Woestynwysheid. Ronell Bezuidenhout
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout страница 3
Tog wil dit nie vir my lyk asof “genoeg sports” aan mense die regte sleutel gee waarmee hulle die deur na vervuldheid kan oopsluit nie. Dit is juis waarmee ek my besig hou, nie net met die skryf van hierdie boek nie, maar in my daaglikse nadenke as ’n teoloog en ’n medereisiger op hierdie pad genaamd Lééf: die vraag oor hoe ’n lewe van heelheid en dieper welsyn dan lyk. Hoe lyk “vervuldheid”? Wat my interesseer (en ek beskou dit as my roeping) is om na te dink (en mense te begelei wat daarna vra) oor wat Johannes se woorde sou kon beteken dat Jesus gekom het om vir ons die lewe te gee, “… en dit in oorvloed”. Hoe lyk so ’n lewe? Sê nou maar net ons sou nie tevrede wees met oppervlakkigheid nie? Hoe sou ’n lewe lyk waar ons nie met slaapwandelaarstatus tevrede is nie, maar werklik wakker is om die volle lewe te ervaar?
Mense wat asemhaal maar nie werklik leef nie, is nie ’n moderne probleem nie. Gaan blaai in die Ou Testament rond. Jesaja skryf etlike kere: “Word wakker, Israel!” Elke keer met sulke groot uitroepe. Klaarblyklik was dit nie net die Jode, en later die Christene, wat met hierdie slapende-wakkerwees sukkel nie. Doer ver van die Midde-Ooste af, Indië se kant toe, min of meer in dieselfde tyd as wat Jeremia en Jesaja geleef het, sit nog ’n man en filosofeer oor mense wat halfpad leef in plaas van voluit. Volgens die Boeddha (wat die Pali-woord is vir “die een wat ontwaak het”) leef die meeste mense nie werklik nie. Wat hy rondom hom sien, is mense wat die grootste deel van hul lewe in ’n slaaptoestand deurbring. Hulle leef, ja, maar hulle is nie wakker nie.
My Boeddhisvriend verduidelik dit só aan my: “Volgens die Boeddha gaan die meeste mense deur die lewe asof in ’n droom. Hulle is in die vlees teenwoordig, maar hul gees is afwesig, onbewus van wat rondom hulle is. “Om te “ontwaak” (of, in ander woorde, soos wat volgelinge uit hierdie tradisie glo: om ’n “Boeddha” te word) is om wakker te skrik en te sien wat werklik rondom jou aangaan. En toe vertel hy vir my hierdie besondere storie juis om die punt te illustreer:
Nadat die Boeddha “wakker geword het” (met ander woorde, nadat hy die insigte gekry het wat skielik vir hom … aha … die sin van die lewe openbaar het), het ’n medereisiger hom op sy reis teëgekom. Die man was verwonderd oor die gevoel van vrede en kalmte wat hy in die Boeddha se teenwoordigheid ervaar het. Hy kon hom verkyk aan die man se stralende gesig. Hy moes eenvoudig weet: “My vriend, wat is jy? Is jy ’n bonatuurlike wese, ’n god dalk”? “Nee” antwoord die Boeddha. “Wel dan, is jy ’n wonderwerker of ’n towenaar?” Weer eens antwoord die Boeddha, “Nee.” “Is jy dan een van ons?” “Nee”. “Maar my vriend, wat is jy dan?” Die Boeddha antwoord: “Ek is wakker.”
Om die geheim van die lewe te verstaan, het duidelik iets te make met ontwaking. Net ’n eeu of wat, nadat Paulus ’n bekende liedjie van sy tyd in ’n brief vir ’n groepie Christene aanhaal: “Kom, kom, kom, Efese, word wakker julle wat slaap en staan op uit die dood,” skryf die biskop van Lyon, Irenaeus, hierdie wysheid: “God word verheerlik deur iemand wat werklik leef.” Baie mense ken die woorde van Irenaeus in Engels: “The glory of God is a human fully alive”. Waarom sou Irenaeus dit gesê het? Dit is seker ’n logiese afleiding dat Irenaeus met hierdie woorde sy tydgenote wou wakker maak deur hulle te herinner dat die manier waarop hulle leef, ’n refleksie is van hoe hulle oor God dink. Dit moes sekerlik tog as ’n aanmoediging dien vir die mense van sy tyd om te verstaan dat God se verheerliking nie deur ’n “halwe lewe” kan gebeur nie, nie waar nie?
Nie net die Christene of selfs mense onder ’n Bodi-boom in Indië wonder hieroor nie. Dit is ’n menslike probleem, ongeag waar jy leef. Dalk ken jy hierdie woorde van Rumi, ’n dertiende-eeuse digter, filosoof en Soefi (’n mistiese uitdrukkingsvorm van Islam):
Waarom, as God se wêreld so groot is, het jy in ’n tronk – van alle plekke – aan die slaap geraak?
Dit is asof ’n mens die verbasing van iemand hoor wat uitroep, waarom is jy met tweede beste (of selfs derde of vierde) tevrede as jy die beste aangebied is? Hoekom is jy – dan nog boonop uit vrye keuse – ’n gevangene in ’n selfgemaakte tronk? En dít terwyl God se hele skepping tot jou beskikking is om jou lewe in uit te kan leef!
Ek wil my eie altstem by die dreunsang voeg; al helder wordende uit die vuur: Dit is nie hoe dit bedoel is om te wees nie! Ons kan nie ons vaal lewe verryk met korttermynkragtoertjies nie. Ons het nie meer “sports” nodig nie. Ons het nie méér en groter en suksesvoller nodig nie. Ons het dieper nodig!
’n Soeke na … die verlore siel
Diepte het klaarblyklik nie met dinge van buitekant af te make nie. Diepte is iets wat van binnekant af kom. Dit het met “sielsdinge” te make. Sommer op die heel eerste bladsy van die bekende werk van Thomas Moore, Care of the Soul, skryf hy: “Die groot siektetoestand van die twintigste eeu waaruit al ons probleme spruit, wat ons, nie net as individue nie, maar ook as samelewing raak, is dat ons ons siel verloor het.” Thomas Moore waarsku ons dat wanneer sielsdinge afgeskeep word, sterf dit nie maar net ’n stille dood nie. Dit is nie maar soos ’n ledemaat wat nie gebruik word nie en dan mettertyd net slap en nutteloos langs jou lyf hang nie. ’n Afgeskeepte “siel” laat haarself nie so maklik flous nie, sy manifesteer op verskeie ander plekke as simptome om te wys iets is fout: as obsessies, verslawings, geweld, en ja, ook in die gevoel van betekenisloosheid. Ek hoef jou sekerlik nie daarvan te probeer oortuig dat ons “die verlies van siel” daagliks om ons sien nie. Self hoef ek nie eens aan voorbeelde uit ander se lewe te dink nie, ek kan sommer na my eie kyk: Die idee dat my waarde deur my produktiwiteit bepaal word, verlei my om net altyd nog besiger te moet wees; die idee dat ’n besige lewe ’n vol lewe is, maak van my iemand wat geluk in dinge buite myself soek. En so sou ek kon aanhou …
Dit is nie net individue wat sielskrisisse beleef nie. Die samelewing verloor ook sy siel. Dekades gelede het die bekende teoloog Paul Tillich reeds gewaarsku dat die moderne Westerse kultuur die “gees van ’n masjien” het. ’n Masjien vra nie vrae nie, ’n masjien werk net … ritmies, dag en nag, op dieselfde manier as gister en eergister. Die masjien is nie bekommerd oor sielsdinge nie, die masjien het net een funksie: produksie. Die masjien word deur die verstand uitgedink en deur die verstand bestuur. As die masjien gister soveel produkte kon lewer, dan kan die masjien verbeter word om vandag bietjie meer uit te spoeg.
Ons is meer as masjien – met ander woorde, ons is veel meer as net dit wat ons kan doen en dink; ons is siel. Vergeet vir ’n oomblik eers die kritiese vrae oor wat is die siel nou en hoe verskil siel van gees … en al daardie tipiese vrae wat ons moderniste bedink. Wat ons wel weet, is dat daar iets in ons binneste is wat ander vrae bedink as die verstand wat die masjien uitdink. Die verstand wil oplossings kry en aanbeweeg. Voorwaarts mars, want ons kán, ons het dan die breinkrag. Die siel vra stilte en versorging. Die siel vra kwaliteittyd. Die besige verstand het juis te min daarvan. Die besige mens jaag teen die horlosie, en as jy moeite doen om jou oor teen die klok te hou, hoor jy: rand, sent, rand, sent …
’n Soeke na … nóú
In Grieks is daar twee maniere om tyd te beskryf. Chronos (waar ons woord kronologie vandaan kom) is die manier hoe ons na tyd kyk as ons dit in eenhede afmeet. Chronos-tyd moenie gemors word nie. Chronos-tyd het ’n werkslys wat afgemerk moet word voor die dag om is. Mense met hul oog op chronos-tyd moet op ’n bepaalde uur in ’n vergadering instap en behoed jou as jy laat is. ’n