Ena Murray Keur 13. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 13 - Ena Murray страница 15
“Ek het kos bestel. Jy moet dood van die honger wees. Verskoon my net ’n oomblik, asseblief.”
Hy verlaat die vertrek en na ’n oomblik van aarseling staan Elmarie versigtig op. Sy kyk om haar rond, maar dis doodstil. Vinnig beweeg sy op haar tone na die deur waar hy verdwyn het. Saggies, baie stadig druk sy dit oop. ’n Gang strek voor haar uit, en sy is net betyds om die sleepsel van ’n kleed by een van die deure wat uit die gang draai, te sien verdwyn.
Met haar hart bonsend in haar keel glip sy geruisloos die gang af. Die deur is toe. Sy huiwer met ’n uitgestrekte hand. Sal sy nie maar omdraai nie? Maar ’n drang binne-in haar dryf haar om voort te gaan. Sy moet weet. Vir eens en vir altyd moet sy seker maak. Dan, met ’n vinnige beweging, stamp sy die deur oop en die man swaai blitsvinnig om. Hulle staar mekaar aan en sy gelaat verstil tot ’n onleesbare masker terwyl die bloed uit haar wange wegdreineer.
“Kom binne, Elmarie.”
“Dankie – Nektanebo.”
Hy antwoord nie, kyk haar net nog ’n oomblik stilswyend aan en gooi dan die los Arabiese kleed wat hy so pas uitgetrek het van hom af. Dan swaai hy van haar af weg en stap na die kas waar hy ’n sigaar uit ’n dosie haal en dit tydsaam aansteek, die juweelbelaaide kraag om sy nek flitsend in die lig van die kandelare agter hom.
“Wel?”
Elmarie weet nie presies wat sy alles kwytraak nie.
“Gaan jy altyd só geklee wanneer jy by jou oase is – soos ’n Egiptiese farao?”
“Daar was nie tyd om te verklee nie. Gelukkig vir jou het ek geen tyd verspeel nie … anders was jy nou die nuutste lid van die een of ander harem op ’n godverlate oase êrens tussen die sandduine van die woestyn.”
“Gelukkig vir my! Hoe weet ek dat dit op hierdie oase nie presies dieselfde is nie – dat ek nie die nuutste toevoeging tot ’n harem is nie?”
“Omdat ek dit sê. Ek hou geen harem hier aan nie. Ek stel nie belang in sulke goed nie.”
“Nee, jy’s reg. Ek glo jou. Jy stel net belang in ou vergane Egiptiese koninginne en dan, veral, in Egiptiese hangertjies.” Haar teleurstelling is so groot dat sy haar vrees vir hom vergeet het. ’n Kille, radelose woede laat haar liggaam bewe. “Ek was ’n gek om nie van die begin af deur die hele speletjie te kon sien nie. Jou praatjies van netnou, al jou liefkosings was gemik net op een doel: om my so ver te kry om jou te vertel waar daardie hangertjie is waarna jy en jou vriendin Farah so naarstiglik soek.”
“Elmarie, luister na my …”
“Nee, Hoessein. Nie langer nie. Laat ons van voor af begin. Daardie dag toe jy so bekommerd was dat Deon besig is om my te ontvoer, het jy al geweet wie ek is. Dis hoekom jy na die motor gekom het.”
“Jy slaan die bal mis,” antwoord hy koud. “Ek het gedink dit was jou suster en ek kon nie begryp wat aangaan nie, want sover ek geweet het, was sy dan …”
“Opgesluit in daardie donker hool, jou en jou muwwe Egiptiese mummie-koningin se gevangene,” voltooi sy sy sin. Haar stem is bitter en binne-in haar vreet die selfverwyt. As sy maar na Deon geluister het! Nee, maar toe begin sy mos soos ’n bakvissie reageer op ’n paar gefluisterde woorde van ’n donker vreemdeling. O, hoe kon sy so ’n gek van haarself gemaak het?
“Jy het dit alles mooi beplan, nie waar nie, Hoessein? Jy het besluit om my op jou verlief te maak sodat ek jou kan vertel waar daardie hangertjie is nadat jy dit nie in my kamer kon kry nie.”
“Ek het nie jou kamer deurgesnuffel nie. Ek het jou dit reeds gesê.”
“As dit nie jy was nie, wie dan?”
“Dit was … ander mense.”
Haar oë vernou.
“Trawante van jou koningin Hatsjepsoet … of sal ons haar maar by haar regte naam noem – Farah?”
Hy staan en suig aan sy sigaar en kyk stil deur die sigaarrook na haar, so koel soos ’n komkommer.
“Hoessein, waarmee is julle besig? Watse plek is dit daardie waar julle Marcelle gevange hou en rondloop soos goeters wat duisende jare oud is? Of is jy bang ek sal gaan vertel?”
’n Fyn glimlaggie breek om die harde mond.
“Nee, ek is nie daarvoor bang nie, want ek weet dat jy nooit die geleentheid sal kry nie. Ek sal jou nooit weer laat gaan nie, Elmarie. Dis ’n feit wat jy liewer moet aanvaar. Maar ek gee nie om om jou te vertel nie. Sit gerus.”
Toe sy plaasgeneem het, vervolg hy met ’n doodkalm stem: “Soos jy seker weet, word daar al baie jare opgrawings in Egipte gedoen, eintlik spesifiek in die grafte van die ou farao’s. Soos jy seker ook weet, is die piramides eintlik grafte van die farao’s. Hulle is gebou tydens die Ou Koninkryk van Egipte, omstreeks 2 700 jaar voor Christus, in die vierde dinastie van daardie tydvak. Ek sal jou nie verder vermoei met geskiedkundige feite nie. Wat eintlik van belang is, is dat hierdie praalgrafte van die ou farao’s ’n onweerstaanbare bekoring vir rowers ingehou het. Die ou Egiptenare het geglo dat die liggaam voortlewe ná die aardse dood, oftewel die ka, die gees of dubbelganger. Die ka sou dieselfde dinge nodig hê in die lewe hierna as wat hy nodig gehad het toe hy nog op aarde gelewe het. Daarom is die graftombes volgestop met alledaagse benodigdhede, kos, klere, meubels, juwele, artikels van onskatbare waarde. Daar is ook slawe lewend saam met die mummies van hul koning toegemessel sodat hulle sy ka tot diens kon wees. Die farao’s van die later tydperke het egter ouliker geraak. Hulle het gesien wat gebeur het met hul voorgangers se grafte wat so in die oog was. Toe het hulle begin om hul grafte weg te steek. Hulle het dit diep in die aarde uitgedolwe en die ingang verseël en so goed gekamoefleer dat argeoloë eers onlangs die ontdekkings in die Vallei van die Konings gedoen het, soos toe Toetankamen se graf oopgegrawe is. Dit was eintlik die eerste verseëlde graftombe van ’n farao wat ontdek is. Die ander was ook al voorheen deur rowers besoek.”
Teen haar sin word Elmarie geboei deur sy vertelling. Sy sit roerloos.
“In Egipte het daar die afgelope jare ’n kultus ontstaan, uitgeken aan die merk van die skarabee, wat bestaan uit fanatieke aanhangers van ou Egipte, sy skatte en sy tradisies. Hulle het die onmoontlike geloof dat as die beskawing van ou Egipte soos in die tydperk van die farao’s weer kan oplewe, Egipte sy verlore glorie sal herwin. Hulle glo as die ou gode – soos Amen, die hoofgod, en Ra, die songod – in ere herstel word, Egipte weer die heerser sal wees soos eeue gelede. Baie van die goed wat opgegrawe is, is uit Egipte weggeneem en pryk in ander lande se museums. Stadig maar seker word hulle deur hierdie mense teruggesteel en teruggebring na die plek van hul oorsprong. So is daar byvoorbeeld ’n kopstuk van koningin Nefertiti, vrou van Ikhnaton, wat Egipte omstreeks 1 400 jaar voor Christus geregeer het, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit Berlyn verdwyn het. Vandag kan ek jou gaan wys waar daardie kopstuk staan. Hierdie mense stuit vir niks om terug te kry wat hulle as hul eie beskou nie. Hulle het ’n geheime plek waar hulle hierdie goed versamel om die ou beskawing van Egipte weer te laat herlewe. In daardie plek staan skatte waarvan die waarde nie in geld bereken kan word nie, en daar word ook weer aan die ou gode geoffer soos duisende jare gelede. Aan die hoof van hierdie organisasie staan ’n vrou wat in haar hart daarvan oortuig is dat sy die opgestane mummie is van ’n Egiptiese koningin