Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten страница 5

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten

Скачать книгу

maar los dit.

      “Sy kom nie saam terug nie, sy slaap Sondagaande op Harties. Hulle’t ’n huis daar … en ’n boot.”

      “Jy kuier by háár familie, maar jy bring haar nie na jou familie toe nie! Hoe oud is sy as haar ouers toelaat dat sy ’n Ruff Rider word?”

      “H’m … bietjie ouer as ek.”

      “Bietjie! Hoeveel bietjie? Is jy met ’n ouer vrou deurmekaar, Basie, ’n geskeide vrou?”

      “Nee, Antie, sy’s ongetroud. Ek moet gaan slaap, Rasmus skop my vroeg uit môreoggend.”

      Toe sien sy hy is nog nie reg om te praat oor die nuwe Ruff Rider-meisie nie. Hy sal wel kom gesels wanneer hy so voel. Hy kom altyd gesels.

      * * *

      Die loodgieter

      Sondagaand ry hy op die M5 van Honeydew af, sy venster oop. Hy skiet sy sigaretstompie uit en kyk na die paneelhorlosie: 22:42. Die pad is grafstil, selfs nie eens meer ’n taxi nie. Hy skat hy het, met veilige speling, omtrent ’n uur tyd.

      Voor hy die brug bereik, doem die donker geraamte van die ou windpomp links van die pad op. Hy lig sy voet van die petrolpedaal en luier stadig oor die regterbaan tot op die oorkantste padskouer. Hy parkeer so vyf tree van die teer af, presies oorkant die windpomp, die Saab se neus in die rigting van aankomende verkeer. Hy skakel die ligte af, klim uit en haal die leer af. Agter in die bak, in die skerp lig van die flits – wat hy ook al as skokstok gebruik het – wriemel hy sy vingers in ou werkshandskoene in en haal ’n moersleutel uit.

      Hy knip die briekgrendel van die katrol los en herlei die klavierdraad agter by die bak uit en bo deur die dakrak. In die wolklose sterrenag trek hy die draad oor die pad na die windpomp toe, die leer in sy ander hand. Hy lig met die flits en kry die merk wat hy uitgekrap het, omtrent op dieselfde hoogte as die Saab se dakrak. Hy staan op die leer, klem die U-bout met die klavierdraad om die windpomp se raam en draai die moere stewig vas. Hy lê die leer in die lang gras neer en terug by die Saab wen hy die draad met die katrol op totdat dit styf oor die pad gespan is, van die windpomp tot by die dakrak. Toe hy die eerste sterk weerstand aan die slinger begin voel, knip hy die katrol se briek vas en haal die besemsteel uit wat hy op ’n spesifieke lengte afgesaag het. Hy loer heen en weer vir aankomende ligte, en volg die klavierdraad met sy hand tot in die middel van die donker pad. Hy meet die hoogte van die draad met die besemsteel, stap terug en wen die katrol verder op. Hy herhaal die proses totdat die klavierdraad in die middel van die pad presies tot die hoogte van die besemstok gespan is. Hy knoop ’n stuk vuilwit lap om die draad teen die dakrak en wen die katrol af tot die draad weer plat oor die pad lê, ingeval ’n eensame voertuig verbykom.

      Hy loer by die kajuit in en sien dis nou 23:26. Hy bekyk die skerf van die maan en die Melkweg se sterrewolke en luister na die naggeluide, die hoe-hoe van ’n uil iewers, en ver oor die veld die geblaf van ’n hond. Dan is dit weer stil.

      Rustend met sy heup teen die Saab draai hy skielik sy kop effe skuins. Ja, hy verbeel hom nie, hy hoor ’n nuwe geluid, vaagweg in die verte. Hy luister hoe dit geleidelik harder word, en skriller, die klank aangedra deur die stil nag.

      Hy hink om na die bak en draai die katrol se slinger. Hy hou die wit lap dop wat al nader aan die dakrak beweeg, soos ’n vreemde swewende naginsek. Nou kan hy ook die ligkolletjie op die reguit stuk pad sien aankom, nog ver van die brug af, maar die geloei van die enjin is nou duideliker, beslis meer as 10 000 r.p.m., hy skat die spoed van die fiets op so 130, 140 km/h.

      Hy draai die slinger tot die lap teen die dakrak se raam is, knip die briekgrendel stewig vas en toets die draad met sy hand. Dis styf gespan soos ’n snaar en die vibrasie maak ’n sagte pieng, skaars hoorbaar bo die gehuil van die motorfiets.

      Hy klim agter die stuurwiel in en staar stip na die aankomende lig.

      Toe die fiets oor die brug kom, word hy vir ’n oomblik verblind deur die skerp koplig, maar hy kan hom die swart figuur gebuig oor die handvatsels voorstel, die dun draad oor die pad onsigbaar teen só ’n snelheid.

      Die motorfiets dawer verby, SWOESJ! deur die oop ruit.

      En die loodgieter is verbaas dat niks meer dramaties gebeur nie, dat hy niks erger hoor of voel nie, net asof ’n sterk windvlaag skielik aan die kar pluk, en weer los. Maar in die truspieël sien hy nou die ligstreep van vonke oor die teerpad soos die stert van ’n komeet, en hy hoor die aaklige geskeur en geskuur van metaal en die hoë gekerm van die enjin.

      Die helse kakofonie duur net enkele sekondes.

      Dan, asof niks gebeur het nie, is die nag weer stil, maar ’n dieper stilte.

      Hy klim uit en snuif-snuif in die naglug. Steeds met die handskoene aan stap hy tot by die windpomp en draai die klembout los. Hy gaan wen die katrol agter in die bak op en maak die leer op die dakrak vas.

      Hy gaan lig met die flits op die teerpad waar die draad gespan was. Geen bloed nie. Hy klap die bak toe, maak ’n U-draai en bly in eerste rat op die skouer van die pad.

      So twintig, dertig meter verder val die flou kopligte op die eerste teken van iets wat gebeur het: ’n valhelm in die middel van die pad.

      Hy stop, klim uit en gaan staan by die helm, bestudeer dit in die skerp lig van sy flits. Hier is wel ’n poel bloed. Hy buk en haak sy vingers om die kenband van die helm, lig dit bakarm op sodat die bloed nie op hom drup nie. Dis verbasend swaar. Hy stap hinkend terug, maak die luikrug oop en sit die helm in die bak op ou olielappe neer. Hy stut dit met sy gereedskapkis sodat dit nie kan rondrol nie.

      Hy kruie aan tot sy ligte op ’n figuur soos ’n winkelpop in swart klere op die teerpad val, die arms en bene in onnatuurlike posisies verbuig. En koploos. Dié slag sien hy baie bloed, seker van die hart wat nog gepomp het nadat die nekare reeds afgesny was.

      Hy kry ’n stewel beet en sleep die liggaam van die pad af tot in ’n sloot. Hurk met ’n sagte kreun en rits die motorfietsbaadjie oop, vroetel in die binnesakke en kry ’n beursie. Met die flitslig in sy mond geklem beskou hy die inhoud. Hy sit die beursie terug en haal ’n selfoon uit, druk dit in sy eie sak en rits die baadjie toe. Hy druk met ’n palm op ’n knie om hom orent te stoot en kreun weer toe sy kniegewrig klap. Dit voel asof ’n gloeiende vuuryster in sy knie ingedruk word.

      Hy kruie aan en kry die eerste wrakstukke waar die slingerende fiets finaal momentum verloor en oor die teer geskuur en toe ’n voor deur die padskouer die veld in geploeg het.

      Die loodgieter staan in die ligte van sy kar en adem die reuke van petrol en uitlaatgasse en warm metaal en rubber en bloed en dood in.

      Dan klim hy terug in die Saab, steek ’n sigaret aan en ry Johannesburg toe. By die BP-vulstasie op die N1 draai hy van Beyers Naudé af en koop by ’n wegneemkosplek tee in ’n kartonkoppie. Hy sit in die kar, drink sy tee en bestudeer die adreslys op die motorfietsryer se selfoon. Sy skurwe lippe vorm die name terwyl hy lees: Antie, Bakkies, Boela, Elie, Hester, Leo, Lottie, Moks, Pauline, Poppie, Rasmus, Sampie …

      Hy blaai terug na Leo en druk die nommer. Die foon lui lank voor ’n slaperige stem sê: “Hallo …” Hy hoor iets val, ’n gemompel en die stem sê weer: “Hallo? Basie? Wat de moer bel jy dié tyd van die nag?”

      Die loodgieter beëindig die oproep, sluk aan sy tee en haal die selfoon se battery en SIM-kaart uit. Hy gaan gooi die battery en leë koppie in ’n vullisdrom. Die kaart sal hy by sy huis gaan opsny.

      Net

Скачать книгу