Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 4

Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray

Скачать книгу

“Ek kon dit self nie glo nie. Hy is stinkryk.” Sy neem ’n groot sluk koffie. “Ek kan tant Bes nie genoeg bedank nie dat tannie my daardie dag so te sê gedwing het om dáár werk te gaan vra. O, daar het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan!”

      Tant Bes sluk stadig aan haar koffie, bedenkinge in die blik wat sy op die babbelende meisie hou. Sy het die advertensie in die koerant gesien en Annatjie laat roep. Aan die begin wou Annatjie niks weet nie.

      “Ek kan nie uit die huis werk nie, tant Bes. Wat word van Pa?”

      “Ons sal ’n plan maak. Jy kan hom soggens versorg en sorg dat hy alles by sy rolstoel het. Smiddae sal ek vir hom kos stuur en ons almal sal deur die dag inloer en help totdat jy van die werk af kom. Annatjie, jy kan nie genoeg verdien deur net vir ons klomp klere te maak nie. Jy werk jou dood teen ’n slaweloon om by jou pa se pensioen te voeg om aan die lewe te bly. Die plek adverteer vir ’n naaldwerkster. Gaan en doen aansoek vir die pos.”

      Annatjie het nog teëgeskop. “Maar dis die grêndste winkel in die hele stad!”

      “Nou wat daarvan? ’n Naat is ’n naat, of jy hom in ’n grênd winkel stik of in Sonneblomstraat. En jy kán nate stik. Jy gaan môreoggend vroeg daarheen!”

      Almal in Jan Hofmeyr ken daardie generaalstemtoon en almal in Jan Hofmeyr gehoorsaam dit. Ook Annatjie. Want tant Bes is nie net nog ’n tannie in een van die baksteenhuisies nie. Tant Bes is die ongekroonde koningin van Jan Bom, soos die meeste mense maar na hierdie deel van die stad verwys. En veel meer.

      Maar nou is dit tant Bes wat begin bedenkinge kry. Duisende rande vir ’n rok … So ’n groot fooitjie … En ’n ander wêreld wat vir Annatjie Roos van Sonneblomstraat oopgaan … Miskien nie so ’n goeie ding nie. Dan sug tant Bes, staan saam met Annatjie op. Die tyd sal maar moet leer of hierdie nuwe wêreld nie saam met al die glans en goud ook bederf bring nie. Sy sal Annatjie se naam meer gereeld op haar gebedslys moet sit … “Toe ek die bedrag op die tjek sien, het ek gedink nou kan ek vir Pa ’n elektriese kombers vir die winter koop. En nuwe onderklere. Sy goed is al behoorlik gaargestop. Nag, tant Bes.”

      Sy kyk Annatjie agterna totdat sy by die hekkie uit is, skakel die stoeplig af en stap kamer toe. Negeuur: tyd om te gaan slaap. Môreoggend klokslag halfvier staan sy op. Daar is nie tyd vir laat lê in Sonneblomstraat 7 nie. Daar is te veel om te doen.

      Haar gedagtes bly maar om Annatjie draai toe die kamer­lig al af is. ’n Goeie kind daardie. Eerste aan haar pa gedink en wat hý nodig het toe sy onverwags geld in die hand gestop word. Nee wat. Oor háár hoef sy haar nie te kwel nie. Maar sy sal maar gereeld vir haar bid … net ingeval … Die glans van geld is vir die mense van Jan Hofmeyr baie aanloklik. Seker omdat daar so min daarvan hier te sien is.

      Toe Annatjie by haar eie voordeur instap, is die getroue Nellie steeds daar. Oom Jan is in die bed gehelp vir die nag en Nellie sit en stop van sy sokkies toe Annatjie binnestap.

      “Ek het gesien die stopgoedjies lê hier en toe dink ek ek kan dit maar solank vir jou doen terwyl ek ledig sit. Ek doen dit wel nie so netjies soos jy nie … ”

      “Jy doen dit goed, Nellie. Baie dankie. Ek is jammer ek is so laat. Ek moes oortyd werk.”

      “Alles reg. Ek sit ook maar net saans voor die TV. Maar nou moet ek spore maak. Ek het tant Bes belowe ek sal môre ’n bietjie vroeër kom. Daar is ’n swetterjoel wortels en uie om te skil.”

      Annatjie kyk haar agterna toe sy hinkepink die straat af sukkel. Sy leef van ’n ongeskiktheidspensioen … en die bord kos wat sy daagliks by Sonneblomstraat 7 kry. Maar haar liefdesdade is oorvloedig in hierdie gemeenskap van swaarkry en sukkel.

      Annatjie staan nog ’n rukkie op die stoep, laat haar blik oor die bekende straattoneel dwaal. Dit lyk so anders as Sandton … Tog … Hier is iets wat miskien nie in Sandton te kry is nie. ’n Samehorigheidsgevoel, ’n betrokkenheid by mekaar se wel en wee … want swaarkry dwing jou soms om ’n hulpsoekende hand uit te steek … en omdat jy swaarkry ken, weet jy ook wanneer om ’n helpende hand uit te steek. Sy wonder of die Cloetes ooit weet wie hul bure is. Sy is byna seker hulle sien mekaar maar baie selde. Maar hier is dit anders. Sy ken elkeen op die naam. Sy weet wie in elke huisie bly. En almal ken haar. Almal weet van haar pa in die rolstoel. En toe sy vanmiddag nie die gewone tyd huis toe gekom het nie, het helpende hande geweet waar hulp nodig is. Want môre is dit jou beurt om afhanklik te wees. Môre is jý die een in nood … en die blom van nood is die enigste blom wat in hierdie tuintjies welig groei.

      Sy gaan sê nag vir haar pa, vertel hom maar net dat sy laat moes werk aan ’n bestelling … en dat madame ’n verhoginkie belowe het. Sy sal hom liewer nie vertel van die prys van die rok nie. Hy sal haar waarskynlik nie glo nie. Dis omtrent soveel as wat hy vir sy brandmaer skape betaal is toe hy destyds uitgeboer het … Sy verstand sal dit nooit kan verwerk nie. Van die fooitjie wat daarmee gepaardgegaan het, sal sy hom liefs ook nie vertel nie. Dit kan hom dalk net ontstel.

      Sy buk af, soen hom teer op die voorkop, kyk dat hy goed toe is vir die nag en stap uit. Haar liewe ou pa wat tred met die werklikheid verloor het. Sy wêreldjie het klein geword tussen die mure van die huisie in Sonneblomstraat. Maar háár wêreld is besig om wyer uit te kring. Sy het vandag ’n glimp van die ander wêreld gekry … en soos tant Bes kan sy nie dadelik aan die slaap raak nie.

      Maar eindelik slaap hulle tog. Annatjie droom van glinsterende diamante en kandelare wat soos reëndruppels blink. Tant Bes droom nie. Sy het gebid, vir Annatjie spesiaal, en dankie gesê vir die wortels en uie wat ’n goeie Samaritaan vanmiddag hier kom aflewer het. Dankie gesê vir haar gesondheid en vir die krag wat sy ontvang na die eis van elke dag. Toe het sy vas aan die slaap geraak … ’n vermoeide mens sonder gewetenswroeging.

      Ure later eers doof die ligte van die groot huis in Sandton uit … en man en vrou lê slapeloos langs mekaar. Sy wonder of sy die saak van ’n kind weer moet aanroer … of dan die saak van deeltydse modelleerwerk … en of sy maar net van dag tot dag moet aanploeter soos nou. Hy lê wakker met ’n verstand wat net met syfers besig is … en meer syfers … en groter syfers. Hy raak eindelik met ’n tevrede glimlag om die lippe aan die slaap en sy lê en kyk hoe die maan ’n ligbaan deur die venster oor die mat en chaise longue maak, oor die aandrok wat ongeërg daaroor neergegooi is.

       2

      So gaan ’n jaar verby waarin omstandighede in Sandton en Jan Hofmeyr nie juis verander nie.

      In een van Sandton se spogtuine lê die twee vriendinne weer langs die swembad; Alfred het pas vir hulle ’n vrugtedrankie gebring en daar wag die aand weer ’n ete by ’n vyfsterhotel. Die gesprek draai maar om dieselfde dinge as ’n jaar gelede: dieselfde onderwerpe waaroor rykmansvroue maar gesels om die dag om te kry. Klere, juwele, oorsese reise, huishulpe, haarsalonne, sosiale okkasies, skindernuus. Pat se kinders het darem ’n jaar ouer geword, die oudste een is al in die hoërskool en sy spreek nou die wens uit dat hy al in matriek is. Die Cloetes se agtste huweliksherdenking het steeds kinderloos verbygegaan, maar met een verskil: Wanya het die idee van ’n kind nou byna permanent op die agtergrond geskuif. Hoe meer sy Pat se kinders aanskou, hoe meer besef sy dat dit ’n onreg teenoor ’n kind sal wees om hom of haar in ’n lewe in te help waar daar nooit vir hom tyd sal wees nie.

      Sy waag dit nou om haar gevoelens hardop teenoor Pat uit te spreek: “Hinder dit jou nie om jou kinders aand ná aand so alleen te laat nie?”

      Pat is heel verbaas. “Nee, hoekom? Hulle is mos versorg. Hulle is doodgelukkig by Beauty. Sy is so goed soos ’n ma vir hulle.”

      Maar sy is nie hul ma nie, wil Wanya terugkap,

Скачать книгу