Mede-wete. Antjie Krog
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Mede-wete - Antjie Krog страница
Mede-wete
Antjie Krog
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Mede-wete mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
die werf
1werf s.nw.
1. Grond of terrein om ’n huis. 2. Oop plek waar aan skepe gewerk word.
Uit Ndl. werf (al Mnl. in bet. 1, voor 1598 in bet. 2). Ndl. werf is ’n afleiding van die
ww. werven, oorspr. in die bet. ‘draai’, en vandaar ‘beweging maak waardeur iets ingesluit
of omhein word’, soos in die geval van ’n werf.
As ek ’n man is,
dan moet ek ook ’n plaas hê;
As ek dan ’n plaas het,
dan moet ek ook ’n vrou hê;
As ek dan ’n vrou het,
dan moet ek ook ’n kind hê;
As ek dan ’n kind het,
dan moet ek ook ’n meid hê;
fragmente: Anoniem
‘Wouf’ – dis ’n blaffie van Jafta,
opskrikkend meteens uit sy sluimer,
want dáár in die muur het die hekkie
sy piepend geluidjie laat hoor,
en ower die werf kom langsaam
’n wandelaar aan in die paadjie.
Jan F.E. Celliers
Sy vertel die winde van die dans
en nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Eugène Marais
die hele werf is vol van hom:
daar waar die ploeë blink,
daar sien ek die os-groot skadu roer
en hoor iets ysters klink.
N.P. van Wyk Louw
1.
‘ek wil ’n graf hê om van om te draai’
die lykswa kom stadig deur rypwit wintersveld
binne-in bobbel die greinhoutkis my pa se seuns
en kleinseuns sakdoek om die hand gedraai
tel die kis aan toue op en dra dit na die graf
wat drie dae lank geneem het om in ysterklip
uit te kap ’n ysige suidewind vel
deur ons gesang: Nader, naderby
my broers huil soos afgeskeurdes die dood
du skielik in almal se rûe U deurgrond
en ken my varsgeskeer val ’n skaapvag
oor die kis die dominee lees die Ou
Vertaling soos my ma beveel het
lê u hand ’n deel van wat ek is hoe ek hoort sak
in hierdie aarde van onerbarmlike klip. vir altyd weg
die hawikswese die verinnigde vereensaamde howenier
van my gebeente langs die begrip ‘Pa’ skroot berms
van die dood sy kis skuur ysterskotse verby soos
wat sy lewe was so sy dood sy verwarde
nageslag staan waar ons voel ons nie hoort nie
verduur deur geboortegrond waaraan ons vir geslagte
bloei plek kon niemand vir ons bestendig nie verwond
bly ons agter konkelend bedompig van verwyt onmede-
deelsaam trap ons water in mitologieë ’n stilte sprei
oor ons en die bruin spruitwilger-swepe swyend
in die snykoud Vrystaat skitterlig is dit asof
iets sugtends van ons uitgaan van ons
Afrikanergewete ons taalheid ons witheid
bedug driest ’n gelate gehawendheid on-
troosbaar ons onvermoë geboë word
gebid terwyl my ma se oë droog en doelgerig knip:
‘sorg dat julle hom self toegooi’ versigtig strooi my broers
’n sak riviersand oor die kis ek sien Hendrik Nakedi in
een van Pa se ou corduroybaadjies vorentoe kom
dis grond in sy eeltgewerkte hand: ‘jy los my Matjama’
fluister hy en knars dan asof hy ’n doodsduisternis
binnebars: ‘tsamaya hantle Ntate Moholo!’
swaers skoonseuns kleinseuns neefs begin toegooi
maar dis harde werk en nie een is tuis met ’n graaf
nie my broer lig sy kop om asem te skep ’n swart
man steek sy hand uit dis Kapi pa se trekkerdrywer
my broer kyk hom ’n paar sekondes aan en
oorhandig die graaf my ma se huil word hoorbaar
ons wou by hom wees toe hy van ons weggelig is
in die nanag alleen en soos altyd sonder om iets
te skeur lig soos ’n gebed ongeskonde en nederig
soos ’n veer maar terwyl hy dalk tussen voorouers
en sterrestof fyn arseer arriveer huiwer ons on-
handig in ons omgee soos altyd bedees voor sy
ságsinnigheid sy palms op ons skouers oor jare
het