Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die respektabele meneer Hartslief - Chris Karsten страница 6
Dan ry hy na die Helen Joseph-hospitaal in Perth, skaars tien minute weg, vir sy laaste afspraak van die nag. Sy kontak, ’n nagverpleër by ongevalle, voorsien hom van ropivakaïen, handelsnaam Naropin, in ruil vir kontant. Pynstillers oor die toonbank het aan die begin die pyn in sy knie verlig, nie meer nie. Kortisoon help, maar het erge newe-effekte. Die nagverpleër het die kortisoon vir hom gegee, toe bupivakaïen. Dié het goed gewerk, totdat die loodgieter op ’n mediese webwerf gelees het dat bupivakaïen “kardiotoksies” kan wees vir sekere pasiënte. Met sy rokery wou hy nie so ’n kans waag nie.
Die nagverpleër wou weet hoekom hy nie dokter toe gaan? Hy het gesê hy betaal die verpleër baie geld vir sterk medisyne, hy het nie ’n dokter ook nodig nie. Die verpleër sê hy dink die probleem is geskeurde kruisligamente, miskien selfs ontsteking in die kop van die femur. En dit gaan erger word.
Die Naropin spuit hy direk onder die knieskyf in die ligamente in. Net lokale verdowing soos ropivakaïen verlig die ergste pyn. Daarvoor is hy bereid om die verpleër mildelik te vergoed, veral omdat dié ook suksinielcholien aan hom verkoop – suks, noem die vent dit.
Die loodgieter gebruik nie die suks vir sy knie nie, dis vir ander mense bedoel. Dis ’n hoogs effektiewe spierverslapper; binneaars toegedien sal net 120 mg binne twintig sekondes elke spier in die liggaam verlam. Jy’s volkome by jou positiewe, maar totaal hulpeloos, het die verpleër gesê, jy kan letterlik nie jou oë knip of selfs asemhaal nie. Wat beteken sonder kunsmatige asemhaling is jy kapoet, sê die verpleër. En die verlamming kan tot vyf minute duur voor jy van die effek begin herstel.
Om iemand vir daardie lewensbelangrike vyf minute te help asemhaal, sê die verpleër, gaan koop ’n klein CPR Pocket Mask, sommer by enige apteek. Plaas dit oor die mond en neus van die pasiënt en blaas lug deur die pypie met eenrigtingklep by die longe in. Dis baie meer effektief as mond-tot-mond om iemand te help asemhaal.
Wat die loodgieter veral interesseer, naas die vinnige en potensieel dodelike werking van suks, is dat dit glo byna onmoontlik is om suks agterna in die liggaam op te spoor. Want dit metaboliseer tot molekules wat natuurlik in lewende selle voorkom, soos suksiensuur. En dis nie wat die verpleër sê nie, dis wat hy self op mediese webwerwe nagevors het.
Maandagoggend teen dagbreek kom ’n padloper ’n paar honderd meter van die brug oor die Krokodilrivier op die eerste wrakstukke af. Dan, in die gras in ’n sloot langs die pad, sien hy ’n liggaam sonder kop. Hy gil en storm terug pad toe en kry die eerste taxi van die oggend gestop, van Kromdraai af op pad stad toe. Die taxibestuurder bel die polisie op Muldersdrift. Hulle stuur twee konstabels met ’n vangwa. Die padloper wys die lyk aan die konstabels en hulle bel die moordspeurders op Krugersdorp.
Die verkeerspolisie sluit die M5 vir twee kilometer weerskante van die ongelukstoneel. ’n String polisievoertuie daag op: speurders, forensies, misdaadtoneelbestuur, honde-eenheid, video- en stilfotograaf, polisielykswa, forensiese patoloog.
Die toneel word met geel polisielint afgesper, ’n omvattende toneel van byna ’n kilometer ver, van die plek waar die eerste bloedkol op die teer gekry is tot by ’n stuk van ’n truspieël, die laaste wrakstuk in die veld. Tussenin word elke stukkie van die motorfiets, hoe klein ook al, en elke spatseltjie bloed, skuurmerk, sleepmerk op die teer en langs die teer afgeneem en afgepen en uiteindelik in bewyssakke versamel en gemerk.
Luitenant Kosile van Krugersdorp se speurtak fokus sy aandag op die koplose liggaam in die sloot, nes die nuuskierige blikke van ander polisiemanne op dié ongewone ongelukstoneel. Dis duidelik dat iemand die liggaam van die pad af gesleep het, en pas ná die ongeluk, te oordeel na die duidelike sleepmerke van swart, gestolde bloed oor die teer en oor grond en gras langs die pad. Luitenant Kosile het die padloper en taxibestuurder ondervra en hulle sweer op elke voorouerlike graf dat hulle nie aan die liggaam geraak het nie. ’n Dier kan dit ook nie wees nie, hy kry geen tand- of knaagmerke nie.
Luitenant Kosile staan en toekyk terwyl die patoloog by die liggaam doenig is, en wonder hoekom dit dan nodig was om die slagoffer van die ongeluk te onthoof, en so suiwer en glad asof deur ’n guillotine-lem. En waar is die kop? Hy hoop die span polisiemanne se soektog in die lang gras en bossies lewer die kop en valhelm op.
Die antwoorde op die volgende twee vrae – oorsaak van dood en identiteit van die slagoffer – sal hy aanstons hê, vandag nog, daarvan is hy seker. Al die ander vrae wat deur sy gedagtes maal, het te doen met motief en moordwapen en moontlike verdagtes, maar dis nie van onmiddellike belang nie. Sy eerste prioriteit is die kop, want hy glo aan ’n metodiese werkwyse. Jy begin by punt 1, en eers as jy punt 1 deeglik onder die knie het, beweeg jy aan na punt 2, en so aan en so voort. Dis hoe hy graag sy modus operandi aan sy ondergeskikte, ’n jong speursersant, verduidelik. Maar by gebrek aan ’n kop, moet hy teensinnig van sy beproefde ondersoekpatroon afwyk.
Hy suig deur sy tande en vra: “Oorsaak van dood, dokter?”
Die patoloog kyk gesteurd oor sy skouer na hom op. “Oorsaak van dood is taamlik duidelik, luitenant: hy’t sy kop verloor.”
“Wat ek bedoel … presies hóé is hy onthoof?”
“Met ’n baie skerp lem. Jy sal moet wag vir die outopsie.”
Luitenant Kosile kyk hoe die ongepoetste patoloog die leerbaadjie ooprits, binne vroetel en ’n beursie na hom uithou. “Dè. Net die beurs, geen selfoon nie.”
Luitenant Kosile maak die beursie oop en kyk na die gesig op die rybewys.
“Goed,” sê hy vir sy sersant, “nou weet ons hoe hy lyk en wie hy is. Ons kan met die Ruff Riders gaan gesels en die nag se gebeure begin rekonstrueer.”
“Ruff Riders?” vra die sersant.
Luitenant Kosile meen hy hoor leergierige bewondering in die sersant se stem en druk sy goueraambril met ’n voorvinger teen die brug van sy beswete neus terug en sê: “Eenvoudig, sersant. Soos ek altyd sê: dit het alles te doen met observasie, logiese afleidings en deduktiewe beredenering. ‘Dis my besigheid om dinge te weet wat ander nie weet nie.’ Ken jy dié aanhaling?”
“Nee, luitenant.”
“My gunsteling-aanhaling, en dit sal jou loon om dit ook te volg as jy streef na ’n suksesvolle loopbaan as speurder. Dis Sherlock Holmes, uit ‘Die avontuur van die blou karbonkel’.”
Hy lei sy sersant na die groter wrakstukke tussen die gras, en wys na die Kawasaki se verfrommelde petroltenk, die ronde plakker met die embleem van Ruff Riders oor ’n Harley steeds sigbaar.
Hy hou die rybewys na die sersant uit. “Goed, begin bel. Jy’t nou sy naam, Basjan Hartslief, en jy’t die Kawasaki se nommerplaat. Kry sy adres by Voertuigregistrasies en kry die naasbestaandes.”
Maandagmiddag in sy kantoor in Sandton lui Elie se sel. Hy