Harry Griesel 1: Operasie spookredding. Sonja Kaiblinger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger страница 7

Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger Harry Griesel

Скачать книгу

tannie Sharon te maak? Moet Otto nie liewer vir tannie Sharon wakker maak en dan hol dat hulle klein word nie? Of dalk kan hulle met die geut afgly ondertoe.

      “Toe, opskud, jou lafaard!” Vincent wriemel ongeduldig in Otto se sak. “As daai rammelende geraamte planne met jou het, breek ek elke been in sy lyf,” belowe hy.

      “Oukei, kom ons gaan kyk.” Otto weet wanneer hy verloor het en slof op sy sokkies deur toe.

      Die gang is stikdonker en Otto het nie die moed om die lig aan te skakel nie. Wat as dit die Grieselgryper se aandag trek? In plaas daarvan, loop hy voel-voel al met die muur langs tot by die trap. Gelukkig ken hy elke hoekie en draaitjie. Hy moet net versigtig wees dat die ou houttrappe nie kraak terwyl hy loop nie.

      Op die laaste trappie gaan staan Otto en loer in die sitkamer in. Die lig van die straatlamp val deur die venster en doop die glaskas in ’n vaalblou skynsel.

      Niks. Hy sien niemand. Die Grieselgryper het seker padgegee. Miskien het hy die verkeerde adres gehad.

      Net toe Otto wil omdraai, hol daar skielik ’n donker skaduwee deur een van die ligstrale. Dit gaan staan voor die staanhorlosie en begin om aan die wysers te draai, asof dit ’n kluis wil oopmaak. Otto se nekhare staan kiertsregop.

      “Jou simpel, onnosel domkop! Hier is sowaar iemand.” Vincent is skoon hees. As hy ontsteld is, skel hy al wat voorkom uit. “Hoekom de dinges het jy my oortuig om af te kom sitkamer toe?”

      “Maar dit was jy wat …” Otto hou op praat want iets vibreer teen sy bors. Daar’s g’n twyfel nie; Vincent bibber van kop tot tone. Alhoewel sy eie knieë teen mekaar klap, probeer hy koelkop bly. “Bly kalm, Vince. Ek wil die ou van naby sien.”

      “Nog nader as nou? Is jy mal?” kerm Vincent. “Wat as hy my klapperdop met sy sens afsaag?” Hy vou sy vlerke paniekerig oor sy kop. “Ek is nog té jonk vir die Oorkant. Ek is net driehonderd-ses-en-twintig jaar oud.”

      “Vincent! Het jy vergeet dat jy al aan die Oorkant was? Ek dink nie hy stel in jou belang nie,” paai Otto.

      Dit laat Vincent ’n bietjie beter voel.

      “Jy kan ontspan,” fluister Otto. “Hy gaan ons nie sien nie.” Versigtig sit hy die een voet voor die ander en loop voel-voel met die muur langs. As hy net tot agter die boekrak kan kom – hy sal beter van daar af kan sien wat … of wie in die huis rondsluip.

      Boing! Koekoek!

      Die stilte word onderbreek deur ’n oorverdowende lawaai. Die dekselse koekoekhorlosie! Vandat tannie Sharon dit reggemaak het, hang die lelike ding reg bokant Otto se kop en verkondig vol selfvertroue hoe laat dit is. Kwart oor twaalf … die geluid is so skril en hard, Emily se hardhorende ouma sal dit drie huise van daar af kan hoor.

      Otto se hart gaan staan amper. Voordat hy behoorlik weet wat aangaan, haak sy linkervoet aan tannie Sharon se Persiese tapyt vas. Hy struikel en probeer paniekerig om aan die boekrak vas te hou, maar dis te laat. Met ’n groot lawaai slaan Otto en Vincent op die blokkiesvloer neer; reg voor die Grieselgryper se voete.

      Otto se hart mis ’n slag of twee. Stadig gly sy oë oor die vreemdeling se swart mantel, tot by die kappie wat diep oor sy gesig getrek is. In sy hand blink iets silwerigs en skerps in die straatlig.

      Die sens. O, gonna! Die spoke is toe al die tyd reg. Voor hom staan die Dood in lewende lywe. Hy lyk baie grieselrig. Net die vernielde paar tekkies wat hy aanhet pas nie by die prentjie nie.

      Die wese het intussen ook agtergekom dat hy nie alleen is nie. Voordat Otto iets kan doen, los die vreemdeling die staanhorlosie en buig af na hom toe. Baie stadig haal hy die mantel se kappie af.

      Otto skrik hom boeglam en kyk met groot oë na die gedoente. In plaas van ’n menslike kop, sit daar ’n wit kopbeen op die ding se nek. Oë sonder ooglede staar uit donker holtes na Otto. Hy sou verkies het om weg te hol, maar hy staan vasgenael op een plek.

      Net toe seil Vincent doodsveragtend van die kandelaar af en duik holderstebolder op die geraamte af. “Hou jou pote van Otto af, jou ratelende geraamte!” dreig hy en vlieg soos ’n wafferse wilde flap al om die Grieselgryper se kopbeen. “Jy gaan hom nie in een van jou verdekselse argurkieglase sit nie! Jy sal eers by my moet verbykom.”

      Dis Otto se kans. Dit lyk of die vreemdeling se aandag afgelei word deur Vincent se gefladder. Hy skel en vryf steun-steun oor sy voorkop, asof hy ewe skielik ’n kwaai hoofpyn het.

      Voordat Otto kan dink hoe ’n hoofpyn moontlik is sonder ’n brein, wen sy instink om te vlug. Soos blits hol hy deur die sitkamer, maar hy kom nie ver nie.

      Die Dood is vinniger as hy. Binne ’n sekonde sny hy Otto se ontsnappingsroete af. Otto kyk paniekerig rond, maar die kaggel is agter hom. Daar is nêrens uitkomkans nie … behalwe as jy miskien Kersvader is. Of as jy kan vlieg.

      Vincent klou aan Otto se nek. “Tyd om te hol. Ons sien mekaar op die dak!” Die volgende oomblik laat los hy en vlieg deur die skoorsteen buitentoe.

      Otto skel in sy binneste. Wat vir ’n verraaier van ’n troeteldier! Hy kan duidelik nie op Vincent staatmaak nie. Hy sal die Grieselgryper alleen moet keer om nie sy of tannie Sharon se siel te steel nie.

      Die Grieselgryper het ’n entjie teruggedeins en met sy kop effens skuins gedraai kyk hy stip na Otto, asof hy ’n buitengewone dier is.

      Otto skraap al sy moed bymekaar en sê: “As jy dink jy kan iets aan my doen, vergeet dit! Ek is blakend gesond. En topfiks! Die beste sokkerspeler in die hele skool.” Oukei, dis ’n leuen, maar nou ja. Sonder om van die geraamte af weg te kyk, vat-vat Otto na die stookyster by die kaggel en hou dit beskermend voor sy bors vas. Die ding is van yster gemaak. Miskien kan hy die ou met ’n goedgemikte hou op sy kopbeen buite aksie stel. “En tannie Sharon is ’n vegetariër en gaan draf elke oggend so sesuur se kant,” voeg hy by alhoewel sy hande bewe. “Ons voel op-en-top! As jy ons uit hierdie wêreld wil help, moet jy vroeër opstaan.”

      Die wese aarsel ’n oomblik. Voordat Otto behoorlik besef wat aangaan, gee die ou oorkant hom twee vinnige treë in sy rigting en druk sy mond met ’n kaaswit, benerige hand toe. “Sjuut! Klim af van jou perdjie en hou jou mond, jongman,” sê hy met ’n stem wat heeltemal anders klink as wat Otto van ’n inbreker-geraamte verwag het. Dis hoegenaamd nie grillerig nie. Dit klink eerder soos die stem van ’n cool karakter uit ’n tekenprent. “Hou op histeries wees, of is jy ’n meisie?”

      Otto skud die benerige hand van hom af sodat hy kan antwoord. “Ek is ’n seun en my naam is Otto.”

      Die Grieselgryper skud sy kopbeen en sug. “ ’n Seun … rêrig? Nou weet ons ten minste. Luister nou baie mooi; ek moet my besigheid klaarmaak. As jou simpel tannie van jou geskree wakker word en my probeer keer, moet ek môreaand weer kom. Dink jy miskien drie aande se nagdiens in ’n ry is ’n grap? Is dit wat jy dink?”

      Otto skud sy kop sonder om ’n woord te sê.

      “Miskien kan jy jou bure hier in Radysstraat ompraat om liewer in die dag dood te gaan,” brom die Grieselgryper verder. “Dit sal ons almal wat by die SBI werk, baie help. Dalk stuur iemand nog vir jou ’n Kerskaartjie om dankie te sê.”

      “Wat … wat is die SBI?” Otto hou nog die hele tyd

Скачать книгу