Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 22

Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray

Скачать книгу

lyk ongelukkig. “Dink tant Bes Lala is honger en dat sy bedags kom afloer hoe die ander eet?”

      “Moontlik, hartjie. Die beste is om vas te stel. Ons skep vanmiddag twee ekstra borde kos uit en dan stap ons namiddag oor en kyk wat daar aangaan.”

      Maar tant Bes kan haar die middag nie vergesel nie. Sy word dringend na ’n sieke uitgeroep en Wanya stap alleen met die twee borde kos straataf. Sy klop eers by die huis se voordeur aan en Ansie Ferreira vul vir haar die prentjie in.

      “Ons weet nie veel van Johan le Roux af nie. Ons het maar gesê hy en die kind moet solank agter intrek totdat ons goed net voor Kersfees gehaal word, want dit het my geklink hulle sit op straat. Hy praat nie veel nie. Wil blykbaar nie graag oor homself en sy omstandighede praat nie, maar hy het darem vir my man gesê hy het eers geboer.”

      Met meer vasberadenheid as moed stap Wanya by die agterdeur uit. Die buitekamer se deur staan oop en sy klop aan. Die man wat ingedoke op die bed sit, kyk op.

      “Goeiemiddag, meneer Le Roux.” Sy stap ongenooid binne, sit die borde op ’n tafeltjie neer en stap met uitgestrekte hand nader. “Ek is Wanya Cloete,” sê sy en glimlag vriendelik.

      Maar haar hand word nie geneem nie en hy staan ook nie op nie. “Wat wil jy hê, dame?” vra hy in ’n toon wat Wanya vertel dat sy nie welkom is nie.

      “Ek het net kom kennis maak, meneer Le Roux. Welkom in Jan Hofmeyr.”

      Sy mond trek smalend. “Welkom in Jan Hofmeyr,” aap hy haar sarkasties na. “Baie dankie.”

      Wanya hou haar ongeërg. “Ek verstaan jy het ’n dogtertjie ook.”

      Nou is hy op sy voete en die oë blits. “Luister, as jy van die Welsyn is, daar is die deur. Ek sorg vir my kind. Gee pad hier!”

      “Ek is nie van die Welsyn nie, meneer. Ek is van Sonneblomstraat 7.”

      Hy frons. “Watse plek is dit?”

      “Dis ’n doodgewone huis soos al die ander huise in Jan Bom. Dis waar ons smiddae vir die mense kos gee.”

      Sy gesig verstyf merkbaar. “Ons het nie aalmoese nodig nie, dankie. Ons hét kos.”

      Wanya kyk vlugtig om haar. Sy sien ’n eenplaatgasstofie. Langsaan lê ’n halwe brood in ’n plastieksak en daarnaas staan ’n oopgemaakte blik konfyt. Haar blik keer terug na syne en sy lees die uitdaging daarin.

      “Natuurlik, meneer. Ek veronderstel egter dat dit moeilik is om in hierdie omstandighede kos te kook. Jy en jou dogtertjie is baie welkom om smiddae by ons te kom eet totdat jy die huis betrek het en jou vrou terug is.”

      “My vrou is dood.”

      “O. Ek is jammer. Maar die uitnodiging is opreg, meneer Le Roux. Jy en jou dogter is werklik baie welkom by ons. Ek het sommer twee borde kos saamgebring vir … ”

      “Luister hier, dame. Vat jou twee borde kos en maak dat jy by daardie deur uitkom. Ons het nie jou kos nodig nie. My kind ly nie honger nie.”

      “Maar sy kan nie net van brood leef nie.” Wanya se oë begin ook blits. “Sy is ’n groeiende kind wat voedsame kos nodig het.” Sy kyk die woedende man vas in die oë, besluit op ’n meer informele aanslag. “Johan, gaan jy werklik toelaat dat jou trots jou pragtige dogtertjie knak? Jy sê haar ma is dood. Sy het net vir jou en jy het net vir haar. As jy haar werklik liefhet, sal jy haar tog wil beskerm teen swaarkry.”

      “Ek het my kind lief! Sy is al wat vir my op aarde oorgebly het!”

      “Hoekom laat jy haar dan onnodig ly? Hoe dink jy moet sy voel as sy sien hoe lekker ander kinders eet, maar haar pa sê sy mag nie deelneem nie? Dink jy sy sal bly glo dat haar pa haar liefhet?”

      Hy lyk bleek onder die ongeskeerde baardstoppels. “Ek het Lala lief met alles in my en sy weet dit.”

      “In daardie geval sal jy tog seker nie ’n bord kos van haar weerhou nie, sal jy? As jý dan ons aanbod weier, laat jou dogtertjie ten minste smiddae by ons kom eet … Asse­blief!”

      Hy draai van haar af weg, staan met ’n kop wat hang. Sy stem is swaar. “Jy dink ek straf my kind doelbewus, maar … ek wil haar so graag alles, alles in die lewe gee wat ’n pa sy kind kan gee.”

      Wanya stap nader, lê ’n hand op sy voorarm en sê met ’n stem vol deernis: “Ek weet, Johan. Watter pa wil nie? Ek ken nie die omstandighede wat jou in Gousblomstraat 3 laat beland het nie, maar ek wil hê jy moet weet jy is nie alleen nie. Ons Jan Bommers staan bymekaar. Elkeen van ons het op sy eie manier hier beland. Jy is nie al een wat swaarkry ken nie. Ons ervaar dit almal. Ons weet hoe jy voel. Moenie die hand van vriendskap wat ons na jou uitreik, wegklap nie, veral ter wille van klein Lala.”

      Dis nou gebroke oë wat na haar kyk. “Dat my kind kos uit ’n ander se hand moet ontvang omdat ek te sleg geraak het om haar na behore te versorg … ”

      “Dit sal beter gaan, Johan. Maar intussen is ons jou vriende. Moenie toelaat dat jou trots tussen ons staan nie.”

      Hy vee oor sy oë, skud dan sy kop. “Nou goed dan. Lala kan maar smiddae daar gaan eet.”

      “En jy?”

      “Nee.”

      “Ons kan elke dag saam met Lala vir jou ’n bord … ”

      “Néé! Magtig, wil jy my nou tot op die been stroop van alle selfrespek?”

      Tot dusver vandag. Sy moet dankbaar wees vir wat wel bereik is. “Tot siens, Johan. Ons praat weer.”

      Wanya is onbewus daarvan dat dit ’n warme gevoel in Roelof se hart opwek toe sy later aan hom vertel wat gebeur het en hoe besorg sy oor hierdie geval is. Sal sy ooit agterkom hoe geweldig sy verander het? wonder hy stil en antwoord dan: “Ek sal beslis daar besoek gaan aflê en probeer om meer van sy omstandighede te wete te kom.”

      Maar Roelof vertel nie alles wat hy vasgestel het nie. Op sy eie besondere manier slaag hy daarin om die bitter man aan die praat te kry en hoor maar net nog een van die duisende hartseerverhale wat hy al moes aanhoor.

      Sukkelend en stotterend, by tye onbeskaamd hartseer, by tye onbeskaamd opstandig, kom die verhaal uit van die jong boervrou wat kanker gekry het, die koste wat opgeloop het, stadig maar seker alle spaargeld verteer het. Toe sy uiteindelik sterf, was daar niks meer oor om mee voort te gaan nie. Die grond moes verkoop word. Net die koopsom van sy plaas het hy uiteindelik oorgehou van ’n winsgewende boerdery.

      Met ’n onheilsgevoel in hom vra Roelof: “Maar waar is daardie geld dan nou, Johan? Dis darem nie min geld nie.”

      Soos hy vermoed het, is die antwoord: “Op aanbeveling van ’n makelaar het ek die hele bedrag eers belê. Met die rente wat ek sou kry, sou ek en Lala kon aangaan totdat ek ’n werk in die hande kon kry. Maar werk is skaars. En ek kan net boer. Ek is nie opgelei vir iets anders nie. Trouens, ek het ook geen opleiding vir boerdery nie, behalwe die praktiese ervaring wat ek self opgedoen het. Terwyl ek nog aan die werk soek was, het die ramp my getref. Die instansie waar ek my geld belê het, is gelikwideer. Ek het alles verloor. O, wel, ek het ’n paar sent in ’n rand uitgekry, maar dis kwalik genoeg om ’n ordentlike bestaan van te voer. En terwyl ek nie weet wanneer ek eendag gaan werk kry nie, moet ek daardie

Скачать книгу