Susanna M Lingua Gunstelinge 6. Susanna M Lingua
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 6 - Susanna M Lingua страница 12
’n Lang ruk staar Ronelle stil voor haar uit. Toe sê sy sag: “As señor Diago voor die saal verbyry en die orrelklanke hoor, mag hy dalk gaan kyk wie die speelster is, doma Maria, en … wel, ek wil graag ’n ontmoeting met hom vermy –”
“Onmoontlik, señorita,” val die ou dame haar met ’n goedige glimlaggie in die rede. “Geen mens kan op Braca woon en Diago vermy nie. Daardie susterskind van my besit ’n wonderlike gawe om soms oral te wees … Nee, ek vrees jy sal ’n ontmoeting met hom nie lank kan vermy nie. Hy was selfs vandag nie minder as twee maal op jou drumpel nie en ek verseker jou hy gaan dit môre drie maal doen. Ek ken Diago goed genoeg om te weet dat hy nooit ’n saak maklik gewonne gee nie. Jy het self gesien in watter bui hy hier weg is. Nou ja, laat ek jou dit vertel, señorita: Diago sal nie rus voordat hy jou gespreek het nie. En hoe langer jy hom ontwyk, hoe meer gedetermineerd gaan hy word.”
Hierdie mededeling van die ou dame laat Ronelle diep dink. En toe sy twintig minute later groet en vertrek, verkeer sy nog steeds in ’n hewige tweestryd.
4
Daardie nag slaap Ronelle bitter onrustig. Sy het die een nagmerrie na die ander en toe sy haar laat die volgende môre uit die bed lig, verwens sy die Duque hartlik omdat hy haar nou selfs in haar slaap ook steur.
Die man is onuitstaanbaar en sy sien vanmôre nog minder uit na doma Maria se voorgenome uitstappie na die saal. Sy hou nogal van die ou dame. Sy is nou wel preuts en uit die oude doos, maar sy is glad nie styf en hooghartig nie. Tog is ’n mens deurentyd bewus van haar gesag en ’n verborge, innerlike krag … ’n Merkwaardige vrou, flits dit deur Ronelle se gedagtes.
Dan haas sy haar in aller yl na die badkamer sodat sy betyds gereed kan wees vir haar afspraak met doma Maria.
Toe Ronelle eindelik aansit vir ontbyt, is dit al vyf voor tien. Derhalwe nuttig sy slegs ’n koppie koffie en ’n snytjie geroosterde brood; toe is sy gereed vir haar afspraak met die ou dame.
Op die kop kwart oor tien hou doma Maria se swart motor voor die Dekkers se woning stil. Ewe regop en belangrik sit sy agter in die voertuig, volkome in swart geklee. Ronelle, weer, is deftig uitgevat in ’n liggeel tabberd met groen bykomstighede. Met haar handsak in die een hand en ’n paar musiekboeke in die ander hand kom sy na die motor toe aangestap. Die son tower elektriese liggies uit haar glansende hare wat vanoggend in sierlike golwe en krulle om haar hoof nestel.
Die motorbestuurder hou die motordeur beleef vir haar oop. Dan klim sy in, groet die ou dame met ’n vriendelike glimlaggie en verneem belangstellend na die ouer vrou se welstand. “Met my gaan dit altyd goed, señorita,” antwoord sy opgeruimd, “en ek kan sien dat dit met jou nie anders gesteld is nie. Daardie geel tabberd pas jou besonder goed.”
Hulle gesels vrolik en opgewek en toe die motor voor die saal stilhou, het Ronelle al weer van haar nagmerries vergeet.
Soos die ou dame voorspel het, staan die saal se deure reeds wyd oop. Selfs die orrel se panele is weggeskuif en die sleutels is oopgetrek, alles net gereed vir haar om die musiek te lewer. Maar vanoggend vertolk sy slegs vier komposisies – twee van haar geliefkoosde Schumann, Händel se “Largo” en laastens “Soewenier in F” van Baker. Toe kom sy orent en neem haar handsak en musiekboeke op.
Met ’n stil en rustige gelaat draai sy om na waar die ou dame in een van die voorste banke sit. Dog die volgende oomblik verstar haar blik, want daar langs die ou dame, lank en trots, sit die adellike Duque, onweerstaanbaar aantreklik soos altyd, met ’n sweem van ’n glimlaggie om sy mond en ’n onpeilbare vonkeling in sy donker, deurdringende oë wat onverstoord na haar terugstaar.
“Bom dia, señorita,” verbreek hy die stilte met ’n vriendelike môregroet, voordat Ronelle nog ’n woord kan uitkry.
“Ja, goeiemôre, señor Duque,” groet sy koelweg en draai haar onverwyld na doma Maria. “Ons kan maar gaan as u gereed is, doma Maria.”
Die ou dame maak haar mond oop om iets te sê, maar dit is weer Diago wat die eerste woord inkry.
“Ek sal die señorita vir u veilig tuis besorg indien u nog die een en ander hier op die dorp wil afhandel, tia Maria,” bied hy ewe hulpvaardig aan, kompleet asof die señorita geen sê in die saak het nie.
Ronelle se oë blits gevaarlik op hom. Sy wil hom net vertel dat sy groot genoeg is om haarself tuis te besorg. Maar doma Maria, wat reeds die gevaarlike lig in die meisie se mooi oë opgemerk het, is eerste aan die woord.
“My liewe Diago,” glimlag sy stroopsoet, “hoe goed ken jy my tog nie al nie. Natuurlik is daar ’n paar sakies wat ek hier op die dorp wil afhandel; trouens, ek en die señorita het reeds beplan om ’n toer deur die dorp te onderneem en terselfdertyd die geleentheid te baat te neem om ’n paar inkopies te doen.”
Verligting spoel soos ’n golf deur Ronelle. Sy voel asof sy van skone blydskap die ou dame hier voor die Duque kan omhels. Haar vreugde skyn egter van korte duur te wees, want die edelman se volgende woorde tref haar soos ’n weerligstraal.
“Ek vrees julle inkopies sal moet wag tot ’n latere geleentheid, tia Maria,” verklaar hy baie ernstig. “Die goeie señor professor vertrek oor ’n uur na Johannesburg om belangrike toetse en ontledings in sy laboratorium uit te voer, derhalwe moet die señorita tuis wees om hom te groet. Daarna neem ek julle albei na my Quinta waar julle tydens die goeie professor se afwesigheid my gaste sal wees.”
’n Oomblik is Ronelle skoon lamgeslaan. Dit kan inderdaad nie nóg ’n nagmerrie wees nie. Gits, sy het mos darem vanoggend wakker geword en opgestaan!
Dis eers toe die ou dame vra hoe laat sy gereed moet wees om na die Quinta te vertrek, dat die ware toedrag van sake eindelik tot Ronelle deurdring en sy besef dat dit ’n werklikheid is en geen nagmerrie nie. Sy verbleek terstond en haar gesig is stroef en geslote.
“Sodra die señor vertrek het,” hoor sy die Duque sê. “Ek sal José met die motor stuur om u te gaan haal, tia Maria.”
“Ek vrees ek moet my vader sonder versuim spreek, doma Maria,” laat Ronelle met ’n droë keel en ’n bewerige stemmetjie hoor. “Is dit moontlik dat ons dadelik kan vertrek?”
Die ou dame knik bevestigend, glimlag en verklaar bemoedigend: “Ons vertrek nou dadelik, señorita.” Aan die Duque sê sy: “Sien jou dan later, Diago.”
Dis ’n vreemde, stil Ronelle wat nou langs doma Maria in die motor sit. Sy wil liewer nie waag om iets te sê nie, want per slot van rekening is die ou dame Diago se tante, en netnou sê sy dalk dinge wat die ouer vrou mag aanstoot gee. Derhalwe hou sy haar gedagtes vir haarself, maar binne-in haar kook dit van bittere onvergenoegdheid. Sy gaan nou dadelik inpak en saam met haar vader na Johannesburg vertrek. En as sy eers in Johannesburg is, sal Braca haar nie weer sien nie!
So sit Ronelle en planne prakseer totdat die voertuig voor haar tuiste stilhou. Sy bedank die ou dame beleef vir die uitstappie, sê tot siens en stap die huis haastig binne toe die swart motor deur die hek verdwyn.
In die huis vind sy haar vader druk besig met die verpakking van flessies en eienaardige glasbuisies. Hy groet haar met ’n breë glimlag en verklaar diep tevrede dat sy harde arbeid darem eindelik resultate begin oplewer.
“Ek hoor dat Pappie oor ’n uur Johannesburg toe vertrek?” sê-vra sy met ’n sagte stem en ’n verwytende blik.
“Nie