Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 15
“Jy moes …” Arabel wil meer sê, maar sy arms sluit om haar en hy soen haar. Eers veersag. Vraend, soekend en voel-voel, asof hy onseker is oor haar reaksie. Dan, toe haar lippe geleidelik onder syne oopgaan en hy haar warm lyf teen syne voel reageer, maak teerheid plek vir ’n sterker emosie en word sy mond hard en dwingend, honger en eisend teen hare.
Dis hoe sy geweet het dit sal wees. Wild en wonderlik … ’n Tinteling bruis deur haar are, iets tussen vonkelwyn en ’n borrelbad. Dit word ’n waterval wat oor haar spoel. ’n Krieweling vorm in ’n kol agter haar naeltjie en haar hande gly onder sy T-hemp in, vryf oor sy klam rug en skouers, dan om na sy ribbes en plat maag bokant sy styfpassende jeans.
Sy asem jaag in sy keel en met ’n kreun skuif Henning oor haar. Hy fluister haar naam oor en oor, in haar hare, in haar nek en teen haar keel, terwyl sy bobene haar vaspen en sy hande liefkosend oor haar lyf beweeg.
Arabel weet sy moet kophou, protesteer, losruk … Maar dis salig om in sy arms te wees en sy laat haar meesleur deur sy drif en die ekstase wat sy bekende aanraking in haar wek. Haar sinne duisel en sy soen hom terug met al die verlange en opgekropte hunkering van ses eensame jare, met al die vuur en hartstog wat hy van die heel eerste dag af in haar kon wakker maak.
Sy vingers voel onder die hemp en skuif die skouerbandjie van haar top af. Dis die gevoel daarvan, meer as die passie van Henning se hande teen haar kaal vel, wat Arabel met ’n skok na haar sinne terugruk. Dis asof ’n sirene in haar ore loei en waarskuwingsliggies agter haar ooglede flikker om haar tot besinning te bring.
“Nee, moenie!” roep sy uit en beur weg. “Henning, hou op! Jy kan nie, ons is nie meer getroud nie … Vat weg jou hand!” Toe hy nie dadelik reageer nie, stoot sy hom met geweld eenkant toe.
“Bellie?” fluister hy skor. “Ons –”
“Nee, Henning!” herhaal sy skerp. “Daar is nie meer ’n ons nie. Dis oor en verby, en wat ons doen, is verkeerd!”
Sy oë is donker en troebel. “Wie sê dis verkeerd?”
“Natuurlik is dit, ons is geskei. Staan op! Die reën is verby. Ons moet by die hotel kom. Ons vlieg vanaand en ek moet gaan klaarmaak.”
Hy soen haar op die voorkop, dan oorkruis op elke wang. ’n Eksperimentele wysvinger lig die soom van haar rooi toppie op en hy buig sy kop om met sy lippe die gleufie vel tussen die top en die wit kuitbroek te soek.
“Klaarmaak? Ek sal graag wil klaarmaak wat ons begin het …” beaam hy en steek hoopvol ’n arm uit om haar weer nader te trek.
“Henning!” sê sy ferm en wriemel onder hom uit. “Jy is nie nou by die huis nie. Kom by! Jy vlieg vanaand. Jy is die kaptein, jy kan nie laat wees nie.”
Kaptein Reynecke is min gepla en rol om op sy rug. Hy grinnik lui, trek sy knieë op en rek hom uit. “Hoe laat is dit? Gaan jy nie vir my koffie en beskuit in die bed bring nie?”
“Hou op grappe maak.” Arabel kruip onder die skuit uit. “As jy nie opstaan nie, gaan ek jou net hier los en loop!”
“Waarheen loop?”
“China toe. Alaska of Papoea toe!”
“Was jy al in Papoea?” vra hy belangstellend. “Dis net bokant Australië en waar daardie blink bloupers skulpe vandaan kom. Ek sal jou eendag soontoe neem. Hulle maak die heerlikste calamari met ’n peri-peri-sous. Of hou jy deesdae meer van kreef?” Arabel ignoreer hom. Sy trek sy hemp uit, vou dit netjies op en sit dit op sy bors neer. Dan begin sy doelgerig aanstap, om uit selfverdediging so ver moontlik van hom weg te kom. Hy doen dit opsetlik, weet sy. Hy maak haar kwaad sodat hy agterna vir haar kan lag. Haar kan soen en opmaak …
Sy tel ’n stuk bamboes tussen die opdrifsels op en smyt dit die see in. “Dêmmit, Henning!” kners sy tussen haar tande deur. “Ek is nie meer ’n naïewe en onverantwoordelike tiener nie. Moenie dit aan my doen nie! Vir jou was dit net ’n speletjie om te kyk hoe ek sal reageer. ’n Uitdaging om uit te vind of ek nog iets vir jou voel. Is jy nou tevrede jy het nie jou aantrekkingskrag verloor nie? Jy kan net aan my raak en ek swig opnuut voor jou …”
Sy is dankbaar dat hy nie agter haar aankom nie. Sy is skaam vir haarself omdat sy so min selfbeheersing gehad het. Skaam om hom in die oë te kyk. Sy loop al vinniger, verby die skeepswrak en palmbome, tot die hotel in sig is. Ná die reënbui is die patio weer vol sambrele, vakansiegangers en kelners wat drankies bedien.
Dis goed en wel vir hóm. Hy is seker hoogs in sy skik. Maar wat van haar? Haar trots en selfrespek? Sy het gesê sy haat hom en wil hom nooit weer sien nie. Maar kan ’n mens iemand een oomblik haat en die volgende oomblik soos was in sy hande wees?
6
Arabel stap agterom die patio en by ’n sydeur in. Sy sien nie kans vir mense nie. Nie Tess of Martie of enige van die bemanningslede nie. In haar kamer pluk sy haar nat klere uit en bondel dit in ’n plastieksak. Sy kan dit netsowel weggooi, sy sal dit nie weer aantrek nie. Dan gaan staan sy onder die stort, met die krane vol oop. Sy sjampoe haar hare en skrop haar vel met ’n luffa, eers met kokende warm water en dan yskoud, om die gevoel van Henning se aanraking uit te wis.
Sy is klaar aangetrek, gestryk en gepak, toe ’n klop aan haar kamerdeur opklink. Arabel kyk op haar horlosie. Dis nog nie sesuur nie, die portier is vroeg.
“Bonjour!” groet sy. “C’est tôt …”
“Pardon, Madam,” antwoord hy.
Sy knip haar tas toe en sleep dit deur toe.
Dis nie die portier nie, maar Henning wat buite in die gang staan: volle uniform aan, netjies skoongeskeer en betyds. Hy neem haar tas en sit dit teen die gangmuur neer. Sy dink eers hy gaan ’n grap maak oor die misverstand, maar hy sê niks nie, hou net haar sandale na haar uit. “Jy het hulle vergeet. Gelukkig het hulle nie weggeraak nie.”
“Het jy teruggegaan om hulle te gaan haal?” Sy was so onthuts, sy het nie eens agtergekom die ellendige goed is weg nie.
“Dis niks.”
“Dankie.”
“Plesier.”
Hulle staan na mekaar en kyk, albei ongemaklik. “Ek vra om verskoning,” sê hy styf. “Ek het dit nie vooraf so beplan nie. Dis nie hoekom ek jou op die strand gaan soek het nie. Ek het kop verloor; ek weet nie wat my besiel het nie.”
Sy vee met haar gewrig oor haar mond, asof sy sodoende die gevoel van sy lippe teen hare kan uitvee. “Ek ook,” beaam sy.
“Dit was ons hormone. Of sommer uit gewoonte gewees, niks anders nie.”
“Natuurlik. Wat anders? Ons voel tog niks meer vir mekaar nie.”
“En ons is geskei. Dit sal nie weer gebeur nie, dit belowe ek jou.”
“Dis te hope!”
Tess kom in die gang verby en steek vas. “Hallo, Henning. Reg vir die Hongkong-marathon?”
“Jip. Hoe sê hulle: Liewer vlieg as roei …”
Tess