Koors. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 27
Iewers ná nege in die oggend. Ek en Jacob is hoog in die berg, naby die skape. Dis hy met sy arendsoë wat die honde sien. “Nico,” fluister hy, en hy wys met sy vinger. Hulle kom oor die rant, sydelings en skelm, hulle snuif die wind. Hulle het nog nooit so helder oordag kom jag nie, hulle moet baie uitgehonger wees in dié verskriklike winter.
Ek rig die teleskoop op hulle, Jacob kyk deur ’n verkyker. “You can see,” sê hy. “They are killers.” Daar is amper dertig, hulle draf ’n moeitelose draffie, die trop naby aan mekaar, ’n klein, hoogs doeltreffende doodsoptog.
“You shoot,” fluister hy. “I’ll pass you the magazines.”
“Okay.”
Tweehonderd meter van ons af versnel die honde, want die skape is in sig. Die vee sien en ruik die honde, hulle skarrel vreesbevange. Dan begin ek skiet.
Die eerste skote is nie baie akkuraat nie. Ek is oorgretig, oorhaastig, ek laat nie genoeg ruimte vir hulle beweging toe nie.
Die skote ruk die trop eers tot stilstand. Ore regop, oë soekend na waar ons windaf lê, terwyl ek aanhou skiet. Ek fokus op die leiers. Domingo was reg, dit verwar die trop verder sodat hulle heen en weer hardloop en eindelik koers kies, weg van die geluid van die geweer.
Ek kry die laaste een net voor hy vyfhonderd meter weg is. Ek is baie trots op die skoot, dit is ’n bewegende teiken, dit is ver. Jacob spring op, hy juig, vuiste in die lug, hy slaan my op die rug, hy sê: “Incredible shot, we got the bastards, Nico, we got the bastards, every one of them!”
Ons jaag met die vierwiel om vir Pa en vir Domingo te gaan sê, om die eerste goeie nuus in ’n baie lang tyd te gaan oordra. Ons sien almal staan saamgedrom voor die Midas-vulstasie. Daar is vreugde in die lug, die meeste is besig om te help om sakke van een van ons teruggekeerde vragmotors af te laai.
“Ons hongerte is verby, dis mieliemeel,” sê iemand vir ons. “Tweeduisend sakke. Hulle het dit op ’n goederetrein anderkant Warrenton gekry.”
“Ons het amper dertig honde doodgeskiet,” sê Jacob.
“Tweeduisend sakke. En daar is dalk nog, hulle het nie al die treintrokke oopgebreek nie. Is dit nie fantasties nie?”
Ek gaan soek vir Pa om hom van die honde te vertel. Ek kry hom in die OK Value-supermark. “Pa … !” sê ek opgewonde.
Pa hou sy hand in die lug, die radio naby sy oor. Domingo se stem kraak oor die eter: “As jy ’n draai kan kom maak, hier’s fresh arrivals by die bushek.”
“Ek kom,” sê Pa. Hy probeer altyd hek toe gaan as nuwe mense aankom. Hy ry met die Cannondale Scalpel Black Inc. Nero Dlamini het die duur fiets geskenk as Amanzi se “ampsmotor”, vir uitsluitlike gebruik van die Voorsitter – om brandstof te bespaar en oral sigbaar te wees. Pa hou baie van die idee, hy glo as leier moet hy nederig bly, net een van die mense wees.
Ek en Jacob is agterna met die vierwiel.
Dit is Birdie wat by die hek aankom. Birdie en Lizette Schoeman.
29
Cairistine Canary
Dis daai blêddie Domingo wat my kom staan en Birdie noem het. Ek is Cairistine gedoop, en dis wat mense my genoem het, in die ou dae. Ek weet nie hoekom almal nou hier so hulle mond vol het oor die “Canary” nie, daar was baie Canary’s voor Die Koors. Ek gaan nie baie oor Die Koors self praat nie, ek hoop dis okay. Dit maak nog te seer, al is dit nou al ’n paar jaar gelede. My ma … I just don’t want to go there.
Ek kom uit die Newtown uit, op Calvinia. Ek was besig met my masters in High Energy Physics by UCT toe Die Koors kom. Ek het vroeg al gesien dis ’n lelike ding, ek is weg uit die Kaap voor die groot gemors gebeur het, ek is met die taxi’s huis toe, want ek was baie worried oor my ma. By Clanwilliam, toe het hulle daai dam se sluise oopgemaak, hulle was glo bang daar’s niemand oor om dit te doen nie. That was a sight to behold.
Ek het alles van Calvinia af gesien gebeur. Ek het al my familie en my vriende verloor, in die hele dorp was daar net twee survivors, ek en so ’n obese witte met die naam van Nelus Claassen wat Claassen’s Trading gehad het, ’n supermark daar op die dorp, hy was so dik van net agter die till sit en marshmallows vreet. Nou moet jy verstaan, sy winkel is die laaste een uit op die R twenty-seven, langs die Total garage, so it’s the last place I’m going to go look for food, want daar’s darem ’n hele paar ander supermarkets op Calvinia, en dis net twee survivors, daai eerste weke, voor die travelling scavengers begin kom het.
Ek het vir my ’n scootertjie gekry, ’n MotoMia wat daar by een van die garages gestaan het. Ek het met daai dingetjie rondgery, ek het vir my ’n handpompie gemaak wat in ’n backpack gepas het, vir die petrol, very basic physics. En ek wou gaan kyk hoe maklik die petrol by die Total is, toe kom daai dikke Nelus Claassen daar uit sy winkel uit, en ek skrik my omtrent dood.
Ons is al twee so honger vir gesels, vir ’n ander siel, ons chat, en hy sê, kom, hier’s nog baie kos hier binne. En ek sê, thank you very much, en kry vir my ’n paar blikkies kerrievis, en hy sê dit sal vyf-en-sewentig rand wees. I kid thee not. En ek sê vir hom, jy’s darem nou lekker laf, en hy sê, maar dis my winkel se goed. En ek sê, moet ek nou da’ by die Total inloop en cash uit die till uit gaan haal en vir hom gee, jy weet, to try and point out how ludicrous he is. Sê hy vir my, nee, hy het klaar daai Total till leeggemaak, ek sal ander geld moet gaan haal. Toe lag ek maar net en ek sit sy kerrievis neer. En toe ek wou loop, toe maak hy wragtig ’n pass. Hy sê ons is soos Adam and Eve, we have no choice but to procreate, ma’ net ’n bietjie meer kras as wat ek dit nou sê. Ek was so op die punt om my te vererg, toe sien ek hoe kwaai snaaks dit is. Toe lag ek al die pad terug Newtown toe.
It was the last time I saw him. Ek wonder nogal of hy die scavengers survive het.
* * *
Cairistine “Birdie” Canary en Lizette Schoeman kom aan met ’n klein silwer Hyundai.
Birdie, die tengerige, bebrilde Birdie met die draadjies op haar tande. Ek onthou min van Birdie in daardie ontmoet-oomblikke, want ek is oorweldig deur Lizette.
Dit is wat ek later gehoor het hulle “kalwerliefde” noem. Sy staan langs Birdie en sy lyk lank en grasieus, sy is negentien jaar oud. Sy het ’n blou denim aan wat styf oor haar mooi sitvlak span, en ’n dik roomkleurige woltrui, en haar hare is baie lank teen haar rug af, okkerneut van kleur, en reguit en blinkend in die son. Haar vel is glad en foutloos en haar mond is breed en haar oë is onmoontlik groot en mooi, en ek staar na haar, sprakeloos, ek hoor niks, sien niks anders nie.
Sy kyk vir my, sy sien die intensiteit van my aandag en seker ook my bewondering. Sy glimlag met foutlose tande, dit is soos die son wat opkom. Met ’n stem vol vrolikheid en musiek sê sy vir my: “Haai daar, slaaiblaar.”
Ek bloos en kyk weg, en vir weke daarna wonder ek of dié rymende groet, dié eerste digterlike woorde van Lizette aan my, ’n belediging was of dieper betekenis het. Tot ek hoor sy groet ander mense van wie sy hou ook só. Toe voel ek effens beter.
Maar in daardie oomblikke van verliefraak gebeur ander dinge waarvan ek niks kan onthou nie. Ek hoor dit later, en dit word deel van legende.
Domingo, die dodelike Domingo, die emosielose Domingo, het sy eie knie-swikkende oomblik van liefdeswaarheid. Maar dit is nie die beeldskone Lizette