Harry Griesel 1: Operasie spookredding. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger страница 8
Otto weet nie wat om te sê nie. Stomgeslaan sien hy hoe die Grieselgryper in die rigting van die deur beweeg, waar sy agurkiebottels op ’n hoop lê. Steunend tel hy die spul op en dra dit na die staanhorlosie.
“Jy kan my gerus ’n bietjie help, Ottorina.”
“Ek’s nie ’n meisiekind nie!” snork Otto verontwaardig. Die ou is duidelik nie heeltemal by nie.
“Nou ja. Dit beteken dus geen hulp nie.” Die ou sug. “Wees dan asseblief so gaaf om die horlosie se deur oop te maak sodat ek die siele betyds na die Oorkant kan vervoer. As hulle te laat kom, word dit van my salaris afgetrek. Dis baie soos ’n pizza-afleweringsdiens.”
Verward sit Otto die stookyster neer en loer in die horlosie se binnekant. Wat het die Grieselgryper gesê? Hy vervoer die agurkiebottels na die Oorkant toe? Beteken dit dat die ingang na die onderwêreld in … tannie Sharon se staanhorlosie is? Dis seker net ’n simpel grap!
“Kom jy?” hyg die Grieselgryper agter hom. “Die ding is nie juis lig nie. Dié een was seker verskriklik oorgewig toe hy dood is.” Hy kyk na die plakker op die agurkiebottel. “Dood as gevolg van lewervet. Natuurlik! Ek kan twee uit die drie keer die oorsaak van iemand se dood toe-oë raai. Dis sê nogal iets, nè?” grynslag hy in Otto se rigting.
“Um, jammer om jou teleur te stel, meneer … um … Dood, maar jy is by die verkeerde adres,” mompel Otto terwyl hy die horlosie se kas oopmaak. Die Dood sal nou self sien dat daar nie ’n pad na die Oorkant in tannie Sharon se horlosie is nie. “In hierdie horlosie is net ’n ou slinger …” sê Otto huiwerig, “. . . en ’n vervoerband?” Hy knip geïrriteerd sy oë.
Sowaar as vet! Onder die slinger loop ’n vervoerband tot diep in die muur in. Dit lyk amper soos ’n glasbottel-vervoerband in ’n supermark.
“Wel ja, die vervoerband loop nie altyd nie,” verduidelik die Grieselgryper en druk ’n agurkiebottel in Otto se hand. “Sit dit versigtig neer, dit breek maklik. Dis net as ek die kode op die syfergedeelte invoer dat mens ’n dertiende slag hoor en dan gaan die opening oop.” Sy stem word al dieper en sy oë blits. “Dan is dit al die pad ondertoe, reguit in die onderwêreld se bek in. Ha-ha-ha!”
Otto sluk swaar. “O, gonna!”
“Toemaar, ek grap net, Prinsessie.” Hy gee vir Otto nog ’n agurkiebottel aan. “Hierdie klomp is skadeloos. Hulle gaan na die Oorkant; hemel toe. Of wat jy dit ook al wil noem. Daar speel hulle brug, doen blokkiesraaisels en kyk na kletsprogramme. Dis veilig en tot sterwens toe vervelig.”
“Kletsprogramme? Jy’s seker nie ernstig nie!” Otto wonder watter kletsprogramme in die Oorkant gewys word, maar die Grieselgryper onderbreek sy gedagtes.
“Daarsy, dit is die laaste bottel. Druk die rooi knoppie vir die kwitansie en gee dit vir my.”
Otto gehoorsaam. Hy is glad nie verbaas dat daar sowaar ’n rooi knoppie bokant die vervoerband is nie.
“Nie eens honderd rand vir drie nagte se werk nie,” sug die Grieselgryper nadat hy na die kwitansie gekyk het. “Met die bietjie geld sal ek nooit ’n ander kar kan koop nie. Ek sou my morsdood vir dié een skaam as die lelike ding nie onsigbaar …” Hy bly skielik stil en sy mond hang oop van verbasing. “Hoe de ongeluk is dit moontlik dat jy my kan sien? Het jy nie beweer jy is ’n mens nie, Otto?”
“Ek het gehoop jy kan my sê,” antwoord Otto verward.
“Eienaardig. Absoluut eienaardig,” mompel die ou en skud sy kop. “Terloops, my naam is Harry Griesel. Maar almal noem my sommer Harry. Ek is al vyfhonderd-en-twintig jaar in diens van die SBI en vervoer elke dag siele deur julle ingang na die Oorkant.”
“Um … oukei.” Otto sluk swaar. “Nou … hoekom juis deur ons s’n? Is dit die enigste ingang na die Oorkant?”
“Die enigste een? Jy’s seker nie lekker nie!” antwoord Harry, maar dan kyk hy anderpad en loer verleë na sy tekkies, wat vol gate is. Die regtertekkie is rooi, die linkerkantste een blou. “Die naaste een is in Wes-Londen. So, ek hoop dis reg as ek intussen julle s’n …”
“Jy kan maar ontspan,” sug Otto. Wat op aarde besiel hom! Hy gee toestemming dat die ingang na die Oorkant in húlle huis gebruik mag word? Vyf minute gelede het hy nie eens van die ingang geweet nie!
“Duisend dankies, my dierbaarste vriendjie.” Omdat Harry geen uitdrukking op sy gesig het nie, is Otto nie seker of hy glimlag of nie. Maar dit lyk amper so. “Dis wonderlik. Ek is bevrees my ryding sal dit nie eens tot by die buitewyke van die stad maak nie.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.