Ryker as die tempelkore. Maretha Maartens
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ryker as die tempelkore - Maretha Maartens страница 10
5.HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is [hoe lank ek sal leef]; laat my weet hoe verganklik ek is.
6.Kyk, U het my dae ’n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid [in absolute geringheid] staan elke mens daar!
Sela. [Word stil, my siel, en dink hieroor na.]
7.Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie.
Dawid vestig sy hoop op God alleen
8.En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U.
9.Red my van al my oortredinge; maak my nie ’n smaad [bespotting] van die dwaas nie.
10.Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.
11.Neem u plaag [straf] van my weg; ek vergaan vanweë die bestryding [tugtiging] van u hand.
Dawid dink na oor God
12.Tugtig U die mens met strawwe oor die ongeregtigheid, dan laat U sy skoonheid vergaan soos deur ’n mot [asof motte iets moois opvreet]; ja, elke mens is ’n asemtog!
Sela. [Word stil, my siel, en dink hieroor na.]
Dawid bid voor die dowwe spieël van Ou-Testamentiese Godsvertroue
13.Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is ’n vreemdeling by U, ’n bywoner soos al my vaders [ek mag net ’n kort rukkie hier op u eiendom wees].
14.Wend u oog van my af [kyk weg], dat ek vrolik kan word voordat ek heengaan [sterf] en daar nie meer is nie.
Psalm 39 is:
’n Besinningsplek wat elke denkende gelowige op die lewensreis bereik. Dit is nie ’n oase of gerieflike skuiling vir die nag saam met medepelgrims en ander dissipels van die Here nie. Dit is ’n Jabbok-drif, ’n plek van worsteling totdat God sy seën oor jou uitstort, soos wat die God vir wie Jakob in Genesis 32:20 ‘Ĕlôhîym noem, sy seën oor Jakob uitgespreek het.
’n Verhoudingsgesprek waarin Dawid God (soos ook in Psalms 7, 17, 26 en 31) herinner aan sy getroue wetsonderhouding. Nuwe-Testamentiese gelowiges herinner God gereeld daaraan dat hulle in Christus is. Ons bid in sy Naam, ons beroep ons op sy kruisdood. Die Ou-Testamentiese psalmskrywers herinner God aan hul verbondenheid met Hom deur hul onderhouding van sy wet.
’n Werklikheidsbesef. Soos vir elke denkende gelowige breek die tyd vir Dawid aan wanneer hy besef hoe kortstondig elke mens se lewe en hoe futiel die gewoel van die aardse bestaan is (Ps 39:5-7). Jare later het sy seun Salomo geskryf: “Soos hy [die mens wat rykdom opgaar] uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met hom kan saamneem nie […] net soos hy gekom het, so sal hy heengaan; watter voordeel het hy dan dat hy hom vermoei het vir wind?” (Pred 5:15, 16).
Ook vreugdelose, suinige, gelooflose etes is ’n futiele gewoel: “Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding en toorn” (v. 17). “All his days also he eats in darkness [cheerlessly, with no sweetness and light in them], and much sorrow and sickness and wrath are his” (Pred 5:17, Amplified Bible).
’n Geloofsbelydenis. Voordat Jesus Christus na die aarde gekom en vir ons die toegang tot die HERE geword het, het dié wat in die geloof geleef het, God in direkte gesprek of gebed as Adonai aangespreek, waardeur die gelowige hom beroep het op God se genade jeens die mens, die geringe. Abraham sê in Genesis 15:2: “Adonai YAHWEH, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is?” Dawid sê vir God: “En, nou, wat verwag ek, o Adonai?” (“And now, Adonai, what wait I for?” in die King James Version.) Die dinge wat vir die mens belangrik is, is skadubeelde wat nie vasgehou of saamgeneem kan word wanneer die mens sterf nie, besef Dawid nou. Dawid staan as skepsel voor die eienaar van die hemel en die aarde, sy eienaar. En hy sê: “My hoop is op U. U is my enigste hoop en my enigste verwagting.”
Sondebelydenis. Dawid weet wat hy wel op die aarde bymekaargemaak het: verwoestende skuld en sonde. Hy vra God om die straf wat hy verdien, van hom weg te neem.
Insig. Dawid sien die mens op aarde: ’n kuiergas van die Skepper van die aarde, ’n vreemdeling sonder permanente verblyf, ’n tydelike loseerder.
’n Gebed voor ’n dowwe spieël. Nee, Dawid weet nog nie vas en seker dat hy ná sy dood sal lewe nie. Hy het Jesus Christus nie hoor sê dat Hy die opstanding en die lewe is nie. Nee, hy weet nog nie hoe die straf van God van die sondaar afgewend en weggeneem word nie. Dawid pleit by God om weg te kyk, om sy sonde te vergewe en by hom as sondaar verby te kyk (Ps 39:14). Dawid het Jesus Christus nie as Lam van God aan die kruis gesien nie. Hy het die kyk waartoe God Hom in sy verbond met Abraham verbind het, nie beleef of gesien nie: “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen 12:2-3).
Psalm 39 eindig as gebed voor ’n dowwe spieël. Maar Dawid se hoop is op God.
Die spieël is weggeneem
Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God (Rom 5: 1-2).
Through Him also we have [our] access [entrance, introduction] by faith into this grace [state of God’s favor] in which we [firmly and safely] stand. And let us rejoice and exult in our hope of experiencing and enjoying the glory of God (Rom 5:2, Amplified Bible).
In Romeine 5:1-2 vind ek:
Besprekingsvrae |
1.Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?
2.Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?
3.Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?
4.Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe verander dit en hoekom sê jy so?
5.Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?
6.Wat wil jy vir die Here sê?
Psalm 40
Psalm 40 is ’n groot geloofspsalm wat uit twee dele bestaan wat met mekaar verweef is. In Psalm 40:1-11 vind ons al die elemente van ’n kristalhelder dank- en lofpsalm, ’n todah.
In die Ou-Testamentiese dank- en lofliedere vertel die psalmskrywer aan die geloofsgemeenskap wat God in bepaalde situasies of ten opsigte van “die vyand” (dit waarmee hy geworstel het) gedoen het. Die psalmskrywer se dankbaarheid gaan dan oor in die verheerliking van God.
Psalm 40: Welgeluksalig (gelukkig) is hy wat op die Here vertrou
Psalm 40:1-11: ’n Todah wat by aardse stryd begin en oorgaan in lofsang
1.Vir die musiekleier. ’n Psalm van Dawid.
Die