Sarah du Pisanie Omnibus 10. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 10 - Sarah du Pisanie страница 16
Die kinders is soet en Sarie geniet dit terdeë om saam met hulle op die groot grasperk te baljaar. Sy het vir haar ’n sweetpak aangetrek en rits uitgelate saam met hulle rond tot elfuur, toe sy vir hulle tee en toebroodjies gaan maak.
Karltjie het ’n inkleurboek en kryt en hulle sit heerlik en ontspan op die sonstoep. Sarie sit soos ’n ware moedertjie diep in die skommelstoel en brei, terwyl die kinders op die mat speel.
“Mensig, maar dit lyk darem gesellig!”
Verskrik kyk Sarie op, vas in die oë van ’n wildvreemde man wat hulle glimlaggend vanuit die deur staan en dophou.
“Oom Anton!” Die kinders spring wild op en storm op hom af. Hy swaai eers vir Karl wild in die lug voordat hy vir Annemie opraap en hoog bokant sy kop swaai.
“Oom moet oppas, sy het laas nag haar hele bed vol opgespoeg.”
“Karltjie …” Sarie keer laggend vir ’n verdere relaas en stap met ’n uitgestrekte hand na die besoeker. “Ek is Sarie Wessels.”
“Ek is Anton Kruger, Cynthia se broer en hierdie twee se oom.”
“Kom sit, meneer Kruger, dan gaan haal ek vir u ook tee.”
“Dit sal heerlik wees, dankie.”
Toe Sarie terugkom met die tee, sit Anton gemaklik agteroor op die bank met ’n kind aan elke sy.
“Waar pas jy in die prentjie, juffrou?”
Sarie lag. “Jy sal tog nooit glo as ek jou vertel nie. Maar ek is ’n noodgeval! Mevrou Visser het siek geword en toe trek meneer Kritzinger my uit die swart keil op.”
Anton skater dit uit van die lag. “Ek wens ek kon sulke hasies uit my hoed trek.”
Anton kuier tot middagete en maak geen aanstaltes om te loop nie, sodat Sarie hom noodgedwonge vir ete moet nooi. Sy weet nie wat Hugo Kritzinger in sulke omstandighede van haar verwag nie en sy doen maar wat sy goeddink.
Ná ete gaan sit Sarie die kinders in die bed vir ’n kort middagslapie en gaan trek dan eers vir haar ’n fleurige rok aan voordat sy haar weer by Anton Kruger op die sonstoep aansluit.
Hulle gesels ’n rukkie, maar dan loer Anton op sy horlosie en staan traag op.
“Ek wil net gou besoektyd by Cynthia ’n draaitjie maak. Ek is net ’n week in die stad en wil haar maar soveel moontlik sien. My ouers is nie meer jonk nie en my ma is self siekerig – sy is so bekommerd oor Cynthia en sal graag eerstehandse nuus wil hê.”
“Ek verstaan dat sy omtrent ’n maand in die hospitaal moet bly.”
“Ja, tot dusver het alles darem baie goed afgeloop. Ek het vanoggend daar ingeloer. Die arme Paul is in ’n dwaal. Hulle tweetjies is tog vreeslik erg oor mekaar.” Anton trek sy baadjie aan en loer ondeund na Sarie. “Ek sal moet gaan, maar ek sien jou vanaand weer. Ek gaan myself nooi vir ete, so wees gewaarsku.”
“As dit van my afhang, is jy baie welkom.” Sarie lag saggies.
“Maar jy is nie seker wat Hugo sal sê nie?”
Anton lag vir die verleë trek op Sarie se gesig. “Ek ken hom self nie baie goed nie, maar hy is vir my so anders as my ou swaer, Paul.”
“Toe, jy moet nou ry, anders is jy laat.”
Sarie voel ongemaklik. Sy wil Hugo darem nie met die wildvreemde man bespreek nie.
“Tot siens. Ek sien jou vanaand. Ek gaan jou nog een aand kom steel om saam met my te gaan eet en ’n bietjie te dans.”
Sarie glimlag stralend. Dit is so lekker om met mense wat van snobisme gestroop is, te gesels. Anton is dierbaar en staan met sy twee voete baie vas op hierdie aarde. Sy wuif hom dus vrolik toe terwyl hy vinnig die trap afdraf.
Die kinders is vol energie ná hul middagslapie. Hulle wil met krag en geweld weer buite op die gras gaan speel. Sarie knip hul speletjie egter kort, want sy wil hulle nie graag blootstel aan die koue wanneer die sonnetjie begin watertrek nie.
“Kom liewer saam met my kombuis toe. Dit is lekker warm daar en ek moet nou gaan kos maak vir vanaand.”
Die kinders laat hulle maklik ompraat en klim elkeen op ’n hoë kombuisstoeltjie wat teen die tafel staan.
Sarie het vir Gladys vroeg laat loop. Die ou bietjie groente wat voorberei moet word, kan sy self skil.
Karltjie sê vir Sarie rympies op en sy lag toe hy vashaak.
“Jy moet dit liewer sing, man, dan onthou ’n mens dit baie beter.”
“ ’n Mens kan mos nie ’n rympie sing nie.”
“ ’n Mens kan!” Sarie hou tyd met die mes waarmee sy die aartappels skil. “Dis ’n trein wat loop op ’n ysterspoor. Sy klakklak kan jy van ver af hoor …”
Karltjie beskou haar skewekop en die grootogige bewondering het niks met haar mooi, soet stem te make nie.
“As ek eendag groot is, sien julle my as die man wat daardie swart perd ry …” Sarie beduie vir hom. “Kom sing saam: as ek eendag groot is, sien julle my as die man wat daardie swart perd ry …”
Karltjie sing voel-voel, maar Sarie sing met soveel oorgawe en gebare dat hy in ’n ommesientjie uit volle bors saamsing.
Annemie beskou hulle ernstig en begin dan saamsing, al verstaan sy net hier en daar ’n woord.
Sarie lag vrolik. “Ek sal eendag my kitaar by die woonstel gaan haal, dan kan ons lekker sing.”
“Ja, tannie Sarie!” Karltjie spring van opgewondenheid. “Dan dans ons ook só.” Hy swaai sy lyfie soos hy die popsangers op televisie gesien doen het en Sarie skater dit uit van die lag.
Karltjie, wat nou die woorde van die liedjie ken, is glad nie van plan om nou al op te hou nie. Sarie moet dus van die trein op die ysterspoor sing saam met die aartappels, die groenboontjies en die patats, en saam met die sous wat oor die gebraaide skaapboud kom, loop hy sakke-pakke op die ysterspoor.
“Kom ons sing ’n slag iets anders.” Sarie kyk moedeloos na Karl, wat die rympie die soveelste keer weer van voor af begin. “Wat van … e … Eendjies, eendjies stap in ’n ry?”
Die kinders is dadelik gewillig.
Sarie stoot vir Karl agter haar rug in en sit sy handjies op haar heupe.
“Vat jy nou vir boeta ook so, Annemie. Reg? Nou trap julle so!” Sy gee kort treetjies met dwarsvoete en swaaiheupe en uit volle bors sing die drie van die eendjies wat in ’n ry stap.
“Een, twee, drie, vier stap hul verby …”
Sarie se stem tril op die “vier” toe hulle ’n draai bo in die kombuis maak. “Links, regs …” Haar stem raak skielik sagter en eindig in ’n hees gefluister toe sy stadig tot stilstand kom.
Paul, Hugo en Anton staan in die kombuisdeur met stomme ongeloof op hul gesigte