Tydlose liefde. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tydlose liefde - Elsa Winckler страница 1
Tydlose liefde
Elsa Winckler
Satyn
Laat die verlede volgens keus teruglek
omdat wat was jou leeftog moet verstrek.
uit “Wensrym”, Elisabeth Eybers, in die bundel Respyt. 1993. Human & Rousseau.
Vir Mia – wat kon wegstap
1
Dis skemer. Die pad strek eindeloos voor Kalinda uit. Sy kyk stip na die wit strepe op die swart teer wat gedurig langs die motor verdwyn. Sy het so vyf kilometer terug van die deurpad Bloemfontein toe afgedraai en sedertdien het sy nog geen ander motor gesien nie. Daar is ’n krapperigheid agter haar oë en haar kop voel dof. Sy leun vorentoe en stel die lugverkoeler op sy hoogste vlak. Dalk sal dit help om haar wakker te hou.
Die vlug van Toronto af was lank. Baie lank. Oorklim in Londen, toe afklim en weer opklim in Johannesburg. Lang toue, baie mense. Daar was ’n bespreking vir haar in ’n gastehuis in Kimberley, dalk moes sy maar daar oorgebly het. Maar sy wou haar uiteindelike bestemming vanaand nog bereik. Sy het die gastehuis naby Paardeberg waar sy vir die volgende paar dae gaan oorbly, gebel en laat weet sy kom al vanaand deur. Die eienares was nie daar nie, maar die vriendelike vrou wat die foon beantwoord het, het haar verseker haar kamer is gereed.
Sy is so vies vir haarself. Twee jaar gelede, toe sy van Neil geskei is en Kanada toe is, het sy die verlede hier in Suid-Afrika gelos, en sy het haarself sedertdien daarvan oortuig dat sy heeltemal oor die trauma van daardie aaklige tyd is. Maar toe sy ’n blondekopman tussen die skare op die lughawe in Johannesburg opmerk wat soos Neil lyk, was haar eerste instink om op die vlug te slaan.
Toe die Anglo-Boereoorlogstigting in Kanada, vir wie sy werk, haar vra of sy bereid is om Suid-Afrika toe te kom vir ’n opdrag, het sy nie ’n oomblik getwyfel nie. Neil se emosionele en fisieke mishandeling gedurende hulle kortstondige huwelik is immers iets van die verlede, iets waaraan sy nooit meer dink nie. Sy het selfs sy laaste boodskap wat hy op haar foon gelos het – “Ek sal jou kry. Iewers, as jy dit die minste verwag, sal ek jou kry!” – doelbewus probeer vergeet. Maar nou onthou sy weer die woorde duidelik.
Kalinda vryf teen haar slape, waar ’n hoofpyn begin klop. En nou dínk sy net sy het hom gesien, en sy reageer weer soos ’n verskrikte haas.
Môre is Maandag, en hoe gouer sy doen wat sy moet doen, hoe gouer kan sy weer ’n hele oseaan tussen haar en Suid-Afrika hê. Haar vlugbespreking terug is vir volgende Vrydag. Dit beteken sy het tien volle werksdae om die opdrag van die stigting uit te voer. Dit moet maar genoeg tyd wees.
’n Lang gaap oorval haar en sy skud haar kop in ’n poging om te ontsnap van die slaap wat haar wil-wil toevou. Sy is ten minste nou rustiger. Miskien as sy die radio aansit … Haar vingers druk die knoppies, maar daar is net ’n krakerigheid te hoor. Radio Skoonveld. Sy glimlag. Haar taal smaak bekend. Lanklaas gebruikte klanke vorm sommer so vanself in die holte van haar mond. Sy praat deesdae min Afrikaans.
Haar hande vou stewiger om die stuurwiel. Die plaas waarna sy soek, kan nie meer te ver wees nie. Daar is glo duidelike aanwysborde tot by die plaas, maar tot dusver het sy nog niks gesien nie.
Die motor se bande sing op die teer en sy begin saamneurie. Maar geleidelik begin iets pla. Sy vryf met een hand oor ’n voorarm. Sy’t hoendervleis. Dis dan nou sommer kóúd. Sy frons.
Kalinda haal haar voet van die petrolpedaal af en loer na die temperatuurmeter in die motor se instrumentepaneel. Vyftien grade Celsius. Verbaas kyk sy weer om seker te maak, en in die proses lig sy haar voet van die pedaal af. Sy sou kon sweer die temperatuur is nog laer. Maar dis tog onmoontlik. Dis Februarie. Op die Vrystaatse vlakte. Dit kan nie wees nie. Sou iets met die motor verkeerd wees? Sy moet liewer stilhou en seker maak.
Sy kyk terug na die swart teer voor haar en soek ’n geskikte plek om af te trek. Daar’s ’n lang draai in die pad en haar hande beweeg die stuurwiel liggies. En dan trap sy vinnig rem, sommer so in die middel van die pad. Reg voor haar in die pad staan ’n vrou. Kalinda se hart gee ’n sprong tot in haar keel, haar hande vou stywer om die stuurwiel, die remme skreeu en die motor ruk tot stilstand sentimeters voor die figuur in die pad.
Voordat sy nog haar asem kan terugkry, gaan die passasiersdeur oop en die vrou klim in. En saam met haar ’n amper oorweldigende sitrusgeur, soos suurlemoenskil.
Te oorbluf om iets te sê, kan Kalinda net staar. Die vrou draai na haar toe. Sy’t gehuil. Haar oë is rooi en haar hande vat en los, vat en los ’n wit kantsakdoekie.
“Are you perhaps going to Paardeberg?” vra sy, en dis asof dit nog kouer word in die motor.
Kalinda probeer praat, maar haar mond is kurkdroog. Iets is baie vreemd.
“Yes, I … Who are you?”
“We should go, I have to find him,” sê die vrou en kyk voor haar.
Kalinda se brein weier om te werk, maar haar hand skakel die motor aan en haar voet trap die versneller sodat hulle vorentoe begin beweeg. Haar hart klop teen ’n onstuimige tempo. Wie is die vrou?
Sy draai haar kop en kyk weer na haar passasier. Skrik verlam haar heeltemal. Haar hande verslap om die stuurwiel. Koue vingers vat-vat aan haar ruggraat. Sy knip haar oë en kyk weer. Daar is niemand daar nie. Net ’n wit kantsakdoekie lê op die sitplek.
Die motortjie beur gevaarlik na die kant van die pad toe. Kalinda ruk haar kop vorentoe en probeer die motor weer in die pad kry. Wat … ? Sy ry nog ’n paar meter terwyl sy probeer sin maak van wat so pas gebeur het, maar dis asof haar breinselle glad nie werk nie. Sy trap weer rem, vinnig. Die motor ruk tot stilstand. Sy sit ’n rukkie doodstil. Haar hande bewe. Sy pluk die deur oop en spring uit.
Buite is dit warm. Februariemaandwarm. Soos dit veronderstel is om te wees. Sy draai in die rondte, soek na die vrouefiguur in die skemer. Dis doodstil. En behalwe vir die doringbome, grassade en bossies, is daar niks en niemand anders sigbaar nie.
Iets kouds beweeg agter teen haar nek en sy draai vinnig om. Sien sy iets verder af in die pad beweeg, of is dit haar verbeelding? Haar hart bons onreëlmatig, haar handpalms is klam. Sy gee ’n tree vorentoe en dan sien sy haar weer. Op die volgende draai staan die vrou.
Kalinda maak haar mond oop om te roep, maar geen geluid kom uit nie. Die vrouefiguur beweeg. Nader aan haar. Kalinda gee ’n tree agtertoe. Steeds kom die vrou nader. Kalinda gee nog ’n paar treë agteruit, haar asem hortend, haar oë vasgenael op die figuur voor in die pad.
Die volgende oomblik is daar motorligte agter haar en sy hoor motorbande skree. Sy ruk om. ’n Motor pyl reg op haar af. Sy weet sy moet beweeg, maar haar voete is vasgegom aan die teer. Iets kouds beweeg oor haar, sy word eenkant toe gepluk en sy val.
Vir ’n oomblik is dit doodstil. Ontsenu, verbouereerd probeer Kalinda orent kom. Sy het op haar hande en knieë beland en oor die teer geskuur. Haar handpalms is seer en haar knieë nerfaf, maar op die oomblik is dit die minste van haar probleme.
Sy hoor ’n motordeur oopgaan en toeklap. Voetstappe kom nader. Haar keel is droog. Sy draai stadig in die rigting van die geluide terwyl sy probeer verstaan wat op aarde gebeur het.
’n Ouerige man kom nader gestap.
“Juffrou?” vra hy. “Is jy orraait?”
Kalinda