Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 5 - Susanna M. Lingua страница
Susanna M Lingua
GUNSTELINGE 5
Die vurige swartkop
Nimf van die berge
Karlien
Melodie
1
Elmarie Keyser luister afgetrokke na die eentonige gefluit van haar motor se buitebande op die vaal teerpad. Sy het vyfuur vanoggend ’n telefoonoproep ontvang van ene mevrou Dorie Venter van Bloemfontein, om te sê dat haar jonger suster, Luzaan, gisteraand met dubbele longontsteking in die hospitaal opgeneem is en dat haar toestand vanoggend uiters kritiek is. Elmarie se teenwoordigheid word dringend in Bloemfontein verlang.
Na die telefoonoproep het Elmarie net haar werkgewer geskakel en hom vertel dat sy onverwyld na Bloemfontein moet gaan, en toe haastig ’n tas gepak en vertrek. Nou voel dit vir haar asof sy in haar haas iets baie belangriks vergeet het. Sy kan op die oomblik nie dink wat dit kan wees nie, want sy voel nog veels te verward oor haar enigste suster se skielike siekte.
Elmarie het reeds die Vaalrivier oorgesteek, toe dit haar meteens byval dat sy heeltemal vergeet het om Herman van Coller, die man aan wie sy al vier jaar verloof is, van haar skielike vertrek te verwittig.
Sy was een-en-twintig en Herman vier-en-twintig jaar oud toe hulle destyds verloof geraak het, en hulle sou bepaald al getrou en by Herman se ma in die huis gaan woon het as sy, soos hy, bereid was om na sy dominerende ma se pype te dans. Elmarie is egter gans te selfstandig om haar deur Matilda van Coller te laat oorheers, dus het sy volstrek geweier om met Herman te trou voordat hulle ’n eie tuiste kan bekostig. Nou spaar hulle albei en intussen stap die jare ongemerk aan, want as ’n staatsamptenaar wat ook sy ma se inkomste moet aanvul, kan hy elke maand maar min spaar.
Sy beeld duik voor Elmarie se geestesoog op – hy is middelmatig van lengte met bruin hare, grou oë en ’n skraal gesig. ’n Alledaagse gesig en niks buitengewoons nie, dink sy afgetrokke.
Haar gedagtes dwaal na haar vier-en-twintigjarige suster, Luzaan, wat sy byna ses jaar gelede laas gesien het. Hulle ouers is oorlede toe Elmarie agtien jaar oud was en Luzaan sewentien. Elmarie het reeds ’n paar maande by die ouditeursfirma Pelser en Grové in Pretoria as boekhoudster gewerk, en Luzaan was in standerd nege. Hulle ouers was nie welgesteld nie, en Elmarie het besef dat sy vir haar jonger suster sal moet sorg totdat sy matriek geslaag het en op haar eie bene kan staan.
Elmarie was van jongs af baie betroubaar en het ook oor ’n merkwaardige verantwoordelikheidsbesef beskik. Gevolglik het Luzaan, nadat sy matriek geslaag het, ’n pos in Johannesburg aanvaar om van haar suster se wakende oog af weg te kom. Luzaan het egter net ’n rukkie in Johannesburg gewerk en toe ’n pos in Bloemfontein aanvaar. Daarna het Elmarie haar nie weer gesien nie, want die meisie was gewoonlik uitstedig wanneer dit tyd geword het vir haar ousus se jaarlikse verlof. Nou lê Luzaan in die hospitaal en sal sy haar kleinsus na al die tyd weer sien.
Dit neem Elmarie gelukkig nie lank om die hospitaal in Bloemfontein te vind nie, en vyfuur die middag hou sy voor die groot gebou stil. ’n Vriendelike, hulpvaardige verpleegster neem haar na die vroueafdeling, en weldra staan sy langs die hoë hospitaalbed waarop haar suster bleek en met geslote oë lê. Langs die bed op ’n stoel sit ’n ouerige dame met ’n blonde krulkopseuntjie, wat Elmarie ongeveer vyf jaar oud skat, op haar skoot.
“Ek veronderstel u is Luzaan se suster, juffrou?” hoor Elmarie die vrou vriendelik en verlig vra.
“Ja, ek is Elmarie Keyser,” stel sy haarself voor.
“Ek is die weduwee Dorie Venter wat u vanoggend hierheen ontbied het. Luzaan loseer al jare by my,” vertel die vrou op gedempte toon.
Luzaan se oë gaan swaar oop. Dit is duidelik dat haar toestand kritiek is, maar sy herken haar suster dadelik en sê met groot inspanning: “Ek is so bly dat jy gekom het, Elmarie.”
Die ouer meisie soen haar suster baie teer op die voorkop en sê met ’n diepe besorgdheid: “Moet liewer nie praat nie, sussie; dit is gans te vermoeiend en uitputtend vir jou.”
Luzaan skud net haar kop stadig. “Ek moet met jou praat voordat dit dalk te laat is,” sê sy met ’n swak stem. “Daardie pragtige seuntjie op tant Dorie se skoot is my kind, ousus … my buite-egtelike kind. Ek kan nie nou alles aan jou verduidelik nie, maar ek het vir jou ’n brief geskryf; jy sal die brief tuis in my skryfblok vind. Nadat jy dit gelees het, sal jy alles verstaan. Maar nou wil ek jou ’n groot guns vra, ousus.”
“Vra maar, my sussie,” sê Elmarie sag, en probeer hard om nie te laat blyk hoe geskok sy is om te hoor dat haar suster die moeder van ’n kind is nie. “As dit vir my moontlik is, help ek jou graag … Wat wil jy hê moet ek vir jou doen, Luzaan?”
Dit duur etlike minute voordat Luzaan weer genoeg krag het om te praat. Haar stem is byna net ’n fluistering toe sy eindelik vra: “As die ergste met my gebeur, ousus, sal jy klein Mark asseblief in jou sorg neem, hom grootmaak en na hom kyk soos jy na my gekyk het na ons ouers se dood?”
Trane brand agter Elmarie se oë toe sy haar suster se hande in hare neem en met ’n teer stem sê: “My ou sussie, jy moenie so negatief dink nie. Jy is so mooi, jonk en sterk, jy gaan nog ’n rype ouderdom bereik. Maar as dit is wat jy verlang, belowe ek om klein Mark soos ’n eie seun groot te maak as iets met jou gebeur. En nou moet jy probeer slaap en rus, sodat jy gou kan herstel.”
’n Rustige trek verskyn meteens op Luzaan se gesig, maar haar stem kom uiters moeisaam toe sy weer sê: “Ek kon die brief nie voltooi nie, ousus, maar dit sal alles aan jou verduidelik.” Sy is so uitgeput dat sy byna ongemerk in ’n koma verval.
Elmarie neem op ’n stoel langs die bed plaas, oorgehaal om die hele nag by haar suster te waak. Sy is egter nog besig om hierdie besluit met die ou dame te bespreek, toe Luzaan met ’n amperse snik vaarwel sê aan die kort lewe wat haar baie hartseer besorg het.
Elmarie is so verbyster oor haar suster se skielike dood dat sy op dié oomblik nie weet wat om te doen nie. Dit is tant Dorie wat die klokkie lui om ’n verpleegster na die kamer te ontbied.
Alles het die afgelope uur veels te vinnig gebeur vir Elmarie om te verwerk, maar so tussen haar hartseer en verwarring dring die besef tot haar deur dat haar suster se dood ’n groot verantwoordelikheid op haar smal skouertjies geplaas het – die versorging en opvoeding van die seuntjie met die mooi, blonde krulkoppie.
Terwyl hulle later onderweg is na tant Dorie se woning, vertel die vrou vir Elmarie dat Luzaan maar gesukkel het om kop bo water te hou. Sy het egter darem voorsorg getref indien iets met haar sou gebeur. Sy vertel ook vir Elmarie dat haar suster vyf maande voor Mark se geboorte by haar kom bly het, en hoe bitter ongelukkig Luzaan was omdat Mark se pa haar so goedsmoeds in die steek gelaat het na al sy mooi beloftes.
“Sy kon nooit die jong dokter Markus se valsheid vergeet nie,” vertel tant Dorie voorts terwyl sy kort-kort ’n traan wegvee, “en sy het ook nooit weer ’n man vertrou nie.”
“Ek kan glad nie verstaan waarom Luzaan my nie in haar vertroue geneem het nie, mevrou Venter,” sê Elmarie hartseer. “Ek kon haar las soveel ligter gemaak het, as ek maar net geweet het.”
“Luzaan het baie skuldig gevoel oor die misstap wat sy begaan het, juffrou Keyser. Sy sou u nooit oor die kind ingelig het as die noodlot haar nie daartoe gedwing het nie. Sy was baie lief vir u en het ook hoë agting vir u gekoester; daarom het dit vir haar gevoel dat sy u gefaal