite is skielik blouer, die bougainvilleas rooier, en ’n kakiebos langs die paadjie mooi genoeg dat sy nie buk en hom uittrek nie. “ ’n Onkruid kry ook seer,” sê haar ma altyd. “Hy’s net ’n plantjie wat op die verkeerde plek groei, arme ding.”
Haar ma is die eerste een wat sy gaan bel as dit lyk of dinge tussen haar en Melt gaan uitwerk.
Terwyl sy hare droogblaas, naels verf en maskara aansit, probeer sy weer haar eks in die hande kry. Hy is al krappunt in haar dag. As sy met hom vrede kan maak, vra sy geen verdere geskenke van die gode nie.
Daar is geen ontvangs nie. Steve-hulle is blykbaar in die lug, op die Kaap – Kimberley-sektor, raai sy. Die vredemaak en verduidelikings sal tot later moet wag.
Toe sy terug is op kantoor, is dit elfuur. Om die tyd verby te kry en haar salaris te verdien, beantwoord sy ’n klompie e-posse en finaliseer die reëlings vir ’n advertensievoorlegging in die Indaba.
Op pad uit deur die ontvangsportaal laai sy Leonardo se twee kaartjies by Sue af.
“Ek weet Garth is mal oor sokkie-sokkie,” breinspoel Cecilia haar. “Die arme ou het so hard gewerk met die sitruspromosie, hy verdien om uitgevat te word. Nooi hom saam konsert toe. Hy sal graag saamgaan, en dis boonop volmaan!”
“Ja, goed,” stem Sue in. “Is dit hoekom jy so opgedollie is?” vis sy uit. “Word jý ook uitgevat?”
Cecilia plaas haar handpalms teen mekaar en sluit haar oë. “Ek hoop so.”
“Jou eks? Is julle weer bymekaar?”
Sy skud haar kop. “Dis ’n ander man. Ek is oorhoeks, van my tone tot by my kroontjie toe verlief. Dit lyk of hy dalk vir my ook iets voel, maar ek is bang ek lees hom dalk verkeerd.”
“Leonardo? Een van die gholfspelers? Of ’n ryk piesangboer?” raai Sue.
Cecilia hou aan kopskud en gee pad, voor sy haar mond verbypraat.
Melt is stiptelik. Toe sy by die hoteldeure uitstap, wag die wit sportmotor by die parkeerterrein se uitgang. Hy strek om die passasiersdeur vir haar oop te maak.
“Hallo . . .” Sy stem is warm, soos sy mond en sy hande gisteraand. “Jy lyk soos ’n woudnimf.”
Sy lag verbaas. “Ek het nie gedink jy ken sulke romantiese woorde nie.”
“Hoekom nie? Omdat ek lyk soos ’n ou droë stok, altyd gestewel en gespoor in ’n pak klere, saaklik en formeel?”
Sy bekyk hom skewekop. Sy hare is blinkgewas en hang skuins oor sy voorkop. Hy het weer die syhemp van haar eerste dag aan, oopgeryg tot amper op sy naeltjie, by styfpassende swart ontwerper-jeans.
“ ’n Droë stok? Jý?” Sy skud haar kop. “Beslis nie!”
Hy haak sy donkerbril van die truspieëltjie af en sit dit op. Dan leun hy weer oor en trek haar sitplekgordel vas. Voor hy die knip vasklik, draai hy sy kop en vee met sy lippe oor hare. “Ek het na jou verlang.”
“En ek na jou ook,” fluister sy.
Sy gesig is so naby, deur die lense kan sy sy oë sien. Goudbruin, soos ’n bergpoel op ’n sonhelder dag. En die boodskap daarin . . .
“Ek wou gisteraand in die chalet by jou bly – jy weet nie hoe graag nie. Ek wou heelnag by jou wees. Jou vashou en begeer, en myne maak . . .”
Die vel oor sy kakebeen span styf en sy stem is intens. “Dis hoekom ek daardie singende Leeu se stembande een vir een soos ’n vark s’n wou uitslag. Ek het vir hom gesê hulle kan nog vanaand die Lapa gebruik, maar sy soort is nie welkom by die Lodge nie, en as hy ná dese nog ’n loopbaan wil hê, moet hy en sy trawante ander huisvesting soek. Ek hoop die drommel het jou om verskoning gevra?”
“Hy het, ja – skriftelik, met ’n present daarby.”
“Die minste wat die stuk skuim kon doen. Hy beter uit my pad uit bly!”
Die Mercedes se enjin brul en sy ruik rubber toe Melt wegtrek. Sy wonder of dit is hoe hy gewoonlik ry, en of hy self ook opgewarm is, dié dat hy die arme motor so moor
. . .
Hulle gesels nie veel