Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 21

Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray

Скачать книгу

sy uit ’n tronk ontsnap het. Sy kan nie langer in daardie woonstel bly nie. Sy sal gek word daar.

      Daar het ’n vae plan in haar vorm aangeneem en sy opper dit later huiwerig teenoor tant Bes.

      “Annatjie bly mos alleen sedert haar pa se dood, nè, tant Bes?”

      “Ja, my kind. Sy wou eers ’n woonstel nader aan die werk kry, maar het toe daarteen besluit. Gesê sy sal ons ou klomp te veel mis.”

      Wanya besluit om deur te druk. “Ek het gewonder, tannie … Dink tant Bes sy sal omgee as ek haar vra of ek nie by haar kan intrek nie? Ek sal my kant bring in alles.”

      Tant Bes kyk op. “Maar dis ’n wonderlike idee, hartjie. Hoekom het ons nie al vroeër daaraan gedink nie? Sy is dan nie so alleen nie en jy is nader en hoef nie meer bus te ry nie … Maar natuurlik sal sy instem. Finansieel sal dit haar baie help.”

      “Ek sal eers by Roelof toestemming moet kry.”

      “Watter toestemming moet Roelof gee?” vra ’n stem agter haar en sy kyk verras om, die vreugde en weersiens onverbloem in haar oë.

      Dis tant Bes wat verduidelik en hy kyk vraend na Wanya. “Wil jy liewer by Annatjie kom bly?”

      Haar oë raak versluier. Nee, nie regtig nie. Nie as ek weet jy sal soms onverwags opdaag vir ’n kort besoekie nie. Nie as ek weet dat jy soms, soos vroeër, met teerheid en begrip met my oor gister sal praat en my sal bemoedig vir môre nie. Maar jy sal nie weer kom nie. Ek weet … En die eensaamheid en verlange dryf my tot raserny in daardie woonstelletjie. “Ja, asseblief.”

      “Ek sien geen rede hoekom nie. As Annatjie gewillig is … ”

      Hy is al by die motor toe iets haar byval en sy hom vinnig agternaloop. Sy vertel hom van die meisietjie en hy frons.

      “Ek is nie bewus van nuwe intrekkers nie. Maar ’n mens weet nooit nie. Kyk of jy haar vanmiddag weer sien en volg haar. Miskien is sy maar net nuuskierig. Bel my kantoor toe as jy iets vasgestel het.”

      Hy kyk haar vas aan en dis met inspanning dat sy omdraai en begin wegstap.

      “Wanya … ” Sy kyk terug. “Ons is vriende, is ons nie?”

      “Natuurlik.”

      “En ek het steeds jou belofte dat jy met my kontak sal maak as jy my nodig het?”

      Ek het jou nodig, maar ek kan jou nie roep nie … Oë is die spieël van die hart en hulle spreek soms ’n taal wat die lippe nie durf praat nie.

      “Tot weersiens.”

      “Tot siens … my vriend.”

       6

      Natuurlik is Annatjie onmiddellik te vinde vir die voorstel dat Wanya by haar intrek. Sedert haar pa oorlede is, het die huis baie groot en eensaam geword. Sy het al skuldig gevoel dat sy ’n hele huis tot haar beskikking het terwyl daar so ’n groot woningnood vir behoeftiges bestaan. Sy het juis gehoor van ’n man en sy dogtertjie wat in ’n buitekamer bly. Natuurlik kan Wanya by haar intrek.

      Dis via tant Bes dat die ooreenkoms beklink word, want Wanya is reeds smiddae huis toe wanneer Annatjie van die werk af kom.

      “Hier is jou vier rokke wat Annatjie gemaak het. Sy het gesê jy moet maar praat as daar fout is, sy sal regmaak.”

      Maar daar is nie fout nie en Wanya vra: “Het sy nie gesê wat skuld ek haar nie?”

      “Sy sê jy skuld haar niks nie, hartjie.”

      “Maar … ”

      In die deur glimlag Roelof met sagte oë. Wanya het reeds diep in tant Bes se hart ingekruip en daar is al van die jonger tafelloseerders wat Wanya, soos Pikkie, ook tannie Hartjie begin noem het. “Jy moet nog leer, my hartjie, dat party dinge ’n prys het en ander nie. Naasteliefde het nie ’n prys nie … en Annatjie se hart loop oor van naasteliefde. Sy wou dit graag vir jou doen. Daar is nie ’n rekening nie.”

      Wanya sluk, sit haar arms om tant Bes en druk haar innig vas. “Julle klomp hier is die wonderlikste, dierbaarste mense op die hele aarde! Sê vir haar ek sê baie, baie dankie.”

      “Ek hoop ek tel ook onder hierdie spesiale groepie mense?”

      ’n Onbewaakte oomblik lank lê haar hart weer in haar oë. Maar dan sak die sluiers en sy sê tergend: “Ek sal eers goed daaroor moet nadink!”

      “Miskien sal ek tog kwalifiseer as ek jou my goeie nuus meedeel. Ek het met die woonstelopsigter gepraat en hy sê as jy dadelik wil gaan, is dit in orde. Jy hoef nie eers ’n kennisgewingmaand uit te bly nie, want daar is ’n lang waglys.” Hy glimlag toe hy die vreugde in haar oë sien. Hy onthou haar geskokte reaksie toe hulle die eerste dag voor Sonneblomstraat 7 stilgehou het. Sy het amper met afgryse gevra: Moet ek hiér werk? Nou lyk dit of sy die grootste geskenk op aarde ontvang het omdat sy in Jan Hofmeyr kan kom bly. “Ek kan jou help trek sodra jy gereed is.”

      Daardie middag lê sy die meisietjie letterlik voor en sy is reeds by haar voordat sy gewaar word. Wanya kry haar aan die een armpie beet toe sy wil weghardloop.

      “Toe nou, my meisietjie. Ek sal jou niks maak nie. Ek wil maar net hoor hoekom jy altyd so ver weg bly en nie inkom en ook ’n bietjie kom gesels nie.”

      Die groot blou kinderoë kyk haar bang aan. “Ek mag nie.”

      “Natuurlik mag jy, skatjie. Almal is hier welkom. Kom saam, dan gaan wys ek jou.”

      Maar die kind rem met alle mag terug. “Nee! Ek mag nie!”

      “Wie het so gesê?”

      “My pa. Pa het gesê ek mag nie my voete hier sit nie.”

      “Wie is jou pa?”

      Die koppie sak. Wanya gaan op haar hurke af, streel die blonde haartjies. “My naam is Wanya. Wat is joune?”

      “Lala.”

      “Lala? O, maar dis ’n pragtige naam. Dit klink soos ’n liedjie! Kom. Kom saam met my. Ek wil hê jy moet vir Pikkie ontmoet. O, jongie, hy kan mooi teken. Kan jy ook prentjies teken?”

      Maar die kleintjie ruk los, skree: “Los my! Los my uit!” en sy spring weg. Maar Wanya was voorbereid hierop en sit haar agterna. Toe sy om die straathoek kom, is sy net betyds om te sien hoe Lala by ’n hekkie in verdwyn. Sy stap tot daar. Gousblomstraat 3. Sy bly onseker staan, draai dan terug. Tant Bes sal weet wie hier bly.

      Natuurlik weet tant Bes en sy vertel Wanya die hele geskiedenis. “Dis die Ferreiras wat daar bly. Koos het uiteindelik werk gekry en hulle trek die end van die maand. Anna­tjie het gepraat dat daar ’n man en kind in die buitekamer bly totdat hulle die Ferreiras se huis kan betrek. Dit moet dié meisietjie wees wat bedags hier deur die draad staan en loer. Hoekom kom sy nie in nie?”

      “Haar pa het haar verbied om haar voete hier te sit,” sê sy.

      Tant Bes sug. “Ja, dit kry jy baie.”

      “Wat bedoel tannie?”

Скачать книгу