Witwatersrand. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Witwatersrand - Wilbur Smith страница 22

Witwatersrand - Wilbur Smith

Скачать книгу

vorentoe gee, hoe sy regterhand oorgehaal word soos die haan van ’n geweer en hoe dit op sy oop gesig afskiet.

      In daardie breukdeel van ’n sekonde, terwyl sy liggaam traag-traag beweeg maar sy brein soos blits werk, val die skille van ouerlike blindheid van Waite Courtney se oë en besef hy dat hy te doen het met ’n man wat hom in lengte en krag ewenaar, maar in ratsheid oortref. Hy besef ook al voordeel wat hy het, is sy ervaring in veertig jaar se vuisgevegte.

      Sean slaan. Die hou het al die krag van die eerste een. Waite weet dat hy dit nie sal oorleef as dit hom in die gesig tref nie – en tog kan hy nie roer om dit te ontwyk nie. Al wat hy kan doen, is om sy kop op sy bors te laat sak en Sean se hou bo-op sy kop te vat. Die geweld daarvan gooi hom agteruit oor die lessenaar, maar toe die hou tref, hoor hy duidelik hoe Sean se vingers kraak.

      Waite druk op die hoek van die lessenaar en sukkel op sy knieë. Hy kyk na sy seun. Sean staan vooroor gebuk van die pyn, sy gebreekte hand teen sy maag gedruk. Waite kom orent en terwyl hy die lug met diep teue insuig, voel hy sy krag terugkom.

      “Nou goed,” sê hy, “as jy wil baklei, kan ons baklei.” Hy stap om die lessenaar, stadig, met die hande gereed. Hy onderskat nie meer sy teenstander nie.

      “Ek gaan jou nou behoorlik op jou plek sit,” kondig hy aan. Sean staan regop en kyk na hom. Die pyn is duidelik op sy gesig te lees, maar daar is ook woede. Iets swel binne-in Waite toe hy dit sien.

      Hy kan veg en hy is moedig. Ons sal nou sien of hy ook ’n pak slae kan verdra, dink Waite. En terwyl hy hom stilweg verlekker, kom Waite nader. Hy hou Sean se linkerhand dop. Aan die regter steur hy hom nie, want hy weet hoe seer dit is en dat niemand ’n hand in so ’n toestand kan gebruik nie.

      Hy skiet sy eie linkervuis uit, proe daarmee, en probeer om Sean uit te lok. Sean systap die hou en beweeg binnetoe verby sy arm. Waite is wawyd oop vir Sean se regter, sy stukkende regter, die hand wat hy tog nie kan gebruik nie. Maar Sean gebruik die vuis wel; hy plant dit met al sy krag in Waite se gesig.

      Waite sien ’n warboel kleure voor hom en dan word alles swart. Hy swaai half-om, slaan neer en kom met sy skouer op die luiperdvelmat te lande. Met mat en al skuif hy oor die vloer tot in die kaggel. In die donkerte voel Waite Sean se hande op hom en hoor hy sy stem.

      “Pa! O, my Here! Pa, lewe Pa nog?”

      Dit word effens ligter voor Waite en hy sien Sean se gesig vaagweg. Die woede is weg, maar in die plek daarvan groot kommer wat aan paniek grens.

      “Pa, asseblief, Pa!”

      Waite probeer regop kom, maar hy kan nie. Sean moet hom help. Hy kniel langs Waite en hou hom vas terwyl hy lomp met sy gesig werskaf, probeer om die hare uit sy oë te vee en die deurmekaar baard reg te strook.

      “Ag, ek’s jammer, Pa! Regtig, ek’s jammer. Laat ek Pa na die stoel toe help.”

      Dan sit Waite in die stoel en vryf die kant van sy kaak. Sean hang bekommerd oor hom. Hy het skoon vergeet van sy eie hand.

      “Wat het jy probeer doen – my doodmaak?” vra Waite bedruk.

      “Ek het dit nie bedoel nie. Ek het net my humeur verloor.”

      “Ek weet,” sê Waite. “Dit het ek so pas agtergekom.”

      “Pa, omtrent Garry. Pa het mos nie nodig om met hom te praat nie, nè?”

      Waite laat sak sy hand van sy gesig en kyk ernstig na Sean.

      “Ek sal ’n ooreenkoms met jou sluit,” sê hy. “Ek sal nie met Garry praat nie, mits jy my twee dinge beloof. Die eerste is: Moet nooit weer vir my lieg nie.”

      Sean knik vinnig.

      “Twee: As enigiemand ooit weer met ’n sweep na jou slaan, beloof my jy sal hom dieselfde gee as wat jy nou vir my gegee het.”

      Sean begin glimlag en Waite gaan norserig voort. “Laat ons nou kyk na jou hand.”

      Sean hou die hand uit en Waite ondersoek dit. Hy roer die een vinger na die ander. Sean krimp ineen.

      “Seer?” vra Waite. Hy het my hiermee geslaan! dink hy. Liewe hemel, ek het darem vir myself ’n woeste entjie mens grootgemaak.

      “So effens,” antwoord Sean. Hy is weer bleek.

      “Die hand is ’n hele gemors,” sê Waite. “Jy moet liewer maar dadelik dorp toe sodat dokter Van Rooyen dit kan probeer regmaak.”

      Sean staan deur se kant toe.

      “Wag ’n bietjie!” Sean gaan staan en Waite kom moeisaam uit die stoel op. “Ek gaan saam met jou.”

      “Ek sal regkom, Pa. Bly Pa liewer hier en rus.”

      Waite steur hom nie daaraan nie en stap deur toe.

      “Regtig, Pa, ek sal alleen regkom.”

      “Ek kom saam met jou,” sê Waite hard. Dan voeg hy saggies, amper onhoorbaar by: “Ek wil saamgaan, dêmmit!”

      Hy tel sy arm op asof hy dit om Sean se skouers wil sit, maar voor dit hom raak, laat hy dit weer langs sy sy val. Saam stap hulle uit in die gang.

      15

      Met twee gespalkte vingers sukkel Sean hard om sy mes met middagete die volgende dag te hanteer. Sy eetlus makeer egter niks. Soos dit hoort, neem hy nie deel aan die gesprek nie, behalwe wanneer ’n vraag regstreeks aan hom gestel word. Hy luister met aandag terwyl sy kakebene op en af werk en sy oë van die een spreker na die ander dwaal. Hy en Garry sit eenkant van die tafel, met die ander gaste in orde van senioriteit om Waite gegroepeer.

      Stefaans Erasmus sit aan Waite se regterkant omdat hy die oudste en die rykste is. Oorkant hom sit Tim Hope-Brown, net so ryk maar tien jaar jonger, onderkant hom Gunther Niewenhuizen, Sam Tinge en Simon Rousseau. ’n Mens sou kon sê dat Waite Courtney omtrent ’n vyftig duisend morg grond en ’n half miljoen sterling daar by hom om die tafel het. Dis ses bruin mans: bruin klere, bruin skoene en groot bruin vereelte hande. Hulle gesigte is bruin en verweerd en noudat die maaltyd end se kant toe staan, is hul gebruiklike terughoudendheid weg; hulle is geneig om almal tegelyk te praat en kwaai te sweet. Dit is nie net die skuld van die dosyn bottels goeie Kaapse moselwyn wat Waite voorgesit het of die stapels kos wat hulle weggeslaan het nie, daar is nog iets. Daar is ’n soort afwagting onder hulle, ’n gretigheid wat hulle moeilik in bedwang hou.

      “Kan ek maar die bediendes roep om te kom afdek, Waite?” vra Ada van die onderpunt van die tafel af.

      “Ja, dankie, my liefste. Ons sal die koffie hier drink.”

      Hy staan op, haal ’n boks sigare uit die buffet en hou dit om die beurt vir elkeen van sy gaste. Toe die sigare gesny en die punte aan die gloei is, en elkeen terugleun in sy stoel met sy opnuutgevulde glas en koppie koffie voor hom, glip Ada uit die vertrek. Waite maak keel skoon om stilte te verkry.

      “Here.” Hulle hou hom ernstig dop. “Verlede Dinsdag het ek twee uur by die Goewerneur deurgebring. Ons het die onlangse ontwikkelings anderkant die Tugela bespreek.”

      Waite tel sy glas op en drink ’n mondjie vol wyn. Dan hou hy die glas aan sy steel tussen die vingers en rol dit heen en weer terwyl hy voortgaan.

Скачать книгу